Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOLG HULLE GELOOF NA | HENOG

‘Hy was vir God welbehaaglik’

‘Hy was vir God welbehaaglik’

HENOG het baie lank gelewe. Hy het sowat 365 jaar oud geword, ’n ouderdom wat ons ons nie eens kan voorstel nie. Dit is vier keer langer as wat mense vandag lewe! Maar hy was nie regtig oud nie, ten minste nie in daardie tyd nie. Destyds, meer as 50 eeue gelede, het mense baie langer gelewe as wat hulle vandag lewe. Adam, die eerste man, het al meer as seshonderd jaar gelewe toe Henog gebore is, en daarna het Adam nog driehonderd jaar gelewe! Party van Adam se nakomelinge het selfs ouer geword. Toe Henog dus 365 jaar oud was, het hy dalk nog fris en gesond gelyk, soos ’n man wat nog ’n lang lewe voor hom het. Maar eintlik was dit glad nie die geval nie.

Henog was waarskynlik in groot gevaar. Stel jou voor hoe hy vlug en heeltyd dink aan hoe die mense gereageer het toe hy kort tevore ’n boodskap van God aan hulle oorgedra het. Sy boodskap het hierdie mense woedend gemaak, en hulle het Henog gehaat. Hulle het sy boodskap verag en hulle het die God wat hom gestuur het, verafsku. Hulle kon niks aan Henog se God, Jehovah, doen nie, maar hulle kon beslis iets aan hierdie man doen! Henog het dalk gewonder of hy sy gesin ooit weer sou sien. Het hy aan sy vrou en aan sy dogters gedink? Of aan sy seun Metusalag of aan sy kleinseun Lameg? (Genesis 5:21-23, 25). Was dit nou die einde van sy lewe?

Henog is ietwat van ’n raaiselagtige karakter in die Bybelverslag. Die Bybel praat net op drie plekke kortliks van hom (Genesis 5:21-24; Hebreërs 11:5; Judas 14, 15). Hierdie verse gee ons egter genoeg besonderhede om te weet dat Henog ’n man met sterk geloof was. Het jy ’n gesin om voor te sorg? Moes jy al ooit opstaan vir wat jy weet reg is? Indien wel, kan jy baie uit Henog se geloof leer.

“HENOG HET MET DIE WARE GOD BLY WANDEL”

Die mensdom was al baie verdorwe teen die tyd dat Henog gebore is. Dit was die sewende geslag in die geslagslyn van Adam. Mense was natuurlik baie nader aan die fisiese volmaaktheid wat Adam en Eva eers gehad en toe verloor het. Dit is waarom mense nog so lank gelewe het. Maar hulle was sedelik en geestelik verdorwe. Geweld was aan die orde van die dag. Dit het in die tweede geslag begin toe Kain sy broer Abel vermoor het. Dit lyk asof een van Kain se nakomelinge nogal trots was op die feit dat hy selfs gewelddadiger en wraakgieriger as Kain was! Gedurende die derde geslag het ’n ander boosheid egter kop uitgesteek. Mense het die naam van Jehovah begin aanroep, maar nie as ’n eerbiedige daad van aanbidding nie. Hulle het God se heilige naam eerder op ’n lasterlike, oneerbiedige manier gebruik.—Genesis 4:8, 23-26.

Hierdie soort verdorwe godsdiens was waarskynlik algemeen in Henog se dag. Toe Henog ouer word, moes hy dus ’n keuse maak. Sou hy soos die meeste mense van sy dag wees? Of sou hy die ware God, Jehovah, wat die hemel en die aarde gemaak het, soek? Dit het hom waarskynlik diep geraak toe hy leer omtrent Abel, wat ’n marteldood gesterf het omdat hy Jehovah op ’n aanneemlike wyse aanbid het. Henog het besluit om Abel se voorbeeld te volg. Genesis 5:22 toon dat Henog aangehou het om “met die ware God [te] wandel”. Hierdie merkwaardige stelling sonder Henog uit as ’n godvresende man in ’n goddelose wêreld. Hy is die eerste mens wat op hierdie manier in die Bybel beskryf word.

