Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VEERTIEN

Hoe om jou gesinslewe gelukkig te maak

Hoe om jou gesinslewe gelukkig te maak
  • Wat is nodig om ’n goeie man te wees?

  • Hoe kan ’n vrou haar rol suksesvol vervul?

  • Wat is daarby betrokke om ’n goeie ouer te wees?

  • Hoe kan kinders help om die gesinslewe gelukkig te maak?

1. Wat is die sleutel tot ’n gelukkige gesinslewe?

JEHOVAH GOD wil hê dat jou gesinslewe gelukkig moet wees. Sy Woord, die Bybel, bevat riglyne vir elke gesinslid en beskryf die rol wat God wil hê elkeen van hulle moet speel. Wanneer gesinslede hulle rol in ooreenstemming met God se raad vervul, lewer dit baie goeie resultate op. Jesus het gesê: “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!”—Lukas 11:28.

2. Wat moet ons erken as ons gesinsgeluk wil geniet?

2 Gesinsgeluk hang hoofsaaklik daarvan af dat ons erken dat die gesin sy oorsprong by Jehovah het, die een wat Jesus “ons Vader” genoem het (Matteus 6:9). Elke gesin op die aarde het sy bestaan aan ons hemelse Vader te danke—en hy weet beslis wat gesinne gelukkig maak (Efesiërs 3:14, 15). Wat leer die Bybel dan omtrent die rol van elke gesinslid?

GODDELIKE OORSPRONG VAN DIE GESIN

3. Hoe beskryf die Bybel die begin van die mensegesin, en waarom weet ons dat wat dit sê, waar is?

3 Jehovah het die eerste mense, Adam en Eva, geskep en hulle as man en vrou bymekaargebring. Hy het hulle in ’n pragtige paradystuiste—die tuin van Eden—gesit en vir hulle gesê om kinders te hê. “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde”, het Jehovah gesê (Genesis 1:26-28; 2:18, 21-24). Dit is nie net ’n storie of ’n mite nie, want Jesus het gewys dat wat Genesis oor die begin van die gesinslewe sê, waar is (Matteus 19:4, 5). Kom ons kyk waarom gesinsgeluk moontlik is, al kom ons voor baie probleme te staan en al is die lewe nie vandag soos God wou hê dit moes wees nie.

4. (a) Hoe kan elke lid van die gesin tot gesinsgeluk bydra? (b) Waarom is dit so belangrik om die lewe van Jesus te bestudeer om gesinsgeluk te geniet?

4 Elke lid van die gesin kan help om die gesinslewe gelukkig te maak deur God na te volg in die betoning van liefde (Efesiërs 5:1, 2). Maar hoe kan ons God navolg as ons hom nie eers kan sien nie? Ons kan leer hoe Jehovah optree omdat hy sy eersgebore Seun uit die hemel na die aarde toe gestuur het (Johannes 1:14, 18). Toe hierdie Seun, Jesus Christus, op die aarde was, het hy sy hemelse Vader so goed nagevolg dat enigiemand wat hom gesien en na hom geluister het, net sowel by Jehovah kon gewees het en Hom gehoor het (Johannes 14:9). Elkeen van ons kan dus help om ons gesinslewe gelukkiger te maak as ons van die liefde leer wat Jesus aan die dag gelê het en as ons sy voorbeeld navolg.

’N VOORBEELD VIR MANS

5, 6. (a) Watter voorbeeld stel die manier waarop Jesus die gemeente behandel, vir mans? (b) Wat moet gedoen word om vergifnis van sondes te verkry?

5 Die Bybel sê dat mans hulle vrouens moet behandel soos Jesus sy dissipels behandel. Kyk na hierdie Bybelse bevel: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het . . . Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen.”Efesiërs 5:23, 25-29.

6 Jesus se liefde vir sy gemeente van dissipels is ’n volmaakte voorbeeld vir mans. Jesus het “hulle tot die einde toe liefgehad” en het sy lewe vir hulle opgeoffer, al was hulle allesbehalwe volmaak (Johannes 13:1; 15:13). Net so word mans aangespoor: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kolossense 3:19). Wat sal ’n man help om hierdie raad toe te pas, veral as sy vrou soms onverstandige dinge doen? Hy moet onthou dat hy ook foute maak en in gedagte hou wat hy moet doen om God se vergifnis te verkry. Wat is dit? Hy moet diegene vergewe wat teen hom sondig, en dit sluit sy vrou in. Sy moet natuurlik dieselfde doen (Matteus 6:12, 14, 15). Sien jy waarom party al gesê het dat ’n suksesvolle huwelik ’n verbintenis tussen twee goeie vergewers is?

