Spring na inhoud

Vertroosting en praktiese hulp vir dié wat siek is

Vertroosting en praktiese hulp vir dié wat siek is

Mense wat ernstig siek is, kan baie maklik angstig raak, en as hulle hospitaal toe moet gaan, kan dit hulle al hoe meer laat stres. Volgens een tydskrif vir deskundiges op die gebied van gesondheidsorg, wys “studies dat dit baie voordelig vir pasiënte se gesondheid is as daar in hulle emosionele en geestelike behoeftes voorsien word”. a

Om hiermee te help, voorsien Jehovah se Getuies vertroosting uit die Bybel en praktiese hulp aan ander Getuies wat in die hospitaal is. Plaaslike ouer manne neem die inisiatief om lede van hulle gemeente wat siek is, te besoek. Maar wat as ’n Getuie-pasiënt behandeling ontvang by ’n hospitaal wat ver van hulle huis af is? In groot stede regoor die wêreld het Jehovah se Getuies Pasiëntbesoekgroepe (PBG) gereël. Die ouer manne wat deel van so ’n groep is, besoek gereeld hospitale om hulp te gee aan ander Getuie-pasiënte en hulle familielede wat van ander dele van die land, of selfs die buiteland, gekom het om mediese sorg te kry. Daar is meer as 1 900 PBG’s met meer as 28 000 vrywilligers op ses vastelande. b

Watter geestelike vertroosting gee PBG’s?

William, ’n lid van ’n PBG, sê: “Ek het al Getuies en hulle familielede wat nie Getuies is nie, vertroos deur net daar vir hulle te wees, met hulle te praat en na hulle te luister. Ek verseker hulle dat Jehovah God hulle situasie raaksien en dat hy vir hulle omgee. Pasiënte en hulle gesinne waardeer dit wanneer die broers vir hulle bid.”

Baie het al gesê hoeveel hulle die aanmoedigende besoeke van die PBG’s waardeer. Hier is ’n paar voorbeelde uit die Verenigde State, waar byna 7 000 PBG-lede pasiënte besoek.

  • Priscilla sê: “Dankie dat julle my pa in die hospitaal gaan besoek het nadat hy ’n beroerte gehad het. Hy het julle besoeke so baie waardeer! Hy was beïndruk dat so ’n reëling bestaan. Ek dink dat julle besoeke hom gehelp het om vinniger gesond te raak.”

  • Ophilia, die dogter van ’n pasiënt wat oorlede is, het vir ’n lid van die PBG gesê: “Julle besoeke het so baie vir my ma beteken! Sy het geweet dat Jehovah julle gestuur het. Dankie vir julle liefdevolle sorg.”

  • ’n Pasiënt was baie angstig nadat hy gehoor het dat hy net ’n paar dae oorgehad het om te lewe. James, ’n lid van die PBG, het tyd met hom spandeer en die Bybel se vertroostende gedagte in Filippense 4:6, 7 met hom gedeel. James sê: “Toe ek hom die volgende dag besoek het, het sy gesindheid heeltemal verander. Ten spyte van sy situasie was hy nou positief oor Jehovah se hulp en het hy my eintlik aangemoedig!”

Watter praktiese hulp voorsien die PBG’s?

Pauline, wie se man in hospitaal gesterf het wat ver van haar huis af is, het geskryf: “Baie dankie vir julle hulp tydens die moeilikste tyd waardeur ons gesin al ooit gegaan het. Net die feit dat julle in die middel van die nag na die hospitaal toe sou kom, al moes julle die volgende dag werk toe gaan, was baie vertroostend. Dankie dat julle vir die 11 van ons slaapplek gereël het en dat julle tydens die hele proses in kontak met ons gebly het. Ek dank Jehovah en sy organisasie vir die hulp wat ons gekry het wat ons so vertroos het.”

Nicki, Gayle, en Robin was in ’n karongeluk sowat 300 kilometer van hulle huis af. Carlos, ’n lid van die PBG, is daarvan in kennis gestel en het gegaan na die hospitaal waarheen hulle geneem is. Carlos sê: “Ek het aangebied om hulle met enigiets te help wat hulle sou nodig hê, en ek het op die ou end Nicki se hondjie vasgehou sodat sy binne kon gaan om mediese behandeling te kry.” Toe het Curtis, wat ook ’n lid van die PBG is, ’n paar uur later by die hospitaal aangekom. Hulle het ure lank daar by die hospitaal gebly tot die pasiënte se familielede daar aangekom het. ’n Vriend van die familie het gesê: “Al drie van hulle is vertroos deur die hulp wat hulle gekry het. Robin, Nicki se suster wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, is beïndruk deur al die hulp wat hulle van die PBG-lede gekry het.”

a “Addressing Patients’ Emotional and Spiritual Needs,” in The Joint Commission Journal on Quality and Patient Safety, Desember 2003, Volume 29, Nr. 12, bladsy 661.

b Die ouer manne wat aan ’n PBG behoort, help ook hulle plaaslike gemeentes deur as geestelike herders, onderrigters en evangeliedienaars te dien, net soos alle ander ouer manne van Jehovah se Getuies. Hulle doen dit gewillig en word nie daarvoor betaal nie. — 1 Petrus 5:2.