Dieselfde Bybelvers toon dat Henog nog met die ware God gewandel het nadat hy die vader van Metusalag geword het. Dit is dus duidelik dat Henog ’n gesin gehad het toe hy omtrent 65 jaar oud was. Hy het ’n vrou gehad, maar haar naam word nie in die Bybel genoem nie. Dit sê ook nie hoeveel “seuns en dogters” hy gehad het nie. ’n Pa wat met God wil wandel terwyl hy ’n gesin grootmaak, moet probeer om in ooreenstemming met God se standaarde vir sy gesin te sorg. Henog het geweet dat Jehovah van hom verwag om getrou aan sy vrou te wees (Genesis 2:24). En hy het ongetwyfeld sy bes gedoen om sy kinders oor Jehovah God te leer. Wat was die gevolg?

Die Bybel gee maar net ’n paar besonderhede in hierdie verband. Dit sê niks oor die geloof van Henog se seun Metusalag nie. Hy is die oudste man waarvan die Bybel praat. Hy het in dieselfde jaar gesterf as die jaar waarin die Vloed gekom het. Maar Metusalag het ’n seun met die naam Lameg gehad. Lameg en sy oupa Henog was meer as ’n eeu saam op die aarde. En Lameg het merkwaardige geloof getoon terwyl hy groot geword het. Jehovah het hom geïnspireer om ’n profesie uit te spreek oor sy seun Noag en hierdie profesie is ná die Vloed vervul. Noag word, net soos sy oupagrootjie, Henog, beskryf as ’n man wat met God gewandel het. Noag het Henog nooit ontmoet nie. Maar Henog het ’n ryk erfenis nagelaat. Dit is moontlik dat Noag by sy vader, Lameg, omtrent hierdie erfenis geleer het. Of moontlik het sy oupa Metusalag hom daarvan vertel of dalk selfs Henog se vader, Jared, wat gesterf het toe Noag 366 jaar oud was.—Genesis 5:25-29; 6:9; 9:1.

Dink aan die verskil tussen Henog en Adam. Al was Adam volmaak, het hy teen Jehovah gesondig en ’n erfenis van opstand en ellende nagelaat. Al was Henog onvolmaak, het hy met God gewandel en ’n erfenis van geloof nagelaat. Adam het gesterf toe Henog 308 jaar oud was. Het sy familie oor hierdie uiters selfsugtige voorvader getreur? Ons weet nie. Hoe dit ook al sy, Henog het “met die ware God bly wandel”.—Genesis 5:24.

As jy vir ’n gesin sorg, moet jy dink aan wat jy uit Henog se geloof kan leer. Dit is noodsaaklik om fisies vir jou gesin te sorg, maar niks is belangriker as hulle geestelike behoeftes nie (1 Timoteus 5:8). Jy voorsien nie net in hierdie behoeftes deur wat jy sê nie, maar ook deur wat jy doen. As jy, soos Henog, kies om met God te wandel en toelaat dat God se geïnspireerde standaarde jou lewe rig, sal jy ook ’n ryk erfenis vir jou gesin nalaat—’n kosbare voorbeeld wat hulle kan navolg.

HENOG HET “OOR HULLE GEPROFETEER”

Henog het dalk gevoel dat hy die enigste man van geloof is in ’n wêreld sonder geloof. Maar het sy God, Jehovah, sy geloof raakgesien? Beslis. Op ’n dag het Jehovah met hierdie getroue kneg van hom gekommunikeer. God het vir Henog ’n boodskap gegee om aan die mense van sy dag oor te dra. Hy het Henog dus ’n profeet gemaak, die eerste profeet wie se boodskap in die Bybel geopenbaar word. Ons weet hiervan omdat Judas, ’n halfbroer van Jesus, eeue later geïnspireer is om Henog se profetiese woorde neer te skryf. *

Wat was Henog se profesie? Hy het gesê: “Kyk! Jehovah het met sy heilige tienduisende gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Jy let moontlik dadelik op dat Henog in die verlede tyd praat, asof God reeds gedoen het wat die profesie beskryf. Dit is ’n patroon wat baie profesieë daarna gevolg het. Die punt is: Die profeet is so seker dat iets wat nog moet gebeur, beslis sal gebeur dat hy dit beskryf asof dit reeds gebeur het!—Jesaja 46:10.

