Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SESTIEN

Neem jou standpunt vir ware aanbidding in

Neem jou standpunt vir ware aanbidding in
  • Wat leer die Bybel oor die gebruik van beelde?

  • Hoe beskou Christene godsdienstige vakansiedae?

  • Hoe kan jy jou oortuigings aan ander verduidelik sonder om hulle aanstoot te gee?

1, 2. Watter vraag moet jy jou afvra nadat jy uit valse godsdiens uitgekom het, en waarom dink jy is dit belangrik?

SÊ NOU jy vind uit dat jou hele buurt besmet is. Iemand het in die geheim giftige afval in die omgewing gestort, en nou is die situasie lewensgevaarlik. Wat sou jy doen? Jy sou ongetwyfeld wegtrek as jy kon. Maar nadat jy dit gedoen het, sou jy nog altyd hierdie ernstige vraag moes beantwoord: ‘Is ek vergiftig?’

2 ’n Soortgelyke vraag ontstaan met betrekking tot valse godsdiens. Die Bybel leer dat sulke aanbidding met onrein leringe en gebruike besmet is (2 Korintiërs 6:17). Daarom is dit belangrik dat jy uit “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, moet uitkom (Openbaring 18:2, 4). Het jy dit gedoen? Indien wel, goed so. Maar daar is meer by betrokke as om jou net af te skei of jou bande met ’n valse godsdiens te verbreek. Daarna moet jy jou afvra: ‘Het enige spore van valse aanbidding in my oorgebly?’ Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

BEELDE EN VOOROUERAANBIDDING

3. (a) Wat sê die Bybel oor die gebruik van beelde, en waarom is dit dalk vir party mense moeilik om God se beskouing te verkry? (b) Wat moet jy met enige van jou besittings doen wat met valse aanbidding verband hou?

3 Party het jare lank beelde of altare in hulle huis gehad. Het jy? Indien wel, voel jy dalk dat dit vreemd of verkeerd is om sonder so ’n sigbare hulpmiddel tot God te bid. Jy voel moontlik selfs geheg aan party van hierdie dinge. Maar God is die een wat sê hoe hy aanbid moet word, en die Bybel leer dat hy nie wil hê dat ons beelde moet gebruik nie (Eksodus 20:4, 5; Psalm 115:4-8; Jesaja 42:8; 1 Johannes 5:21). Jy kan dus ’n standpunt vir ware aanbidding inneem deur enige van jou besittings wat met valse aanbidding verband hou, te vernietig. Jy moet beslis leer om dit te beskou soos Jehovah dit beskou—as iets “verfoeiliks”.—Deuteronomium 27:15.

4. (a) Hoe weet ons dat vooroueraanbidding tevergeefs is? (b) Waarom het Jehovah sy volk verbied om aan enige vorm van spiritisme deel te neem?

4 Vooroueraanbidding is ook algemeen in baie valse godsdienste. Voor hulle Bybelwaarheid geleer het, het party geglo dat die dooies ’n bewuste bestaan in ’n onsigbare ryk voer en dat hulle die lewendes kan help of hulle leed kan aandoen. Miskien het jy vroeër baie moeite gedoen om jou afgestorwe voorouers te paai. Maar soos jy in Hoofstuk 6 van hierdie boek geleer het, voer die dooies nêrens ’n bewuste bestaan nie. Gevolglik is pogings om met hulle te kommunikeer, nutteloos. Enige boodskappe wat skynbaar van ’n afgestorwe geliefde kom, kom in werklikheid van die demone af. Daarom het Jehovah die Israeliete verbied om met die dooies te probeer praat of aan enige ander vorm van spiritisme deel te neem.—Deuteronomium 18:10-12.

5. Wat kan jy doen as die gebruik van beelde of vooroueraanbidding in die verlede deel was van jou manier van aanbidding?

5 Wat kan jy doen as die gebruik van beelde of vooroueraanbidding deel was van jou vorige manier van aanbidding? Lees en peins oor Skrifgedeeltes wat toon hoe God hierdie dinge beskou. Bid elke dag tot Jehovah oor jou begeerte om ’n standpunt vir ware aanbidding in te neem, en vra hom om jou te help om soos hy te dink.—Jesaja 55:9.