7. Wat het Jesus in ag geneem, en watter voorbeeld stel dit vir mans?

7 Dit is ook goed as mans daarop let dat Jesus altyd bedagsaam was teenoor sy dissipels. Hy het hulle beperkings en fisiese behoeftes in ag geneem. Wanneer hulle moeg was, het hy byvoorbeeld gesê: “Kom julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie” (Markus 6:30-32). Vrouens verdien ook om met bedagsaamheid behandel te word. Die Bybel beskryf hulle as “’n swakker vat” aan wie mans beveel word om “eer” te gee. Waarom? Omdat mans sowel as vrouens “die onverdiende guns van die lewe” in gelyke mate sal ontvang (1 Petrus 3:7). Mans moet onthou dat dit getrouheid is wat ’n mens vir God kosbaar maak, nie of jy ’n man of ’n vrou is nie.—Psalm 101:6.

8. (a) Hoe is dit dat ’n man ‘wat sy vrou liefhet, homself liefhet’? (b) Wat beteken dit vir ’n man en sy vrou om “een vlees” te wees?

8 Die Bybel sê ’n man “wat sy vrou liefhet, het homself lief”. Dit is omdat ’n man en sy vrou, soos Jesus gesê het, “nie meer twee is nie, maar een vlees” (Matteus 19:6). Hulle moet dus hulle seksuele belangstelling tot mekaar beperk (Spreuke 5:15-21; Hebreërs 13:4). Hulle kan dit doen deur onselfsugtige belangstelling in mekaar se behoeftes te toon (1 Korintiërs 7:3-5). Hierdie herinnering is opmerkenswaardig: “Geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit.” Mans moet hulle vrouens liefhê soos hulle hulleself liefhet, terwyl hulle in gedagte hou dat hulle aan hulle eie hoof, Jesus Christus, verantwoording moet doen.—Efesiërs 5:29; 1 Korintiërs 11:3.

9. Watter eienskap van Jesus word in Filippense 1:8 genoem, en waarom moet mans hierdie eienskap teenoor hulle vrouens aan die dag lê?

9 Die apostel Paulus het gepraat van die ‘tere geneentheid wat Christus Jesus het’ (Filippense 1:8). Jesus se teerheid was verkwikkend, en vroue wat later sy dissipels geword het, het hierdie eienskap aantreklik gevind (Johannes 20:1, 11-13, 16). En vrouens smag na tere geneentheid van hulle man.

’N VOORBEELD VIR VROUENS

10. Hoe stel Jesus ’n voorbeeld vir vrouens?

10 ’n Gesin is ’n organisasie, en om goed te funksioneer, het dit ’n hoof nodig. Selfs Jesus het ’n Hoof aan wie hy hom onderwerp. “God is die hoof van die Christus”, net soos “die man . . . die hoof [is] van die vrou” (1 Korintiërs 11:3). Jesus se onderworpenheid aan God se hoofskap is ’n goeie voorbeeld, aangesien ons almal ’n hoof het aan wie ons ons moet onderwerp.

11. Watter gesindheid moet ’n vrou teenoor haar man openbaar, en watter uitwerking sal haar gedrag moontlik hê?

11 Onvolmaakte mans maak foute en skiet dikwels ver te kort daaraan om ideale gesinshoofde te wees. Wat moet ’n vrou in so ’n geval doen? Sy moet nie wat haar man doen, verkleineer of sy hoofskap probeer oorneem nie. Dit is goed as ’n vrou onthou dat ’n stille en sagmoedige gees in God se oë van groot waarde is (1 Petrus 3:4). Deur so ’n gees te openbaar, sal dit vir haar makliker wees om selfs onder moeilike omstandighede godvrugtige onderworpenheid aan die dag te lê. Die Bybel sê ook: “Die vrou . . . moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Maar sê nou hy aanvaar Christus nie as sy Hoof nie? Die Bybel spoor vrouens aan: “[Wees onderdanig] aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”1 Petrus 3:1, 2.

12. Waarom is dit nie verkeerd as ’n vrou haar opinies respekvol uitspreek nie?

12 Hetsy haar man ’n medegelowige is of nie, ’n vrou is nie oneerbiedig as sy taktvol ’n opinie uitspreek wat van syne verskil nie. Haar beskouing is moontlik reg, en die hele gesin sal dalk daarby baat vind as hy na haar luister. Hoewel Abraham nie saamgestem het toe sy vrou, Sara, ’n praktiese oplossing vir ’n sekere huishoudelike probleem voorgestel het nie, het God vir hom gesê: “Luister na haar stem” (Genesis 21:9-12). Wanneer ’n man die finale besluit oor ’n saak neem en dit nie in stryd is met God se wet nie, toon sy vrou natuurlik haar onderdanigheid deur dit te ondersteun.—Handelinge 5:29; Efesiërs 5:24.

