Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Goeie maniere wanneer jy teksboodskappe stuur

Goeie maniere wanneer jy teksboodskappe stuur

DIE UITDAGING

Terwyl jy en ’n vriend gesels, ontvang jy ’n teksboodskap. Wat moet jy doen?

  1. Lees die teksboodskap terwyl jy met jou vriend gesels.

  2. Sê vir jou vriend “verskoon my”, en lees die teksboodskap.

  3. Ignoreer die teksboodskap en hou aan om met jou vriend te gesels.

Maak dit saak watter opsie jy kies? Die antwoord is ja!

WAT JY MOET WEET

As jy vir een vriend ’n teksboodskap stuur terwyl jy met ’n ander vriend praat, is dit soos om jou gunstelingsport te speel sonder om die reëls te volg. ‘Maar dit is my vriende’, sê jy miskien. Juis daarom moet jy goeie maniere aan die dag lê. Dit beteken nie dat jy onbuigsaam en oordrewe beleefd hoef te wees nie. Maar ’n feit van die lewe is: As jy ongemanierd is teenoor jou vriende, sal hulle die een of ander tyd nie meer jou vriende wees nie.

Waarom is dit die geval? Omdat mense nie daarvan hou as jy ongeskik met hulle is nie. ’n Jong vrou met die naam Beth * sê: “Dit is irriterend om met ’n vriendin te praat wat heeltyd na haar selfoon kyk asof sy wag dat iets beters moet gebeur!” Hoe lank dink jy sal Beth so iemand as haar vriendin wil hê?

Ondersoek jou selfoonmaniere deur weer te kyk na die scenario onder “Die uitdaging”. Watter opsie dink jy is die beste? Jy besef waarskynlik dat Opsie A ongemanierd is. Maar wat van Opsie B en C? Is dit ongeskik as jy ’n gesprek onderbreek om net gou ’n teksboodskap te lees? Of is dit ongeskik as jy ’n teksboodskap ignoreer net omdat jy met iemand gesels?

Soos jy kan sien, is dit nie altyd maklik om te weet wat goeie maniere is nie. Maar die Bybel kan help. Dit sê: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Jy kan hierdie raad toepas wanneer jy teksboodskappe stuur. Hoe?

WAT JY KAN DOEN

Stuur teksboodskappe net op gepaste tye. “Soms ontvang ek ’n teksboodskap baie laat in die nag”, sê ’n jong man met die naam Richard. “Dis nie eers oor iets belangriks nie, en dit hou my uit die slaap!” Vra jou af: ‘Stuur ek teksboodskappe aan mense wanneer hulle dalk rus?’—Bybelbeginsel: Prediker 3:1.

Let op die toon van jou boodskap. ’n Mens kommunikeer deur middel van woorde, stembuiging, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal. Ongelukkig is die meeste van hierdie elemente nie in ’n teksboodskap nie. Hoe kan jy daarvoor vergoed? “Wees beleefd”, sê ’n jong vrou met die naam Jasmine. “Vra hoe dit gaan en gebruik woorde soos ‘asseblief’ en ‘dankie’.”—Bybelbeginsel: Kolossense 4:6.

Lê goeie oordeel aan die dag. Kyk weer na die scenario onder “Die uitdaging”. As jy ’n belangrike boodskap verwag, sal jy jou dalk tydens ’n gesprek moet verskoon. Maar dikwels kan die boodskap wag. “Jou selfoon sal nog daar wees wanneer jou vriend klaar gepraat het”, sê die 17-jarige Amy, “maar jou vriend sal dalk nie meer daar wees wanneer jy met die teksboodskap klaar is nie.” Jy moet ook goeie oordeel aan die dag lê wanneer jy by ’n geselligheid is. “Moenie die hele tyd teksboodskappe stuur nie”, sê die 18-jarige Jane. “Dit sê vir mense: ‘Ek stel nie in jou geselskap belang nie; ek wil eerder iewers anders wees.’”

Dink voordat jy die boodskap stuur. Kan die teksboodskap verkeerd verstaan word? Sal prentjies help om die regte gevoel oor te dra? “As jy ’n grap maak oor iets, kan jy ’n glimlaggende gesiggie insit”, sê die 21-jarige Amber. “Mense voel soms seergemaak—en woordewisselings kan selfs begin—omdat hulle ’n lighartige opmerking ernstig opneem.”—Bybelbeginsel: Spreuke 12:18.

Dit is duidelik dat jou selfoonmaniere werklik saak maak!

Iets om oor te dink: Goeie maniere is op liefde gegrond. Hoe word hierdie eienskap geopenbaar? Die Bybel sê: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Op watter aspek van liefde moet jy jou toelê?

^ par. 11 Van die name in hierdie artikel is verander.