Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Wanneer ’n vriendskap te heg raak

Wanneer ’n vriendskap te heg raak

DIE UITDAGING

Jy het ’n vriend van die teenoorgestelde geslag wat jou werklik verstaan. Julle twee kan oor enigiets gesels, en julle doen dit ook. ‘Ons is net vriende’, sê jy vir jouself—hoewel jou huweliksmaat dalk anders sal dink as hy of sy van julle lang gesprekke weet.

Julle vriendskap is waarskynlik reeds te heg, en jy moet iets omtrent die situasie doen. Maar kom ons kyk eers waarom jy moontlik in so ’n verhouding verstrengel geraak het.

WAAROM DIT GEBEUR

Vervulling. Eenvoudig gestel, aandag van die teenoorgestelde geslag laat ’n mens goed voel. Ons voel gevlei as ons weet dat iemand ons waardeer, en dit laat ons aantreklik voel. Nadat jy al ’n ruk lank getroud is, begin jy dalk gerusstelling vind in die geselskap van ’n vriend van die teenoorgestelde geslag. Maar een ding is seker: As sulke behoeftes deur iemand anders as jou huweliksmaat vervul word, sal dit jou duur te staan kom. As jy ’n ongepaste emosionele band met iemand van die teenoorgestelde geslag smee, verswak dit jou band met jou huweliksmaat. In sekere sin beroof jy jou huweliksmaat van die liefde wat jy aan hom of haar verskuldig is.

• Vra jou af: ‘Watter behoeftes word deur hierdie vriendskap bevredig wat eerder in my huwelik bevredig behoort te word?’

Ontvanklikheid. Volgens die Bybel sal diegene wat trou, ’n mate van “verdrukking” hê (1 Korintiërs 7:28). Byvoorbeeld, jy dink dalk soms dat jou huweliksmaat jou afskeep of jou nie waardeer nie, of jy voel miskien gegrief oor ’n onopgeloste meningsverskil. Jou maat wil dalk nie oor sulke kwessies praat nie, en dit frustreer jou en maak jou ontvanklik vir die aandag van iemand anders. As moeilike kwessies nie bespreek word nie, kan dit volgens party deskundiges lei tot ’n ongelukkige huwelik—en selfs tot egskeiding.

• Vra jou af: ‘Is daar ’n leemte in my huwelik wat my ontvanklik maak vir ’n ongepaste vriendskap?’

WAT JY KAN DOEN

Besef hoe gevaarlik dit is. Die Bybel sê: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?” (Spreuke 6:27, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Die feit is dat dit verwoestende gevolge sal hê as jy as ’n getroude persoon romantiese gevoelens vir iemand anders begin ontwikkel (Jakobus 1:14, 15). Dit is nie net ’n geval van wat kán gebeur nie. Dink aan wat reeds gebeur het. Deur hierdie soort aandag aan iemand anders te gee, het jy jou huweliksmaat beroof van die aandag wat jy aan hom of haar behoort te gee.

Moenie jouself flous nie. ’n Hegte vriendskap kan jou laat wonder hoe die lewe sou gewees het as jy met hierdie persoon getrou het. Maar dit is heel moontlik omdat jy jou vriend se sterk punte met jou huweliksmaat se swakhede vergelyk—wat allesbehalwe regverdig is! Onthou ook dat die gevoel van opwinding wat jy ervaar wanneer jy aan jou vriend dink, waarskynlik dieselfde is as die gevoel wat jy aanvanklik gehad het vir die persoon met wie jy getrou het.—Bybelbeginsel: Jeremia 17:9.

Stel perke. Mense laat ’n alarm in hulle motor of huis installeer om diefstal te voorkom. Jy kan iets soortgelyks vir jou huwelik doen. “Bewaak jou hart”, sê die Bybel (Spreuke 4:23). Hoe kan jy dit doen? Probeer die volgende:

  • Laat ander duidelik verstaan dat jy reeds in ’n verbintenis is—miskien deur foto’s van jou huweliksmaat by die werk te hê.—Bybelbeginsel: Genesis 2:24.

  • Besluit wat jy sal duld en nie sal duld nie wanneer dit kom by jou handelinge met die teenoorgestelde geslag. Dit sal byvoorbeeld glad nie gepas wees om met so ’n vriend oor jou huweliksprobleme te praat of om ’n drankie saam met ’n medewerker van die teenoorgestelde geslag te gaan drink nie.

  • As jy te geheg geraak het aan iemand van die teenoorgestelde geslag, moet jy die verhouding beëindig. As jy voel dat jy dit nie sal kan doen nie, moet jy jou afvra waarom nie. Moenie jou verhouding met hierdie persoon probeer regverdig nie, maar gee jou ondersteuning eerder aan jou huweliksmaat en doen stappe om jou huwelik te beskerm.—Bybelbeginsel: Spreuke 5:18, 19.