Watter uitstekende voorbeeld het Sara vir vrouens gestel?

13. (a) Wat word getroude vroue in Titus 2:4, 5 aangespoor om te doen? (b) Wat sê die Bybel daaroor om uitmekaar te gaan of te skei?

13 ’n Vrou kan baie doen om haar gesin te versorg terwyl sy haar rol vervul. Die Bybel toon byvoorbeeld dat getroude vroue ‘hulle mans moet liefhê, hulle kinders moet liefhê, gesond van verstand moet wees, kuis, werkers by die huis, goed, terwyl hulle hulle aan hulle eie mans onderwerp’ (Titus 2:4, 5). ’n Vrou en moeder wat so optree, sal die blywende liefde en respek van haar gesin verkry (Spreuke 31:10, 28). Maar aangesien die huwelik ’n verbintenis tussen onvolmaakte mense is, kan party uiterste omstandighede veroorsaak dat mense uitmekaargaan of skei. Die Bybel laat toe dat egpare onder sekere omstandighede uitmekaargaan. Maar dit is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie, want die Bybel se raad is: “’n Vrou [moet] nie van haar man . . . weggaan nie; . . . en ’n man moet sy vrou nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:10, 11). En slegs hoerery deur een van die huweliksmaats is skriftuurlike grond vir egskeiding.—Matteus 19:9.

’N VOLMAAKTE VOORBEELD VIR OUERS

14. Hoe het Jesus kinders behandel, en wat het kinders van hulle ouers nodig?

14 Jesus het die volmaakte voorbeeld vir ouers gestel in die manier waarop hy kinders behandel het. Toe ander probeer keer het dat die kindertjies na Jesus toe gaan, het hy gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie.” Die Bybel sê dat hy toe “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën [het] terwyl hy hulle die hande opgelê het” (Markus 10:13-16). Aangesien Jesus tyd gemaak het vir kindertjies, moet jy dit dan nie ook vir jou seuns en dogters doen nie? Hulle het baie van jou tyd nodig, nie net klein brokkies daarvan nie. Jy moet tyd maak om hulle te leer, want Jehovah beveel ouers om dit te doen.—Deuteronomium 6:4-9.

15. Wat kan ouers doen om hulle kinders te beskerm?

15 Aangesien hierdie wêreld al hoe goddeloser word, het kinders ouers nodig wat hulle sal beskerm teen mense wat hulle skade wil aandoen, soos dié wat hulle seksueel probeer uitbuit. Dink byvoorbeeld aan hoe Jesus sy dissipels beskerm het, wat hy liefdevol “kindertjies” genoem het. Toe hy in hegtenis geneem is kort voor hy doodgemaak sou word, het Jesus vir hulle ’n geleentheid geskep om weg te kom (Johannes 13:33; 18:7-9). As ’n ouer moet jy wakker wees vir die Duiwel se pogings om jou kinders skade aan te doen. Jy moet hulle vooraf daarteen waarsku (1 Petrus 5:8). * Hulle was nog nooit in sulke groot fisiese, geestelike en sedelike gevaar nie.

Wat kan ouers leer uit die manier waarop Jesus kinders behandel het?

16. Wat kan ouers leer uit die manier waarop Jesus sy dissipels se onvolmaakthede hanteer het?

16 Op die aand voor Jesus se dood het sy dissipels gestry oor wie van hulle die grootste is. Jesus het nie vir hulle kwaad geword nie, maar het hulle liefdevol deur sy woorde en voorbeeld probeer help (Lukas 22:24-27; Johannes 13:3-8). Kan jy, as jy ’n ouer is, sien hoe jy Jesus se voorbeeld kan navolg in die manier waarop jy jou kinders reghelp? Hulle het wel dissipline nodig, maar dit moet “in die regte mate” gegee word en nooit wanneer jy kwaad is nie. Jy moenie onnadenkend praat “soos met swaardsteke” nie (Jeremia 30:11; Spreuke 12:18). Dissipline moet op so ’n manier gegee word dat jou kind later sal sien hoe gepas dit was.—Efesiërs 6:4; Hebreërs 12:9-11.

