Spring na inhoud

“’n Plek vir vroue in die boubedryf”

“’n Plek vir vroue in die boubedryf”

’n Gerespekteerde konstruksie-organisasie in Brittanje het Jehovah se Getuies geprys omdat hulle vroue oplei om swaar toerusting te gebruik op die bouterrein van hulle nuwe takkantoor naby Chelmsford, Essex. Die Program vir Bedagsame Bouers (CCS) a het die Getuies 10 uit 10 gegee vir hoe hulle vroue oplei en die opleiding as “vindingryk” beskryf. Hoekom sulke hoë punte?

In Brittanje is minder as 13 persent van alle konstruksiewerkers vroue. Volgens een opname deur ’n Britse maatskappy oorweeg min jong vroue dit om in die boubedryf te werk. In teenstelling hiermee is omtrent 40 persent van die span by die Chelmsford-bouterrein vroue. Wanneer dit kom by die span wat met swaar toerusting werk, styg hierdie getal tot meer as 60 persent.

Vroue werk saam met mans by Chelmsford

Wat help hierdie Getuie-vroue om dit reg te kry? Opleiding en ondersteuning speel ’n belangrike rol. Hierdie twee faktore vorm ook deel van die CCS se gebruikskode. Hierdie kode spoor bouers aan om hulle werkers te waardeer deur “’n werksplek te voorsien waar almal gerespekteer, regverdig behandel, aangemoedig en ondersteun word en waar opleiding belangrik is”.

Vroue word opgelei om swaar toerusting te gebruik

Jade, een van die vroue wat op die bouterrein opgelei is om graafmasjiene en stortbakvragmotors te gebruik, sê: “Dit is wonderlik! Ek het nooit gedink dat ek dit sou kon doen nie. Soms is die werk moeilik, maar ek word aanhoudend opgelei en ek leer nuwe dinge.” Net soos Jade, kan Lucy ook nou met swaar toerusting werk. Sy sê: “Toe ek die eerste keer by die bouterrein gekom het, het ek gevoel dat ek niks van die boubedryf weet nie. Maar vanaf my eerste dag het ek opleiding ontvang. Van toe af het ek al met vyf verskillende spanne gewerk, so ek het al baie opleiding gekry!”

’n Opleiding-sessie is aan die gang

Vroue op die span is nie net goed daarin om met die masjinerie te werk nie. ’n Voorman met die naam Eric sê: “Vroue pas gewoonlik die toerusting beter op as die mans en hulle kan dadelik agterkom as iets fout is met hulle masjien en rapporteer dit.”

Vroue in die boubedryf moet ondersteun word

Carl, wat toesig hou oor ’n paar spanne wat swaar toerusting gebruik, sê: “Ek is regtig beïndruk deur die manier waarop vroue geleer is om die masjiene te gebruik. Soms sou ek eerder een van hulle kies om te bestuur as een van die mans met jare se ondervinding!”

’n Vrou gebruik ’n masjien wat plastiekpype aanmekaarlas

Wanneer voormanne hulle werkers ondersteun, bou hulle hulle medewerkers se selfvertroue op. Dit was die geval met Therese wat baie ondervinding in die gebruik van masjinerie het. Sy weet dat wanneer dit by swaar toerusting kom, dit baie belangrik is om verantwoordelikheid te aanvaar en besluite te neem om seker te maak dat veiligheid eerste kom. Therese verduidelik: “As ek weet dat die voorman my ondersteun, kan ek baie meer doen as wat gewoonlik van my verwag word omdat ek voel dat ek vertrou word. Dit maak dit die moeite werd as ek weet dat mense my bydrae waardeer en respekteer!”

Abigail, nog ’n vrou wat opgelei is om graafmasjiene en stortbakvragmotors te gebruik, waardeer die ondersteuning en samewerking wat sy kry: “Die mans op die bouterrein behandel my nie met minder respek nie. Hulle is gereed om te help, maar hulle probeer nie om oor te neem nie. Hulle laat my toe om my werk te doen.”

Werkers wat gefokus en hardwerkend is

Vroue by Chelmsford werk nie net met verskillende soorte swaar toerusting nie, maar hulle is ook opgelei om opmetings van die terrein te doen, die bouterrein te bestuur, masjiene reg te maak en stellasies op te sit. Robert, wat al met vroue op verskeie projekte gewerk het, sê dat hulle “gefokus is, gretig is om die werk te doen en ’n oog vir detail het”. Tom, wat met landopmetings help, sê verder: “Die vroue op my span werk met akkuraatheid en is hardwerkend. Hulle wil dit presies reg doen.”

Dit is geen wonder dat Fergus, wat ’n voorman is, entoesiasties sê: “Daar is beslis ’n plek vir vroue in die boubedryf!”

a Die Program vir Bedagsame Bouers is ’n onafhanklike organisasie wat mense se beskouing van die boubedryf in Brittanje probeer verbeter.