Henog was nie bang om God se boodskap aan ’n vyandige wêreld bekend te maak nie

Hoe het Henog gevoel oor die feit dat hy hierdie boodskap aan almal moes verkondig? Let op hoe kragtig die waarskuwing was—dit gebruik die woord “goddelose” vier keer om die mense, hulle dade en die wyse waarop hulle hierdie dade uitgevoer het, te veroordeel. Die profesie het dus alle mense gewaarsku dat die wêreld wat hulle opgebou het sedert die mens uit die tuin van Eden verdryf is, deur en deur sleg was. Daardie wêreld sou voor ’n rampspoedige einde te staan kom wanneer Jehovah met sy “heilige tienduisende”—’n groot leër magtige engele wat gereed is om te veg—sou kom om vernietiging te bring. Henog het hierdie goddelike waarskuwing moedig bekendgemaak en hy het dit stoksielalleen gedoen! Dalk het die jong Lameg hom dopgehou, verstom oor sy oupa se moed. Indien wel, kan ons verstaan waarom.

Henog se geloof kan ons dalk beweeg om te dink of ons die wêreld waarin ons lewe, sien soos God dit sien. Die oordeelsboodskap wat Henog moedig verkondig het, geld nog steeds; dit is op vandag se wêreld van toepassing net soos dit op die wêreld in Henog se dag van toepassing was. In ooreenstemming met Henog se waarskuwing het Jehovah die groot Vloed oor die goddelose wêreld van Noag se dag gebring. Maar daardie vernietiging het die grondslag gelê vir ’n groter vernietiging wat nog moet kom (Matteus 24:38, 39; 2 Petrus 2:4-6). Vandag, net soos destyds, staan God gereed met sy heilige tienduisende om ’n regverdige oordeel te bring oor ’n goddelose wêreld. Elkeen van ons moet ag slaan op Henog se waarskuwing en ander daarvan vertel. Ons familie en vriende sal ons dalk nie ondersteun nie. En soms sal ons dalk alleen voel. Maar Jehovah het Henog nooit verlaat nie, en hy sal sy getroue knegte van vandag ook nooit verlaat nie!

“WEGGEVOER OM DIE DOOD NIE TE SIEN NIE”

Hoe het Henog se lewe tot ’n einde gekom? Op ’n manier is sy dood selfs geheimsinniger en fassinerender as sy lewe. Die Genesisverslag sê net: “Henog het met die ware God bly wandel. Toe was hy nie meer daar nie, want God het hom geneem” (Genesis 5:24). Hoe het God Henog geneem? Die apostel Paulus het later verduidelik: “Deur geloof is Henog weggevoer om die dood nie te sien nie, en hy kon nêrens gevind word nie, omdat God hom weggevoer het; want voor sy wegvoering het hy die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was” (Hebreërs 11:5). Wat het Paulus bedoel met die woorde “weggevoer om die dood nie te sien nie”? Party Bybelvertalings sê dat God Henog hemel toe geneem het. Maar dit kan nie waar wees nie. Die Bybel toon dat Jesus Christus die eerste persoon is wat tot lewe in die hemel opgewek is.—Johannes 3:13.

