Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LANDE EN VOLKE

’n Besoek aan Costa Rica

’n Besoek aan Costa Rica

VYF eeue gelede het die Spanjaarde vir die eerste keer hier aangekom. Hulle het die gebied Costa Rica (Ryk Kus) genoem omdat hulle gedink het dat hulle ’n oorvloed goud sou vind—’n soektog wat onsuksesvol was. Vandag is hierdie land bekend, nie as ’n bron van kosbare metale nie, maar as een van die lande met die grootste verskeidenheid diere- en plantelewe op aarde.

Die mense van Costa Rica staan as Ticos bekend omdat hulle die gewoonte het om “-ico” aan die einde van woorde te voeg om verkleinwoorde te vorm. Byvoorbeeld, in plaas van om te sê “un momento” (net ’n oomblik), sê hulle “un momentico” (net ’n oomblikkie). In alledaagse spraak sê hulle dikwels “¡pura vida!” (pure lewe!) om te toon dat hulle iets waardeer of met iets saamstem of om “hallo” of “totsiens” te sê.

In Costa Rica se woude is daar ’n ongelooflike verskeidenheid plante en diere, soos hierdie rooioogboompadda (Agalychnis callidryas)

Een van die gunstelingdisse in Costa Rica is gallo pinto (wat letterlik “gespikkelde haan” beteken)—rys en boontjies wat apart en dan saam met speserye gekook word. Gallo pinto kan vir ontbyt, middagete of aandete bedien word. Een van die tradisionele drankies word café chorreado genoem—koffie wat gemaak word in ’n lapfilter wat in ’n staander hang wat dikwels van hout gemaak is.

Daar is ongeveer 450 gemeentes van Jehovah se Getuies in Costa Rica. Hulle vergaderinge word in tien tale gehou, insluitende Costa Ricaanse Gebaretaal en twee tale wat inheems is aan Costa Rica—Bribri en Cabecar.

HET JY GEWEET? Honderde bolvormige voorwerpe wat uit klip gekap is, is in Costa Rica gevind. Die grootste het ’n deursnee van 2,4 meter. Daar word geskat dat sommige meer as 1 400 jaar oud is. Niemand kan met sekerheid sê waarom hulle gemaak is nie!

Bolvormige voorwerpe wat uit klip gekap is