Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy word hartlik uitgenooi

Jy word hartlik uitgenooi

DALK het jy al verby ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou omgewing geloop of gery en gewonder wat daar plaasvind. Het jy geweet dat hulle weeklikse vergaderinge oop is vir die publiek? Besoekers word hartlik verwelkom.

Maar dalk het jy ’n paar vrae. Waarom kom Jehovah se Getuies bymekaar? Wat gebeur by hierdie vergaderinge? En wat sê besoekers wat nie Jehovah se Getuies is nie, oor die vergaderinge?

“Laat die volk bymekaarkom”

Van die vroegste tye af vergader mense om God te aanbid en van hom te leer. Byna 3 500 jaar gelede is daar vir die Israeliete gesê: “Laat die volk bymekaarkom, die manne en die vroue en die kindertjies en jou inwonende vreemdeling wat in jou poorte is, sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer, aangesien hulle Jehovah julle God moet vrees en al die woorde van hierdie wet sorgvuldig moet onderhou” (Deuteronomium 31:12). In Israel is jonk sowel as oud dus geleer om Jehovah God te aanbid en aan hom gehoorsaam te wees.

Eeue later, toe die Christengemeente gestig is, was vergaderinge steeds ’n belangrike kenmerk van ware aanbidding. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons besorg wees oor mekaar sodat ons liefde en goeie werke kan bevorder en nie van ons vergaderinge af wegbly, soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig” (Hebreërs 10:24, 25, Holman Christian Standard Bible). Net soos gesinsbande versterk word wanneer gesinslede tyd saam deurbring, word die bande van liefde tussen dié wat God wil dien, versterk wanneer Christene vir aanbidding bymekaarkom.

In ooreenstemming met hierdie skriftuurlike voorbeelde vergader Jehovah se Getuies twee maal per week by hulle Koninkryksale. Die vergaderinge help dié wat dit bywoon om Bybelbeginsels te waardeer, te verstaan en toe te pas. Waar moontlik word dieselfde program wêreldwyd gevolg, en elke vergadering het sy eie geestelike oogmerk. Voor en ná die vergaderinge geniet dié wat dit bywoon “wedersydse aanmoediging” deur middel van opbouende gesprekke (Romeine 1:12). Wat gebeur by elkeen van hierdie vergaderinge?

Bybeltoespraak

Die eerste vergadering wat mense gewoonlik bywoon, is ’n Bybeltoespraak wat vir die publiek bedoel is en gewoonlik oor die naweek gehou word. Jesus Christus het dikwels openbare toesprake gehou—onder andere die beroemde Bergpredikasie (Matteus 5:1; 7:28, 29). Die apostel Paulus het die manne van Atene toegespreek (Handelinge 17:22-34). In ooreenstemming met hierdie patroon is een van die vergaderinge van Jehovah se Getuies ’n toespraak wat spesiaal voorberei is vir die algemene publiek, waarvan party dalk vir die eerste keer ’n vergadering bywoon.

Die vergadering word geopen met ’n lied uit die boek Sing lofliedere voor Jehovah. a Almal wat wil, kan staan en die lied saamsing. Ná ’n kort gebed hou ’n bekwame spreker ’n toespraak van 30 minute. (Sien die venster  “Praktiese toesprake vir die publiek”.) Sy toespraak is stewig gegrond op die Bybel. Die spreker nooi die gehoor dikwels om toepaslike Bybeltekste na te slaan en in hulle Bybel te volg terwyl die verse gelees word. Jy kan dus jou eie Bybel saambring, of jy kan een van Jehovah se Getuies voor die vergadering vir ’n Bybel vra.

Wagtoring-studie

In die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies word die openbare toespraak gevolg deur die Wagtoring-studie, wat ’n vraag-en-antwoord-bespreking van een uur oor ’n Bybelonderwerp is. Hierdie vergadering moedig almal wat dit bywoon aan om die voorbeeld van die Bereane in Paulus se dag te volg, wat “die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang [het] en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek” het.—Handelinge 17:11.

Die Wagtoring-studie begin met ’n lied. Die inligting wat bespreek word en die vrae wat deur die studiehouer gevra word, verskyn in die studie-uitgawe van hierdie tydskrif. Jy kan ’n eksemplaar van die studie-uitgawe by een van Jehovah se Getuies kry. Onderwerpe wat onlangs bespreek is, sluit in: “Ouers—Lei julle kinders op met liefde”, “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie” en “Waarom alle lyding binnekort sal eindig”. Hoewel die vergadering as ’n vraag-en-antwoord-bespreking gehou word, is deelname deur die gehoor vrywillig en word die kommentare gewoonlik gegee deur dié wat die artikel en die stawende tekste vooraf gelees het en daaroor nagedink het. Die vergadering word dan met ’n lied en gebed afgesluit.—Matteus 26:30; Efesiërs 5:19.

Gemeentelike Bybelstudie

Een aand per week kom Jehovah se Getuies weer by die Koninkryksaal bymekaar vir ’n driedelige program wat altesaam 1 uur en 45 minute duur. Die eerste sessie is die Gemeentelike Bybelstudie, wat 25 minute lank is. Dit help dié wat dit bywoon om hulle Bybel beter te leer ken, aanpassings in hulle denke en gesindheid te maak, en beter dissipels van Christus te word (2 Timoteus 3:16, 17). Soos die Wagtoring-studie, is hierdie vergadering ’n vraag-en-antwoord-bespreking van ’n Bybelonderwerp. Dié wat kommentaar lewer, doen dit uit vrye wil. Die Bybelstudiehulp wat gebruik word, is gewoonlik ’n boek of brosjure wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

Waarom word Bybellektuur by die vergadering gebruik? In Bybeltye was dit nie genoeg om God se Woord net te lees nie. “Dit is uitgelê en betekenis is daaraan gegee; en hulle het wat voorgelees is, deurentyd verstaanbaar gemaak” (Nehemia 8:8). In onlangse jare het publikasies wat die boeke Jesaja, Daniël en Openbaring bespreek, diegene wat die vergadering bywoon, gehelp om hierdie gedeeltes van die Bybel te verstaan.