KERSFEES—NIE DEUR DIE VROEË CHRISTENE GEVIER NIE

6, 7. (a) Wat is Kersfees veronderstel om te herdenk, en het Jesus se eerste-eeuse volgelinge dit gevier? (b) Waarmee is verjaarsdagvieringe gedurende die tyd van Jesus se vroeë dissipels geassosieer?

6 Jou aanbidding kan deur valse godsdiens besmet word wanneer dit by gewilde vakansiedae kom. Dink byvoorbeeld aan Kersfees. Kersfees is veronderstel om die geboorte van Jesus Christus te herdenk, en byna alle godsdienste wat sê dat hulle Christelik is, vier dit. Maar daar is geen bewys dat die eerste-eeuse dissipels van Jesus so ’n vakansiedag gevier het nie. Die boek Sacred Origins of Profound Things sê: “Vir twee eeue ná Christus se geboorte het niemand geweet presies wanneer hy gebore is nie en het dit vir min mense saak gemaak.”

7 Al het Jesus se dissipels presies geweet op watter datum hy gebore is, sou hulle dit nie gevier het nie. Waarom nie? Omdat die vroeë Christene, volgens The World Book Encyclopedia, “die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou het”. Die enigste verjaarsdagvieringe wat in die Bybel genoem word, is dié van twee heersers wat Jehovah nie aanbid het nie (Genesis 40:20; Markus 6:21). Verjaarsdagvieringe is ook ter ere van heidense gode gehou. Die Romeine het byvoorbeeld op 24 Mei die verjaarsdag van die godin Diana gevier. Op die volgende dag het hulle die verjaarsdag van hulle songod, Apollo, gevier. Verjaarsdagvieringe is dus met heidense aanbidding geassosieer, nie met die Christelike godsdiens nie.

8. Verduidelik die verband tussen verjaarsdagvieringe en bygelowe.

8 Daar is nog ’n rede waarom eerste-eeuse Christene nie Jesus se verjaarsdag sou gevier het nie. Sy dissipels het heel moontlik geweet dat daar ’n verband bestaan tussen verjaarsdagvieringe en bygelowe. Baie Grieke en Romeine van antieke tye het byvoorbeeld geglo dat ’n gees by die geboorte van elke mens teenwoordig is en dat hy daardie persoon gedurende sy hele lewe beskerm. “Hierdie gees het ’n mistieke verhouding gehad met die god op wie se verjaarsdag die persoon gebore is”, sê die boek The Lore of Birthdays. Jehovah keur beslis geen viering goed wat Jesus met bygelowe verbind nie (Jesaja 65:11, 12). Hoe het dit dan gebeur dat soveel mense Kersfees vier?

DIE OORSPRONG VAN KERSFEES

9. Hoe het dit gebeur dat mense 25 Desember begin beskou het as die dag om Jesus se geboorte te vier?

9 Dit was eers ’n paar honderd jaar nadat Jesus op die aarde gelewe het dat mense sy geboorte op 25 Desember begin herdenk het. Maar dit was nie die datum waarop Jesus gebore is nie, want hy is blykbaar in Oktober gebore. * Waarom is 25 Desember dan gekies? Party mense wat later gesê het dat hulle Christene is, “wou [heel moontlik] hê dat die datum moes ooreenkom met die heidense Romeinse fees wat op die ‘geboortedag van die onoorwonne son’ gehou is” (The New Encyclopædia Britannica). In die winter, wanneer die son op sy swakste gelyk het, het heidene seremonies gehou om hierdie bron van warmte en lig van sy verre reise af te probeer teruglok. Hulle het gedink dat 25 Desember die dag was waarop die son met sy terugreis begin het. In ’n poging om heidene te bekeer, het godsdiensleiers hierdie fees aangeneem en dit ’n “Christelike” voorkoms probeer gee. *

10. Waarom het party mense in die verlede nie Kersfees gevier nie?

10 Die heidense oorsprong van Kersfees is al lank bekend. Weens die onskriftuurlike oorsprong van Kersfees is dit gedurende die 17de eeu in Engeland sowel as in party Amerikaanse kolonies verbied. Enigiemand wat op Kersdag selfs net van die werk af weggebly het, is beboet. Maar die ou gebruike het kort voor lank teruggekeer, en party nuwes is bygevoeg. Kersfees het weer eens ’n groot vakansiedag geword, en dit is wat dit vandag nog in baie lande is. Maar weens die verbintenis wat Kersfees met valse godsdiens het, vier diegene wat God wil gelukkig maak, dit nie, en hulle vier ook nie enige ander vakansiedag wat sy oorsprong in heidense aanbidding het nie. *

MAAK DIE OORSPRONG WERKLIK SAAK?

