Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Matteus 11:28-30 – “Kom na My toe, . . . en Ek sal julle rus gee”

Matteus 11:28-30 – “Kom na My toe, . . . en Ek sal julle rus gee”

 “Kom na my toe, almal wat uitgeput is en ’n swaar las dra, en ek sal julle nuwe krag gee. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. Want my juk is maklik om te dra, en my vrag is lig.” – Matteus 11:28-30, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” – Matteus 11:28-30, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Matteus 11:28-30

 Jesus het sy luisteraars uitgenooi om na hom toe te kom. Hy het hulle verseker dat as hulle by hom leer, hulle nuwe krag en verligting sou kry.

 “Kom na my toe, almal wat uitgeput is en ’n swaar las dra.” Dié wat Jesus uitgenooi het, het ’n swaar las gedra as gevolg van die reëls en tradisies van mense wat hulle godsdiensleiers hulle gedwing het om te volg (Matteus 23:4; Markus 7:7). Die gewone mense het ook baie bekommernisse gehad en moes hard en lank werk net om die pot aan die kook te hou.

 “Ek sal julle nuwe krag gee.” Jesus het belowe om verligting, of rus, te gee aan diegene wat sy liefdevolle uitnodiging aanvaar. Hy het dit gedoen deur hulle te help om te verstaan wat God regtig van hulle verwag het (Matteus 7:24, 25). Hierdie kennis het hulle vrygemaak sodat hulle nie meer slawe sou wees van valse idees en onderdrukkende godsdienstradisies nie (Johannes 8:31, 32). Alhoewel hulle hulleself moes inspan om Jesus se leringe te leer en toe te pas, sou hulle nuwe krag kry as hulle dit doen.

 “Neem my juk op julle en leer by my.” In Bybeltye het werkers dikwels ’n juk – ’n houtstaaf wat op die skouers geplaas is – gebruik om swaar vragte te dra. Daarom het die woord “juk” beteken dat mense die gesag en leiding van iemand anders moes volg (Levitikus 26:13; Jesaja 14:25; Jeremia 28:4). Die woorde “leer by my” kan ook vertaal word as “word my dissipels (leerders)”. So Jesus het sy luisteraars aangemoedig om sy dissipels te word deur hom te volg en sy voorbeeld na te volg. – Johannes 13:13-15; 1 Petrus 2:21.

 “Julle sal nuwe krag kry.” Jesus het nie belowe dat alle probleme dadelik tot ’n einde sou kom nie. Maar hy het sy luisteraars gehelp om vertroosting en hoop te vind (Matteus 6:25-32; 10:29-31). Die mense wat Jesus se dissipels geword het en sy leringe aanvaar het, het gesien dat dit nie swaar is om God te dien nie. Maar deur dit te doen het hulle ware tevredenheid gevind. – 1 Johannes 5:3.

 “Want my juk is maklik om te dra en my vrag is lig.” Anders as die godsdiensleiers in sy dag was Jesus nederig en saggeaard (Johannes 7:47-49). Hy was nooit wreed of onderdrukkend nie, maar hy was eerder liefdevol en toeganklik. Hy was redelik in wat hy van sy volgelinge verwag het (Matteus 7:12; Markus 6:34; Lukas 9:11). Hy het ook vir hulle gewys hoe hulle gehelp kan word deur God se genade en hoe hulle gemoedsrus sal hê as gevolg van ’n goeie gewete (Matteus 5:23, 24; 6:14). Jesus se pragtige eienskappe het nie net mense tot hom aangetrek nie, maar het hulle ook beweeg om sy juk te aanvaar wat maklik is om te dra en om sy dissipels te word.

Konteks van Matteus 11:28-30

 Jesus het die woorde in Matteus 11:28-30 gesê in die jaar 31 HJ, toe hy op ’n predikingskampanje in Galilea was. Die apostel Matteus was die enigste evangelieskrywer wat Jesus se liefdevolle uitnodiging opgeteken het. Matteus was ’n Jood en was voorheen ’n belastinggaarder, en daarom het hy uit persoonlike ondervinding geweet hoe die gewone mense onderdruk was. Hulle was nie net onderdruk as gevolg van Romeinse belasting nie, maar ook as gevolg van die korrupte Joodse godsdiensstelsel. So ons kan seker wees dat hy aangemoedig was toe hy gesien het hoe Jesus die gesag wat sy Vader, Jehovah, a vir hom gegee het, gebruik het om die nederige en onderdrukte mense te nooi om na hom toe te kom. – Matteus 11:25-27.

 Die boek Matteus beklemtoon die uitstekende eienskappe wat Jesus gewys het as die Beloofde Messias en die toekomstige heerser van God se Koninkryk. – Matteus 1:20-23; Jesaja 11:1-5.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Matteus te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?