’N VOORBEELD VIR KINDERS

17. Hoe het Jesus ’n volmaakte voorbeeld vir kinders gestel?

17 Kan kinders by Jesus leer? Ja, hulle kan! Jesus het deur sy voorbeeld getoon hoe kinders aan hulle ouers gehoorsaam moet wees. “Net soos die Vader my geleer het”, het hy gesê, “spreek ek.” Hy het bygevoeg: “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag” (Johannes 8:28, 29). Jesus was gehoorsaam aan sy hemelse Vader, en die Bybel sê vir kinders om aan hulle ouers gehoorsaam te wees (Efesiërs 6:1-3). Al was Jesus ’n volmaakte kind, was hy gehoorsaam aan sy menseouers, Josef en Maria, wat onvolmaak was. Dit het beslis bygedra tot die geluk van elke lid van Jesus se gesin!—Lukas 2:4, 5, 51, 52.

18. Waarom was Jesus altyd gehoorsaam aan sy hemelse Vader, en wie is bly wanneer kinders vandag aan hulle ouers gehoorsaam is?

18 Kan kinders maniere vind waarop hulle meer soos Jesus kan wees en hulle ouers gelukkig kan maak? Dit is weliswaar soms moeilik vir jongmense om aan hulle ouers gehoorsaam te wees, maar God wil hê dat kinders dit moet doen (Spreuke 1:8; 6:20). Jesus was altyd gehoorsaam aan sy hemelse Vader, selfs onder moeilike omstandighede. Eenkeer, toe dit God se wil was dat Jesus iets moes doen wat baie moeilik was, het Jesus gesê: “Neem hierdie beker [’n spesifieke vereiste] van my af weg.” Jesus het nogtans gedoen wat God gevra het omdat hy besef het dat sy Vader die beste weet (Lukas 22:42). As kinders leer om gehoorsaam te wees, maak hulle hulle ouers en hulle hemelse Vader baie bly. *Spreuke 23:22-25.

Waaraan moet jongmense dink as hulle versoek word?

19. (a) Hoe bring Satan kinders in versoeking? (b) Watter uitwerking kan die slegte gedrag van kinders op ouers hê?

19 Die Duiwel het Jesus versoek, en ons kan seker wees dat hy ook jongmense in die versoeking sal bring om te doen wat verkeerd is (Matteus 4:1-10). Satan die Duiwel gebruik portuurdruk, wat moeilik kan wees om te weerstaan. Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat kinders nie met mense assosieer wat verkeerd doen nie! (1 Korintiërs 15:33). Jakob se dogter Dina het met mense geassosieer wat Jehovah nie aanbid het nie, en dit het tot groot moeilikheid gelei (Genesis 34:1, 2). Dink net hoeveel hartseer dit vir die gesin kan veroorsaak as een van die gesinslede by geslagsonsedelikheid betrokke raak!—Spreuke 17:21, 25.

DIE SLEUTEL TOT GESINSGELUK

20. Wat moet elke gesinslid doen om ’n gelukkige gesinslewe te geniet?

20 Dit is makliker om gesinsprobleme die hoof te bied wanneer Bybelse raad toegepas word. Om die waarheid te sê, die toepassing van sulke raad is die sleutel tot gesinsgeluk. Mans, julle moet dus julle vrou liefhê en haar behandel soos Jesus sy gemeente behandel. Vrouens, onderwerp julle aan die hoofskap van julle man en volg die voorbeeld van die bekwame vrou wat in Spreuke 31:10-31 beskryf word. Ouers, lei julle kinders op (Spreuke 22:6). Vaders, ‘gee goeie leiding aan julle huisgesin’ (1 Timoteus 3:4, 5; 5:8). En kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers (Kolossense 3:20). Niemand in die gesin is volmaak nie, want almal maak foute. Wees dus nederig, en vra mekaar om vergifnis.

21. Watter wonderlike vooruitsig het ons, en hoe kan ons nou al ’n gelukkige gesinslewe geniet?

21 Die Bybel bevat werklik ’n oorvloed van waardevolle raad en onderrigting oor die gesinslewe. Dit leer ons ook van God se nuwe wêreld en ’n aardse paradys vol gelukkige mense wat Jehovah aanbid (Openbaring 21:3, 4). Watter wonderlike vooruitsig is dit tog nie! Maar ons kan nou al ’n gelukkige gesinslewe geniet as ons God se instruksies volg wat in sy Woord, die Bybel, gevind word.

^ par. 15 Inligting om jou te help om jou kinders te beskerm, kan gevind word in hoofstuk 32 van die boek Leer by die Groot Onderwyser, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 18 Alleenlik as ’n ouer ’n kind vra om God se wet te verbreek, sal dit reg wees as die kind ongehoorsaam is.—Handelinge 5:29.