Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om portuurdruk te weerstaan

Hoe om portuurdruk te weerstaan

DIE UITDAGING

“Op junior hoërskool het die meeste kinders my nie aanvaar nie, en dit het my seergemaak. Toe ek hoërskool toe is, het ek dus my voorkoms en gesindheid verander—maar nie ten goede nie. Ek wou baie graag vriende hê; daarom het ek voor portuurdruk geswig sodat my skoolmaats van my sou hou.”—Jennifer, 16. *

Kom jy voor portuurdruk te staan? Dan sal hierdie artikel jou help om dit die hoof te bied.

Wanneer jy voor portuurdruk swig, word jy soos ’n verstandelose robot omdat jy toelaat dat ander mense jou beheer. Waarom sou jy toelaat dat hulle hierdie soort mag oor jou uitoefen?—Romeine 6:16.

WAT JY MOET WEET

Portuurdruk kan goeie mense slegte dinge laat doen.

“Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

“Ons weet dalk dat ’n sekere weg verkeerd is, maar wanneer ons in die situasie is, kry ons emosies die oorhand en probeer ons mense tevrede stel!”—Dana.

Dit is nie net jou portuurs wat druk op jou uitoefen nie.

“Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig.”—Romeine 7:21.

“Die druk kom baie keer van mý af; dit is eintlik ek wat die dinge wil hê waaroor my portuurs praat en wat hulle so opwindend laat klink.”—Diana.

As jy portuurdruk weerstaan, kan jy trots wees daarop.

“Behou ’n goeie gewete.”1 Petrus 3:16.

“Dit was vroeër vir my baie moeilik om portuurdruk te weerstaan, maar nou is ek nie bang om anders te wees nie, en ek bly by my besluite. Daar is niks beters as om saans met ’n skoon gewete te gaan slaap nie.”—Carla.

 WAT JY KAN DOEN

Wanneer jou portuurs druk op jou uitoefen om verkeerd te doen, kan jy die volgende probeer:

Dink aan die gevolge. Vra jou af: ‘Sê nou ek swig voor die druk en word dan gevang? Wat sal my ouers van my dink? Wat sal ek van myself dink?’Bybelbeginsel: Galasiërs 6:7.

“My ouers vra my vrae soos: ‘Wat kan die gevolge wees as jy swig?’ Hulle help my om te sien hoe portuurdruk my ’n verkeerde rigting kan laat inslaan.”—Olivia.

Versterk jou oortuigings. Vra jou af: ‘Hoekom glo ek dat ’n sekere weg vir my of vir ander skadelik is?’Bybelbeginsel: Hebreërs 5:14.

“Toe ek klein was, het ek net nee gesê of ’n kort antwoord gegee, maar nou kan ek mooi verduidelik hoekom ek iets sal doen of nie sal doen nie. Ek het vaste oortuigings oor wat reg en wat verkeerd is. Die antwoord wat ek gee, kom van my af—nie van iemand anders nie.”—Anita.

Dink aan wie en wat jy wil wees. Vra jou af: ‘Watter soort persoon wil ek wees?’ Dink dan aan die druk wat op jou uitgeoefen word en vra: ‘Wat sal so ’n persoon in hierdie situasie doen?’—Bybelbeginsel: 2 Korintiërs 13:5.

“Ek is tevrede met wie ek is, en daarom maak dit nie vir my baie saak wat ander van my dink nie. Buitendien hou die meeste mense van my as ek net myself is.”—Alicia.

Moenie net aan vandag dink nie. As jy op skool is, moet jy onthou dat die mense wat jy nou probeer beïndruk, oor ’n paar jaar—of selfs ’n paar maande—dalk nie eers meer deel van jou lewe sal wees nie.

“Ek het na ’n skoolfoto gekyk, en ek kon nie eers party van my klasmaats se name onthou nie. Maar toe ek saam met hulle op skool was, was hulle mening vir my belangriker as om by my opvattings te bly. Hoe dwaas was ek tog!”—Dawn, nou 22.

Wees voorbereid. Die Bybel sê: “Julle [moet] weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”Kolossense 4:6.

“My ouers help my en my suster om te dink aan situasies waarvoor ons te staan kan kom, en dan hou ons oefensessies sodat ons sal weet wat om te doen wanneer ons voor so iets te staan kom.”—Christine.

^ par. 4 Van die name in hierdie artikel is verander.