Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe het lewe begin?

Hoe het lewe begin?

Hoe sal jy die volgende sin voltooi?

LEWE IS DIE GEVOLG VAN . . .

  1. EVOLUSIE

  2. DIE SKEPPING

 ’n Mens sal dalk aanneem dat iemand met ’n wetenskaplike agtergrond “evolusie” sal kies en dat ’n godsdienstige persoon “die skepping” sal kies.

 Maar nie altyd nie.

 Die feit is, baie geleerde mense — insluitende ’n aantal wetenskaplikes — bevraagteken die geldigheid van die teorie.

 Neem byvoorbeeld Gerard, ’n professor in insektekunde, wat op universiteit oor evolusie geleer het. “Wanneer ek toetse geskryf het”, sê hy, “het ek die antwoorde gegee wat die professors wou hê — maar ek het dit nie geglo nie.”

 Waarom vind selfs mense met ’n wetenskaplike agtergrond dit moeilik om te aanvaar dat lewe as gevolg van evolusie ontstaan het? Om die antwoord hierop te vind, kan ons kyk na twee vrae wat baie navorsers dronkslaan: (1) Hoe het lewe begin? en (2) Hoe het lewende dinge ontwikkel?

Hoe het lewe begin?

 WAT PARTY SÊ. Lewe het vanself uit nielewende materie ontstaan.

 WAAROM PARTY NIE MET HIERDIE ANTWOORD TEVREDE IS NIE. Wetenskaplikes weet meer van die chemiese en molekulêre samestelling van lewe as ooit tevore, maar hulle kan nog steeds nie met sekerheid sê presies wat lewe is nie. Selfs die eenvoudigste lewende sel verskil grootliks van nielewende materie.

 Wetenskaplikes kan maar net spekuleer oor hoe toestande miljarde jare gelede op die aarde was. Hulle het verskillende menings oor waar lewe begin het — soos of dit in ’n vulkaan of onder die seebodem begin het. Nog ’n mening is dat die boustene van lewe eers op ’n ander plek in die heelal ontstaan het en toe in meteore was wat op die aarde geval het. Maar dit beantwoord nie die vraag oor hoe lewe begin het nie; dit neem ons net verder weg van die antwoord.

 Wetenskaplikes spekuleer dat daar moontlik molekules bestaan het waaruit genetiese materiaal soos ons dit vandag ken, ontstaan het. Volgens hulle is dit waarskynliker dat hierdie molekules vanself uit nielewende materie kon ontstaan en hulleself kon repliseer. Maar geen wetenskaplike bewyse is gevind dat sulke molekules ooit bestaan het nie, en wetenskaplikes kon ook nie so ’n molekule in ’n laboratorium skep nie.

 Lewende dinge is uniek in die manier waarop hulle inligting stoor en verwerk. ’n Sel se genetiese kode bevat instruksies wat deur die sel oorgedra, ontsyfer en uitgevoer word. Party wetenskaplikes vergelyk die genetiese kode met rekenaarsagteware en die chemiese samestelling van die sel met rekenaarhardeware. Maar evolusie verklaar nie waar die inligting vandaan kom nie.

 Proteïenmolekules is nodig vir die werking van ’n sel. ’n Tipiese proteïenmolekule bestaan uit honderde aminosure wat in ’n spesifieke volgorde gerangskik is. Boonop moet ’n proteïenmolekule hom in ’n spesifieke driedimensionele vorm vou om te kan funksioneer. Volgens sommige wetenskaplikes is dit uiters onwaarskynlik dat selfs een proteïenmolekule vanself kon vorm. “Aangesien ’n werkende sel duisende verskillende proteïene nodig het, maak dit nie sin om tot die slotsom te kom dat dit bloot per toeval ontstaan het nie”, skryf die fisikus Paul Davies.

 DIE SLOTSOM. Ná dekades se navorsing in feitlik alle takke van die wetenskap, bly dit ’n feit dat lewe net uit bestaande lewe voortspruit.

Hoe het lewende dinge ontwikkel?

 WAT PARTY SÊ. Die eerste lewende organisme het geleidelik in ’n verskeidenheid lewende dinge, insluitende mense, ontwikkel, deur middel van prosesse wat toevallige mutasie en natuurlike seleksie genoem word.

 WAAROM PARTY NIE MET HIERDIE ANTWOORD TEVREDE IS NIE. Sommige selle is meer kompleks as ander. Hoe eenvoudiger selle in komplekser selle kon ontwikkel, word “dikwels beskou as die grootste raaisel oor evolusie, naas die oorsprong van lewe”, sê een naslaanwerk.

