Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Johannes 15:13 – “Groter liefde het niemand as dit nie”

Johannes 15:13 – “Groter liefde het niemand as dit nie”

 “Niemand het groter liefde as iemand wat sy lewe vir sy vriende gee nie.” – Johannes 15:13, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” – Johannes 15:13, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Johannes 15:13

 Jesus het sy volgelinge gehelp om te verstaan dat hulle liefde so sterk moet wees dat hulle bereid sou wees om vir mekaar te sterf.

 In die vorige vers het Jesus vir sy apostels gesê: “Dít is my gebod: Julle moet mekaar liefhê net soos ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Watter soort liefde het Jesus vir hulle gehad? Dit was onselfsugtige, selfopofferende liefde. Gedurende sy aardse bediening het hy die behoeftes en belange van sy volgelinge en ander bo sy eie gestel. Hy het mense se siektes genees en hulle van God se Koninkryk geleer. a Hy het selfs nederige dinge gedoen om ander te help (Matteus 9:35; Lukas 22:27; Johannes 13:3-5). Maar in Johannes 15:13 het Jesus na ’n baie groter daad van liefde verwys. Om die waarheid te sê, net ure nadat hy hierdie woorde gespreek het, het hy daardie groot liefde gewys. Hy was bereid “om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28; 22:39). Hy het dus op ’n wonderlike manier gewys dat hy ander meer liefhet as homself.

 Jesus is lief vir mense. Maar hy is veral lief vir dié wat sy leringe volg. Hy het sy dissipels as goeie vriende beskou omdat hulle sy instruksies gehoorsaam het en by hom gedurende moeilike tye gebly het (Lukas 22:28; Johannes 15:14, 15). So hy het selfs ’n groter rede gehad om sy lewe vir hulle te gee.

 Die eerste-eeuse Christene het Jesus se woorde toegepas, en hulle was bereid om vir mekaar te sterf (1 Johannes 3:16). Ja, onselfsugtige liefde – die liefde wat Jesus gewys het – sou die belangrikste kenmerk van ware Christene word. – Johannes 13:34, 35.

Konteks van Johannes 15:13

 Hoofstuk 13 tot 17 van Johannes se Evangelie bevat die raad wat Jesus vir sy 11 getroue apostels gegee het net voordat hy gesterf het. Dit bevat ook sy laaste gebed saam met hulle. In hoofstuk 15 het Jesus ’n illustrasie gebruik om te verduidelik dat sy dissipels in eenheid met hom moet bly om te bewys dat hulle regtig sy volgelinge is. Hy vergelyk hulle met takkies aan ’n wingerdstok wat vrugte dra en hy moedig hulle aan om “baie vrugte [te] bly dra” (Johannes 15:1-5, 8). Een manier hoe hulle dit kan doen, is deur selfopofferende liefde vir ander te wys. Dit sluit in dat hulle die boodskap verkondig wat Jesus gepreek het – “die goeie nuus van die Koninkryk van God”. – Lukas 4:43; Johannes 15:10, 17.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Johannes te kry.

a God se Koninkryk is ’n regering in die hemel. God het die Koninkryk opgerig om oor die aarde te regeer en om sy wil uit te voer (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Vir meer inligting, sien die artikel “Wat is die Koninkryk van God?