Teokratiese Bedieningskool

Die Teokratiese Bedieningskool volg op die Gemeentelike Bybelstudie. Hierdie vergadering van 30 minute is bedoel om Christene te help om die “onderrigkuns” te ontwikkel (2 Timoteus 4:2). Het jou kind of ’n vriend jou byvoorbeeld al ooit ’n vraag oor God of die Bybel gevra wat jy nie behoorlik kon beantwoord nie? Die Teokratiese Bedieningskool kan jou leer hoe om aanmoedigende Bybelse antwoorde op moeilike vrae te gee. Sodoende sal ons soos die profeet Jesaja kan sê: “Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord.”—Jesaja 50:4.

Die Teokratiese Bedieningskool begin met ’n toespraak wat gebaseer is op ’n Bybelgedeelte wat die aanwesiges aangemoedig is om gedurende die vorige week te lees. Ná die toespraak nooi die spreker die gehoor om kort kommentare te gee oor aspekte van die toegewese leesgedeelte wat hulle nuttig gevind het. Ná hierdie bespreking doen studente wat by die skool aangesluit het, hulle toegewese aanbiedings.

Studente word toegewys om ’n gedeelte van die Bybel van die verhoog af voor te lees, of om te demonstreer hoe om ’n skriftuurlike onderwerp aan iemand anders te verduidelik. Ná elke toespraak prys ’n ervare raadgewer die student vir die aspekte waarin hy of sy goed gevaar het, en hy baseer sy kommentare op die handboek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool. Later kan hy privaat aan die student wenke gee oor hoe hy of sy kan verbeter.

Hierdie snelbewegende deel van die program is saamgestel om nie net die student nie, maar ook almal in die gehoor wat hulle lees-, spraak- en onderrigvermoë wil verbeter, te help. Ná die Teokratiese Bedieningskool word die Diensvergadering ingelei met ’n lied wat op ’n gedeelte in die Bybel gebaseer is.

Diensvergadering

Die laaste deel van die program is die Diensvergadering. Deur middel van toesprake, demonstrasies, onderhoude en gehoorbesprekings leer almal in die gehoor hoe om Bybelwaarheid doeltreffend aan ander te leer. Voordat Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy hulle bymekaargeroep en vir hulle breedvoerige instruksies gegee (Lukas 10:1-16). Hulle was nou ten volle voorbereid vir die evangelisasiewerk en het talle interessante ondervindinge geniet. Later het Jesus se volgelinge vir hom van hulle ondervindinge kom vertel (Lukas 10:17). Die dissipels het dikwels vir mekaar ondervindinge vertel.—Handelinge 4:23; 15:4.

Die program vir die Diensvergadering, wat 35 minute duur, word uiteengesit in ’n maandelikse nuusbrief wat Ons Koninkryksbediening genoem word. Onderwerpe wat onlangs bespreek is, sluit in: “Aanbid Jehovah as ’n gesin”, “Waarom ons herhaaldelik teruggaan” en “Volg Christus na in jou bediening”. Die program word afgesluit met ’n lied, en ’n gemeentelid word toegewys om ’n slotgebed te doen.

Wat besoekers al gesê het

Gemeentes probeer om almal welkom te laat voel. Andrew het byvoorbeeld talle negatiewe stories omtrent Jehovah se Getuies gehoor. Maar toe hy sy eerste vergadering bywoon, was hy verbaas oor hoe hartlik hy verwelkom is. “Dit was baie lekker om daar te wees”, sê Andrew. “Ek was baie verbaas oor hoe vriendelik die mense was en hoeveel hulle in my belanggestel het.” Ashel, ’n tiener in Kanada, stem saam. “Die vergadering was baie interessant! Dit was maklik om die program te volg.”

José, wat in Brasilië woon, was in sy gemeenskap bekend as ’n aggressiewe persoon. Hy is nietemin na ’n vergadering by die plaaslike Koninkryksaal genooi. “Die mense by die Koninkryksaal het my hartlik verwelkom, al het hulle geweet hoe ek my in die verlede gedra het”, sê hy. Atsoesji, wat in Japan woon, sê: “Ek moet erken dat ek ’n bietjie ongemaklik gevoel het toe ek my eerste vergadering saam met Jehovah se Getuies bygewoon het. Maar ek het besef dat hulle net gewone mense is. Hulle het werklik probeer om my op my gemak te laat voel.”

Jy is welkom

Soos die kommentare hierbo toon, kan dit ’n baie lonende ondervinding wees om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Jy sal kennis van God inneem, en Jehovah God sal jou leer hoe “om jouself te bevoordeel” deur middel van die Bybelonderrig wat jy daar ontvang.—Jesaja 48:17.

Die vergaderinge van Jehovah se Getuies is gratis, en geen kollektes word ingesamel nie. Wil jy graag ’n vergadering by die Koninkryksaal in jou omgewing bywoon? Ons nooi jou hartlik uit om dit te doen.

a Al die publikasies waarna daar in hierdie artikel verwys word, word deur Jehovah se Getuies uitgegee.