Spring na inhoud

28 DESEMBER 2022
WÊRELDNUUS

Tien jaar van JW.ORG – Deel 1

Bybelse video’s en publikasies beskikbaar in digitale formaat

Tien jaar van JW.ORG – Deel 1

Soos in ’n vorige nuusberig genoem is, was 2022 die jaar waarin Jehovah se Getuies al 25 jaar lank hulle eie amptelike webwerf het. Maar dit is tien jaar gelede, op 27 Augustus 2012, dat die herontwerpte jw.org vrygestel is. Hierdie reeks met drie dele sal kyk hoe die herontwerpte jw.org miljoene mense gehelp het.

Video’s: By streekbyeenkomste in 2012 is die eerste twee episodes van ’n nuwe reeks met die naam Word Jehovah se vriend op DVD vrygestel. Maar al hoe minder mense het DVD’s gebruik, en dit het baie duur geword om te maak. Toe die herontwerpte webwerf in 2012 aanlyn gekom het, het dit ’n baie beter manier geword om video’s te versprei. Daarom is die volgende episode van Word Jehovah se vriend met die titel Bid enige tyd in Januarie 2013 op jw.org in digitale formaat vrygestel. En in die jare daarna is meer as 40 episodes vrygestel.

Die video Waarom moet jy die Bybel studeer? was ook in 2013 in digitale formaat vrygestel. Daardie video het ’n uitstekende hulpmiddel in die bediening geword en is deel van die Gereedskapskissie vir Onderrigting. Van toe af was die verspreiding van video’s deur middel van jw.org ’n baie belangrike deel van die predikingswerk. Byvoorbeeld, gedurende ’n kampanje in Augustus 2014 om die pamflet wat jw.org adverteer, te versprei, is omtrent 15 miljoen video’s afgelaai of na gekyk.

Een broer wat gehelp het om jw.org te ontwerp, sê: “Dit was geloofversterkend om te sien hoe Jehovah ons voorberei het vir wat nog in die toekoms voorlê. Op daardie stadium het ons geen idee gehad dat ons pogings om ’n nuwe manier te voorsien om video’s te versprei, so ’n groot rol in die toekoms sou speel nie.” Byvoorbeeld, JW Broadcasting was bekend gestel in Oktober 2014, en meer as 37 miljoen video’s is daardie maand afgelaai. Toe die COVID-19-pandemie in 2020 begin het, is baie meer video’s op jw.org afgelaai of na gekyk. En sover in 2022 is ’n gemiddeld van meer as 260 miljoen video’s elke maand van jw.org afgelaai.

Digitale publikasies: In onlangse jare het baie meer lesers begin verkies om materiaal aanlyn of op ’n app te lees in plaas van in gedrukte formaat. Met die vrystelling van die herontwerpte webwerf in 2012 kon gebruikers nou die tydskrifte aanlyn lees voordat hulle die gedrukte uitgawe kry. Die werk om digitale publikasies vir die webwerf te skep, het dit ook makliker gemaak om die JW Library-app later in 2013 bekend te stel. Die app en die webwerf komplimenteer mekaar as hulpmiddele en is ’n uitstekende platform om die digitale publikasies te lees en te studeer.

Aan die begin was publikasies wat by streekbyeenkomste vrygestel is, nie op die webwerf of in die app beskikbaar nie. Dit was eers in Januarie van die volgende jaar op die webwerf of in die app beskikbaar. Maar gedurende die streekbyeenkomste in 2015 was die gehoor baie opgewonde toe hulle uitvind dat hulle onmiddellik die digitale uitgawes van die byeenkomsvrystellings kon aflaai. Dit het publikasies soos Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe, Keer terug na Jehovah en die video Wat is ware liefde? ingesluit. Die volgende jaar, in Mei 2016 gedurende die JW Broadcasting-program, het broer Anthony Morris van die Bestuursliggaam die brosjure Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra vrygestel en gesê dat dit onmiddellik afgelaai kon word. Dit was die eerste keer dat ’n publikasie vir ons broers en susters wêreldwyd op dieselfde tyd beskikbaar gemaak is.

Jehovah se organisasie het nog altyd tegnologie gebruik om die goeie nuus te versprei en om die broers wêreldwyd te ondersteun. Dit maak ons baie bly om te sien hoe die webwerf jw.org gebruik word om “voedsel op die regte tyd” te voorsien. – Matteus 24:45.

  • Video’s wat elke maand afgelaai word

  • Aantal daaglikse besoekers elke maand

  • Vrystelling van Bid enige tyd in Januarie 2013

  • Vrystelling van JW Library-app in Oktober 2013

  • Wêreldwye kampanje met die pamflet oor jw.org in Augustus 2014

  • Vrystelling van JW Broadcasting in Oktober 2014

  • Streekbyeenkomsvrystellings elektronies beskikbaar in Mei 2015

  • Wêreldwye vrystelling van Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra in Mei 2016