Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die grootste bewys van God se liefde

Die grootste bewys van God se liefde

Kom nader aan God

Die grootste bewys van God se liefde

Genesis 22:1-18

ABRAHAM was lief vir God. Daardie getroue aartsvader was ook lief vir Isak, die seun van sy oudag. Maar toe Isak moontlik 25 jaar oud was, het Abraham voor ’n toets te staan gekom wat ingedruis het teen die natuurlike gevoelens van ’n vader—God het vir hom gesê dat hy sy seun as ’n offerande moet bring. Maar die verhaal eindig nie met Isak se dood nie. Op die kritieke oomblik het God deur middel van ’n engel ingegryp. Hierdie Bybelverslag, soos opgeteken in Genesis 22:1-18, gee ons ’n profetiese voorskou van God se groot liefde vir ons.

“God [het] Abraham op die proef gestel”, sê vers 1. Abraham was ’n man van geloof, maar sy geloof sou nou op die proef gestel word soos nog nooit tevore nie. God het gesê: “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en . . . offer hom . . . as ’n brandoffer op een van die berge wat ek jou sal aanwys” (Vers 2). Onthou, God laat nie toe dat sy knegte beproef word bo wat hulle kan verdra nie. Hierdie toets het dus sy vertroue in Abraham getoon.—1 Korintiërs 10:13.

Abraham het God onmiddellik gehoorsaam. Ons lees: “Abraham [het] die oggend vroeg opgestaan en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het die hout vir die brandoffer gekloof. Toe het hy opgestaan en gereis” (Vers 3). Abraham het klaarblyklik die besonderhede van die toets vir homself gehou.

’n Driedaagse reis het gevolg, wat tyd gebied het vir ernstige bepeinsing. Maar Abraham het vasbeslote gebly. Sy woorde het sy geloof geopenbaar. Toe hy die gekose berg in die verte sien, het hy vir sy dienaars gesê: “Bly julle hier . . . , maar ek en die seun wil daarheen gaan en aanbid en na julle toe terugkeer.” Toe Isak vra waar die skaap vir die offerande is, het Abraham gesê: “God sal self die skaap . . . voorsien” (Verse 58). Abraham het verwag dat hy met sy seun sou terugkeer. Waarom? Omdat hy “gereken [het] dat God hom [Isak] selfs uit die dode kon opwek”.—Hebreërs 11:19.

Toe Abraham op die berg ‘die mes neem om sy seun dood te maak’, het ’n engel hom gekeer. God het toe ’n ram voorsien, wat in ’n ruigte vasgevang was en wat Abraham “in die plek van sy seun” kon offer (Verse 10-13). In God se oë was dit asof Isak werklik geoffer is (Hebreërs 11:17). “Vir God”, verduidelik een geleerde, “was die bereidwilligheid so goed as die daad.”

Jehovah se vertroue in Abraham is geregverdig. En Abraham se vertroue in Jehovah is beloon, want God het sy verbond met Abraham herhaal en daarop uitgewei, ’n verbond wat seëninge vir mense van al die nasies belowe het.—Verse 15-18.

Op die ou end het God Abraham die opoffering gespaar wat Hy homself nie sou spaar nie. Abraham se bereidwilligheid om Isak te offer, het God se offerande van sy enigverwekte Seun, Jesus, vir ons sondes voorafgeskadu (Johannes 3:16). Die offerande van Christus is die grootste bewys van Jehovah se liefde vir ons. Aangesien God só ’n opoffering vir ons gemaak het, kan ons ons gerus afvra: ‘Watter opofferings is ek bereid om te maak om God te behaag?’