Spring na inhoud

Broers en susters wag langs ’n pad vir vervoer om hulle na veiligheid te neem

2 JANUARIE 2024
SOEDAN

Broers en susters gedwing om weer van die geweld in Soedan te vlug

Broers en susters gedwing om weer van die geweld in Soedan te vlug

Broers dra ’n siek medegelowige terwyl hulle uit Wad Madani vlug

Op 15 Desember 2023 het die geweld tussen twee gewapende groepe in Soedan se hoofstad, Khartoem, na die land se tweede grootste stad, Wad Madani, uitgebrei. Soos voorheen op jw.org berig is, het baie van ons broers en susters na Wad Madani, sowat 170 kilometer suidoos van die hoofstad, vir veiligheid gevlug toe die konflik in April 2023 in Khartoem begin het. Nou is meer as 150 van hierdie broers en susters gedwing om weer as gevolg van die geweld te vlug.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • Nie een van ons broers of susters is beseer of het gesterf nie

  • Ten minste 158 broers en susters moes hulle huise verlaat. Party kon veilig na stede of lande daar naby vlug

  • 10 broers en susters en ’n paar van hulle familielede wat nie Getuies is nie, bly nog in Wad Madani

Noodlenigingspogings

  • Kringopsieners en plaaslike ouermanne gee geestelike aanmoediging aan dié wat geraak is

  • Noodlenigingskomitees in Soedan en omliggende lande hou aan om noodlenigingspogings te organiseer en om praktiese hulp te voorsien, wat kos, medisyne en blyplek insluit

Die sewe wat by die byeenkoms in Wad Madani gedoop is net ’n paar dae voordat die gevegte daar begin het

Net ’n week voordat die gevegte in Wad Madani begin het, het die takkantoor in Oos-Afrika gereël dat dié wat moes vlug, na ’n Arabiese opname van die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms vir 2023 kon kyk. Onder die byna 200 mense wat dit bygewoon het, was 145 broers en susters wat as gevolg van die geweld in Khartoem gevlug het. Baie by die byeenkoms het gesê hoe dankbaar hulle is vir die tydige geestelike voedsel wat hulle gekry het. En hulle was veral aangemoedig deur die Bybeldrama “Laat jou weg aan Jehovah oor”, wat ’n situasie uitbeeld wat soortgelyk is aan wat hulle deurmaak. Sewe broers en susters is ook by die byeenkoms gedoop.

Ons bid dat ons broers en susters in Soedan sal aanhou om gedurende hierdie moeilike situasie te volhard. Ons sien ook gretig uit na die tyd wanneer Jehovah “regoor die aarde ’n einde aan oorloë” sal maak. – Psalm 46:9.