Spring na inhoud

17 SEPTEMBER 2019
VERENIGDE KONINKRYK

Konstruksieprojek van takkantoor in Brittanje word geprys

Konstruksieprojek van takkantoor in Brittanje word geprys

Daar word verwag dat die konstruksie van die takkantoor in Brittanje naby Chelmsford, Essex, in Desember 2019 klaar sal wees. Kenners erken al klaar dat hierdie bouprojek ’n goeie voorbeeld is van geboue wat die omgewing mooi maak.

Toe ons broers die eiendom in 2015 gekoop het, was dit ’n skrootwerf en ’n vullishoop waar mense ou motors, trokke en enigiets wat hulle wou, kon weggooi. Vrywilligers het baie afval en vullis opgegrawe en herwin, insluitende duisende bande waarvan party uit die Tweede Wêreldoorlog kom. Toe het hulle deur die grond gesif en selfs klein stukkies rommel en vullis verwyder. Hierdie klein stukkies is herwin of weer gebruik vir iets anders as dit moontlik was. Die oorblywende grond is weer vir die bouprojek gebruik. Meer as 11 000 broers en susters het vrywilliglik meer as vier miljoen uur gebruik om die eiendom van 34 hektaar skoon te maak.

Links: Opgeleide vrywilligers maak die eiendom in 2015 skoon; Regs: ’n Onlangse foto van die pragtige botaniese tuin

Die voltooide eiendom sal inheemse en botaniese tuine, damme, velde met wilde blomme en ’n vrugteboord insluit. Die ontwerp is nie net mooi nie. Dit gee ook ’n plek vir inheemse natuurlewe om te bly, keer dat water gemors word, beskerm ouer en groter bome en geplante heinings, vermeerder die plantlewe en maak die gebied mooi vir die mense wat in die gebied woon.

Broer Paul Rogers, ’n lid van die Bouprojekkomitee (CPC), sê: “Die eiendom wat ons gekoop het, was jare lank misbruik en afgeskeep. Die werk aan die bouterrein het begin toe ’n hele klomp vrywilligers deeglik deur die rommel gesif het. Die skoonmaak-fase is gevolg deur ’n proses waar die land gevorm is om in te pas by die natuurlike kenmerke wat reeds op die stuk land was. Honderde nuwe bome, bosse en ander plante is ook geplant. Die pragtige eindresultaat herinner ons aan die woorde in Esegiël 36:35, 36: ‘En mense sal sê: “Die verwoeste land het soos die tuin van Eden geword” . . . En die nasies . . . sal moet weet dat ek, Jehovah, opgebou het wat afgebreek was, en dat ek bome geplant het in die land wat verwoes was.’”

 

Twee susters maak ’n dammetjie skoon. Trekkers het groot stukke vullis en modder uit die damme verwyder, maar die kleiner stukkies vullis en ongewenste plante is met die hand verwyder. Meer as 8 000 nuwe waterplante is ingesit, wat maak dat die water skoner lyk

Een van die damme wat deel is van die volhoubare dreineringstelsel. Water wat opdam op die nabye pad en op die eiendom van die takkantoor loop in hierdie dam. Links op die foto is daar ’n bushalte en ’n uitkykpunt wat plaaslike inwoners die kans gee om die tuin te geniet

’n Span van drie werk saam om ’n boom op die eiendom te plant. Amper 15 000 bome, struike en ander plante is al geplant

Ses olyfbome, wat na skatting amper 100 jaar oud is, is voor die kantoorkompleks geplant

’n Foto van ’n groep susters wat in die tuin werk. Meer as 18 000 blombolle is in die woud op die eiendom geplant. Ten minste 80 persent van die plante wat vir die projek gekies is, is inheemse plante

Blomme, struike en bome netjies gerangskik by die ingang van Woongebou F