Spring na inhoud

Is Jehovah se Getuies Sioniste?

Is Jehovah se Getuies Sioniste?

 Nee, hulle is nie. Jehovah se Getuies is Christene wat hulle opvattings op die Bybel baseer. Hoewel party godsdienste leer dat die byeenbrenging van Jode in Palestina met ’n Bybelprofesie verband hou, huldig Jehovah se Getuies nie hierdie beskouing nie. Hulle glo nie dat hierdie politieke verwikkeling spesifiek in die Bybel voorspel is nie. Trouens, die Bybel staan nie enige menseregering voor of verhef nie een etniese groep of volk bo ’n ander nie. Die Wagtoring, die amptelike tydskrif van Jehovah se Getuies, het onomwonde gesê: “Daar [is] geen skriftuurlike steun vir politieke Sionisme nie.”

 Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf Sionisme as ’n “strewe van, beweging onder die Jode om hul eie staat in Palestina te stig, en tans om hierdie staat te ontwikkel”. Dit het godsdienstige sowel as politieke wortels. Jehovah se Getuies verkondig Sionisme nie as ’n godsdienstige leerstelling nie, en hulle is heeltemal neutraal ten opsigte van politieke Sionisme.

 Die organisasie van Jehovah se Getuies is uitsluitlik godsdienstig en staan geen politieke stelsel voor nie, insluitende Sionisme. Die politieke neutraliteit van Jehovah se Getuies is goed gedokumenteer, en in party lande het die Getuies hewige vervolging verduur eerder as om hierdie neutraliteit prys te gee. Ons is oortuig dat net God se hemelse Koninkryk blywende vrede op hierdie aarde tot stand sal bring; geen menseregering of -beweging kan dit doen nie.

 ’n Basiese leerstelling van Jehovah se Getuies, ongeag waar hulle woon, is gehoorsaamheid aan die wette van sekulêre regerings. Hulle kom nie in opstand teen die regering nie en neem nie deel aan gewapende konflik nie.