In watter sin is Henog dan “weggevoer om die dood nie te sien nie”? Jehovah het Henog waarskynlik laat sterf sonder dat hy enige pyn of doodsangs ervaar het. Maar Henog het eers “die getuienis gehad dat hy vir God welbehaaglik was”. Hoe? Henog het moontlik, net voordat hy gesterf het, ’n visioen van God ontvang waarin hy die aarde as ’n paradys gesien het. Henog het met daardie duidelike teken van Jehovah se goedkeuring in sy gedagtes gesterf. Die apostel Paulus het oor Henog en ander getroue manne en vroue geskryf en gesê: “In geloof het hulle almal gesterf” (Hebreërs 11:13). Ná Henog se dood het sy vyande moontlik na sy liggaam gesoek, maar dit “kon nêrens gevind word nie”. Jehovah het dalk daarvan ontslae geraak sodat hulle dit nie kon skend of kon gebruik om valse aanbidding te bevorder nie. *

Kom ons hou hierdie skriftuurlike redenasie in gedagte terwyl ons ons probeer voorstel hoe Henog se lewe moontlik tot ’n einde gekom het. Stel jou die volgende toneel voor, maar onthou dat dit net ’n moontlikheid is. Henog was besig om te vlug en hy was al amper pootuit. Sy vervolgers was op sy hakke en hulle was briesend kwaad oor sy oordeelsboodskap. Henog het ’n wegkruipplek gevind waar hy ’n rukkie kon rus, maar hy het geweet dat hy nie baie lank veilig sou wees nie. ’n Gewelddadige dood het op hom gewag. Terwyl hy gerus het, het hy tot sy God gebid. Toe het ’n diep gevoel van vrede oor hom gekom. Henog het ’n visioen gehad wat so werklik was dat dit vir hom gevoel het asof hy daar is. Dit het sy gedagtes ver weggeneem.

’n Gewelddadige dood het waarskynlik op Henog gewag toe Jehovah hom weggevoer het

Stel jou voor dat hy ’n toneel sien van ’n wêreld wat heeltemal anders is as die een wat hy geken het. Dit het vir hom net so mooi gelyk soos die tuin van Eden, maar daar was nie gerubs wat dit bewaak het om mense buite te hou nie. Daar was baie mans en vroue—almal jonk en blakend gesond. Hulle het in vrede gelewe. Daar was geen teken van die haat en die godsdiensvervolging wat Henog maar alte goed geken het nie. Henog het Jehovah se versekering, liefde en goedkeuring aangevoel. Hy was seker dat dit die plek is waar hy behoort; dat dit sy tuiste sou wees. ’n Diep gevoel van vrede het oor Henog gekom, en hy het sy oë toegemaak en in ’n diep, droomlose slaap geval.

En hy is tot vandag toe daar—hy slaap in die dood, veilig in Jehovah God se onbeperkte geheue! Die dag sal kom, net soos Jesus belowe het, wanneer almal wat in God se geheue is, Christus se stem sal hoor en uit die graf sal kom. Hulle sal hulle oë oopmaak en in ’n pragtige en vreedsame nuwe wêreld wees.—Johannes 5:28, 29.

Sal jy graag daar wil wees? Stel jou voor hoe opwindend dit sal wees om Henog te ontmoet. Dink aan die wonderlike dinge wat ons by hom kan leer! Hy sal vir ons kan sê hoe na aan die waarheid ons denkbeeldige voorstelling van sy laaste oomblikke was. Maar daar is nou iets wat ons dringend by hom moet leer. Nadat Paulus Henog bespreek het, het hy gesê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 11:6). Wat ’n kragtige rede is dit tog vir elkeen van ons om Henog se moed en sterk geloof na te volg!

^ par. 14 Party Bybelgeleerdes beweer dat Judas aangehaal het uit ’n apokriewe boek wat die Boek van Henog genoem word. Maar hierdie boek, wat verkeerdelik aan Henog toegeskryf word, is ’n vergesogte verslag waarvan die oorsprong onbekend is. Dit bevat ’n akkurate weergawe van Henog se profesie, maar die inligting kom dalk van ’n onbekende eertydse bron—moontlik ’n geskrewe dokument of ’n mondelinge tradisie. Judas het moontlik dieselfde eertydse bron gebruik. Of Jesus, wat Henog se lewe eerstehands uit die hemel gesien het, het hom dalk hiervan vertel.

^ par. 20 Net so het God waarskynlik seker gemaak dat die liggame van Moses en Jesus ook nie op hierdie maniere misbruik kon word nie.—Deuteronomium 34:5, 6; Lukas 24:3-6; Judas 9.