11. Waarom vier party mense vakansiedae, maar wat moet vir ons van die grootste belang wees?

11 Party mense stem saam dat vakansiedae soos Kersfees wel ’n heidense oorsprong het, maar hulle voel nog steeds nie dat dit verkeerd is om dit te vier nie. Die meeste mense dink immers nie aan valse aanbidding wanneer hulle vakansiedae vier nie. Dit gee families ook die geleentheid om bymekaar te kom. Is dit hoe jy voel? Indien wel, is dit waarskynlik liefde vir jou familie, nie vir valse godsdiens nie, wat dit vir jou moeilik maak om ’n standpunt vir ware aanbidding in te neem. Wees verseker dat Jehovah, die een by wie die familie sy oorsprong het, wil hê dat jy ’n goeie verhouding met jou familielede moet hê (Efesiërs 3:14, 15). Maar jy kan sulke bande versterk op maniere wat God se goedkeuring wegdra. Aangaande die saak wat vir ons van die grootste belang moet wees, het die apostel Paulus geskryf: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is.”—Efesiërs 5:10.

Sal jy ’n lekker eet wat jy uit die drein opgetel het?

12. Lig toe waarom ons gebruike en vierings moet vermy wat ’n slegte oorsprong het.

12 Miskien voel jy dat die oorsprong van vakansiedae nie veel te doen het met hoe hulle vandag gevier word nie. Maak die oorsprong werklik saak? Ja! Ter toeligting: Sê nou jy sien ’n lekker in ’n drein lê. Sal jy dit optel en dit eet? Natuurlik nie! Dit is vuil. Net soos daardie lekker, lyk die viering van vakansiedae dalk aangenaam, maar dit kom uit onrein plekke. As ons ’n standpunt vir ware aanbidding wil inneem, moet ons dieselfde beskouing hê as wat die profeet Jesaja gehad het, wat vir ware aanbidders gesê het: “Raak aan niks wat onrein is nie.”—Jesaja 52:11.

ONDERSKEIDINGSVERMOË IN ONS HANDELINGE MET ANDER

13. Voor watter moeilike situasies kan jy te staan kom as jy nie aan vakansiedae deelneem nie?

13 Jy kan voor moeilike situasies te staan kom as jy besluit om nie aan vakansiedae deel te neem nie. Jou werksmaats wonder dalk waarom jy nie by die werk aan sekere bedrywighede deelneem wat met vakansiedae verband hou nie. Sê nou iemand gee vir jou ’n Kersgeskenk? Sou dit verkeerd wees om dit te aanvaar? Sê nou jou huweliksmaat glo nie soos jy nie? Hoe kan jy seker maak dat jou kinders nie voel dat hulle iets mis omdat julle nie vakansiedae vier nie?

14, 15. Wat kan jy doen as iemand jou feesgroete toewens of vir jou ’n geskenk wil gee?

14 Goeie oordeel is nodig om te onderskei hoe jy elke situasie moet hanteer. As iemand jou terloops feesgroete toewens, kan jy hom moontlik net bedank. Maar sê nou dit is iemand met wie jy gereeld te doen kry of saam werk? In daardie geval sal jy dalk meer wil sê. Maar wees altyd taktvol. Die Bybel sê: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). Wees versigtig om nie oneerbiedig teenoor ander te wees nie. Gee eerder ’n taktvolle verduideliking van jou standpunt. Verduidelik aan hulle dat jy niks daarteen het om geskenke te gee of gesellighede by te woon nie, maar dat jy verkies om dit op ’n ander tyd te doen.