 Wetenskaplikes het ontdek dat daar komplekse molekulêre masjiene in elke sel is wat uit proteïenmolekules bestaan en saamwerk om ingewikkelde take uit te voer. Hierdie take sluit in om voedingstowwe te vervoer en in energie om te sit, om dele van die sel te herstel en om boodskappe na verskillende dele van die sel te neem. Ja, die manier waarop hierdie molekulêre masjiene saamgestel is en werk, is baie kompleks. Is dit dan moontlik dat toevallige mutasie en natuurlike seleksie daarvoor verantwoordelik kon gewees het? Baie vind dit moeilik om hierdie konsep te aanvaar.

 Diere en mense ontwikkel uit ’n enkele bevrugte eiersel. Die selle in die embrio vermenigvuldig en spesialiseer uiteindelik; dit wil sê, hulle neem verskillende vorme en funksies aan om spesifieke liggaamsdele te vorm. Evolusie kan nie verklaar hoe elke sel “weet” wat om te word en waar dit in die organisme moet ontwikkel nie.

 Wetenskaplikes besef nou dat een diersoort nie in ’n ander diersoort kan ontwikkel tensy veranderinge op molekulêre vlak in die sel plaasvind nie. Hulle kan nie bewys hoe evolusie selfs die “eenvoudigste” sel kon voortbring nie. Kan ons dus aanneem dat toevallige mutasie en natuurlike seleksie vir die verskillende diersoorte op die planeet verantwoordelik is? Volgens Michael Behe, ’n professor in die biologiese wetenskappe, het navorsing wel getoon dat die ontwerp van diere verbasend en ongelooflik kompleks is, maar hy sê: “Ons verstaan nog steeds nie hoe hierdie kompleksiteit deur middel van onintelligente prosesse kon geëvolueer het nie.”

 Mense is bewus van hulle eie bestaan en het die vermoë om te dink en te redeneer. Hulle het ook ’n sin vir reg en verkeerd en sedelike eienskappe, soos om vrygewig en selfopofferend te wees. Toevallige mutasie en natuurlike seleksie kan nie verklaar waarom die mens hierdie unieke eienskappe het nie.

 DIE SLOTSOM. Hoewel baie volhou dat evolusie ’n onbetwisbare feit is, is ander nie tevrede met die antwoorde wat evolusie voorsien aangaande hoe lewe begin en ontwikkel het nie.

’n Antwoord wat oorweeg moet word

 Nadat baie mense na die bewyse gekyk het, het hulle tot die slotsom gekom dat lewe die produk is van ’n hoër intellek. Neem byvoorbeeld Antony Flew, ’n professor in filosofie wat vroeër ’n vername voorstander van ateïsme was. Toe Flew oor die verstommende kompleksiteit van lewe en die fisiese wette van die heelal geleer het, het hy sy mening verander. Hy volg die benadering van eertydse filosowe wat geredeneer het dat ons die gevolgtrekking moet aanvaar waarna die bewyse ons lei, al is dit nie die gevolgtrekking wat ons verwag het nie. Die bewyse het professor Flew tot die slotsom laat kom dat daar wel ’n Skepper is.

 Gerard, wat vroeër in hierdie reeks artikels gemeld is, het tot ’n soortgelyke slotsom gekom. Ten spyte van sy hoë kwalifikasies en sy loopbaan in insektekunde het hy gesê: “Ek het geen bewyse gesien dat lewe vanself uit nielewende materie ontstaan het nie. Die ordelikheid en kompleksiteit van lewende dinge het my oortuig dat daar ’n Organiseerder en Ontwerper moet wees.”

 Net soos ’n persoon meer omtrent ’n kunstenaar kan leer deur sy kunswerke te bestudeer, het Gerard meer omtrent die Skepper se eienskappe geleer deur die natuur te bestudeer. Gerard het ook tyd geneem om ’n boek te ondersoek wat aan die Skepper toegeskryf word — die Bybel (2 Timoteus 3:16). Daarin het hy bevredigende antwoorde gevind op vrae oor die mensdom se verlede asook praktiese oplossings vir die probleme waarmee mense vandag te kampe het. Dit het hom oortuig dat die Bybel ook ’n produk van ’n hoër intellek is.

 Soos Gerard gesien het, is dit die moeite werd om die Bybel se antwoorde te oorweeg. Ons spoor jou aan om dit self te ondersoek.