15 Sê nou iemand wil vir jou ’n geskenk gee? Dit hang grootliks van die omstandighede af. Die een wat die geskenk gee, sê dalk: “Ek weet jy vier nie hierdie vakansiedag nie. Maar ek wil die geskenk nog altyd vir jou gee.” Jy besluit dalk dat, as jy die geskenk onder daardie omstandighede aanvaar, dit nie dieselfde is as om die vakansiedag te vier nie. As die een wat die geskenk gee, nie van jou oortuigings weet nie, kan jy natuurlik noem dat jy nie die vakansiedag vier nie. Dit sal help om te verduidelik waarom jy ’n geskenk aanvaar, maar nie by daardie geleentheid een gee nie. Aan die ander kant sal dit verstandig wees om nie ’n geskenk te aanvaar nie as jy duidelik kan sien dat dit gegee word om te probeer wys dat jy nie by jou oortuigings bly nie of dat jy jou beginsels ter wille van materiële gewin sal prysgee.

WAT VAN FAMILIELEDE?

16. Hoe kan jy taktvol wees wanneer jy sake hanteer wat met vakansiedae verband hou?

16 Sê nou jou familielede glo nie soos jy nie? Wees weer eens taktvol. Dit is glad nie nodig om ’n geskilpunt te maak van elke gebruik wat jou familielede volg of herdenking wat hulle vier nie. Respekteer eerder hulle reg om hulle eie opinie te hê, net soos jy wil hê dat hulle jou reg moet respekteer om jou opinie te hê (Matteus 7:12). Moet niks doen wat sal beteken dat jy aan die viering van die vakansiedag deelneem nie. Wees nogtans redelik wanneer dit kom by sake wat nie werklik met die viering self te doen het nie. Jy moet natuurlik altyd só optree dat jy ’n goeie gewete behou.—1 Timoteus 1:18, 19.

17. Hoe kan jy jou kinders help om nie te voel dat hulle iets mis wanneer hulle sien hoe ander vakansiedae vier nie?

17 Wat kan jy doen sodat jou kinders nie voel dat hulle iets mis omdat julle nie onskriftuurlike vakansiedae vier nie? Dit hang grootliks af van wat jy gedurende ander tye van die jaar doen. Party ouers gee op ander tye vir hulle kinders geskenke. Een van die beste geskenke wat jy vir jou kinders kan gee, is jou tyd en liefdevolle aandag.

BEOEFEN WARE AANBIDDING

Die beoefening van ware aanbidding bring ware geluk mee

18. Hoe kan die bywoning van Christelike vergaderinge jou help om ’n standpunt vir ware aanbidding in te neem?

18 Om God gelukkig te maak, moet jy valse aanbidding verwerp en ’n standpunt vir ware aanbidding inneem. Wat sluit dit in? Die Bybel sê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Christelike vergaderinge is aangename geleenthede waar jy God kan aanbid op die manier wat sy goedkeuring wegdra (Psalm 22:22; 122:1). By sulke vergaderinge is daar “wedersydse aanmoediging” onder getroue Christene.—Romeine 1:12.

19. Waarom is dit belangrik dat jy met ander praat oor die dinge wat jy uit die Bybel geleer het?

19 Nog ’n manier waarop jy ’n standpunt vir ware aanbidding kan inneem, is om met ander te praat oor die dinge wat jy tydens jou Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies geleer het. Baie mense “sug en steun” werklik oor die goddeloosheid wat vandag in die wêreld plaasvind (Esegiël 9:4). Miskien ken jy mense wat so voel. Jy kan hulle gerus van jou Bybelse hoop vir die toekoms vertel. Wanneer jy met ware Christene assosieer en met ander praat oor die wonderlike Bybelwaarhede wat jy geleer het, sal jy vind dat enige verlange na die gebruike van valse aanbidding wat dalk in jou hart oorgebly het, geleidelik sal verdwyn. Wees verseker dat jy baie gelukkig sal wees en baie seëninge sal geniet as jy jou standpunt vir ware aanbidding inneem.—Maleagi 3:10.

^ par. 9 Die Saturnalieë het ook ’n rol gespeel toe 25 Desember gekies is. Hierdie fees wat die Romeinse god van die landbou vereer het, het op 17-24 Desember plaasgevind. Gedurende die Saturnalieë het mense feesgevier, jolyt gemaak en geskenke gegee.

^ par. 10 Vir ’n bespreking van hoe ware Christene ander gewilde vakansiedae beskou, sien die Aanhangsel Moet ons vakansiedae vier?.