Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bedell se Bybel—’n Treetjie nader aan ’n beter begrip van die Bybel

Bedell se Bybel—’n Treetjie nader aan ’n beter begrip van die Bybel

TOE die Engelse geestelike William Bedell in 1627 na Ierland gegaan het, het hy ’n vreemde situasie daar gevind. Ierland, wat hoofsaaklik Katoliek was, was onder die bewind van Brittanje, wat Protestants was. Protestantse Hervormers het die Bybel alreeds in etlike Europese tale vertaal. Maar dit het gelyk asof niemand daarin belanggestel het om dit in Iers te vertaal nie.

Bedell het sterk daaroor gevoel dat die Iere “nie afgeskeep moet word totdat hulle Engels kan leer nie”. Hy het die taak aangepak om ’n Bybel in Iers te vertaal. Maar hy is hewig teëgestaan, veral deur Protestante. Waarom?

DIE GEBRUIK VAN IERS WORD TEËGESTAAN

Bedell het hom daarop toegelê om self Iers te leer. Hy het studente aangespoor om Iers te gebruik toe hy die provoos, of hoof, van Trinity College in Dublin geword het en toe hy later die biskop van Kilmore geword het. Om die waarheid te sê, toe koningin Elisabet I van Engeland Trinity College gestig het, wou sy hê dat die universiteit predikante moes oplewer wat die Bybel se boodskap in hulle moedertaal aan haar onderdane sou leer. Dit was ook Bedell se doelwit.

In die bisdom van Kilmore het die oorgrote meerderheid mense Iers gepraat. Daarom het Bedell daarop aangedring om predikante te hê wat Iers kan praat. Hy het sy beroep gedoen in die gees van die apostel Paulus se woorde in 1 Korintiërs 14:19, waar dit sê: “In ’n gemeente [sou ek] liewer vyf woorde met my verstand praat, sodat ek ander ook mondeling kan onderrig, as tienduisend woorde in ’n taal”, dit wil sê in ’n taal wat nie goed verstaan word nie.

Maar invloedryke gesagsfigure het alles in hulle vermoë gedoen om hom te keer. Volgens geskiedkundiges het party beweer dat die gebruik van Iers “’n gevaar inhou vir die Staat” en het ander aangevoer dat dit “nie in die belang van die Regering is nie”. Party het gevoel dat dit tot Engeland se voordeel sou strek om die Iere in die duister te hou. Trouens, wette is uitgevaardig wat vereis het dat die Iere hulle eie taal en gebruike prysgee en dat hulle leer om Engels te praat en Engelse gebruike aanneem.

BEDELL SE BYBELPROJEK

Bedell is nie deur sulke diktatoriale beskouings afgeskrik nie. Vroeg in die 1630’s het hy die onlangs gepubliseerde Engelse Bybel (die King James Version van 1611) in Iers begin vertaal. Hy wou ’n Bybel voortbring wat deur soveel mense as moontlik verstaan sou word. Hy het gevoel dat die armes nie die Skrif kon ondersoek om die weg na die ewige lewe te vind solank die Bybel vir hulle ’n toe boek bly nie.—Johannes 17:3.

Bedell was nie die eerste wat dit besef het nie. Ongeveer 30 jaar vroeër het ’n ander biskop, William Daniel, gesien hoe moeilik dit vir mense is om uit te vind wat die Bybel leer wanneer dit “deur ’n onbekende taal verduister word”. Daniel het die Christelike Griekse Geskrifte in Iers vertaal. Nou het Bedell die taak aangepak om die Hebreeuse Geskrifte te vertaal. Wat as Bedell se Bybel bekend staan, sluit sy werk sowel as William Daniel se vroeëre werk in. Bedell se Bybel—die eerste volledige Bybel in Iers—was vir die volgende 300 jaar die enigste vertaling van die Bybel in Iers.

Bedell, ’n knap Hebreeuse geleerde, het twee moedertaalsprekers van Iers gekry om hom te help om die Bybel uit Engels in Iers te vertaal. Terwyl hulle met hulle werk voortgegaan het, het Bedell, tesame met een of twee vertroude helpers, elke vers noukeurig nagegaan en hersien. Hulle het ’n Italiaanse vertaling deur ’n Switserse teoloog Giovanni Diodati, die Griekse Septuagint en ’n kosbare ou Hebreeuse Bybelmanuskrip geraadpleeg.

Soos die vertalers van die King James Version (van wie Bedell talle waarskynlik persoonlik geken het), het die span God se persoonlike naam op ’n aantal plekke in hulle Bybel ingesluit. In Eksodus 6:3 het hulle God se naam byvoorbeeld met “Iehovah” weergegee. Bedell se oorspronklike manuskrip word bewaar in Marsh se Biblioteek, Dublin, Ierland.—Sien die venster “Bedell se werk word onthou en erken”.

UITEINDELIK GEPUBLISEER

Bedell het sy projek omstreeks 1640 voltooi. Maar hy kon dit nie onmiddellik publiseer nie. Waarom nie? Een rede was die voortdurende teenstand wat hy ondervind het. Teenstanders het Bedell se hoofvertaler beswadder en gehoop om die geloofwaardigheid van sy werk sodoende te ondermyn. Hulle het hom selfs kwaadwillig in hegtenis laat neem en laat opsluit. En asof dit nie genoeg was nie, het Bedell hom bevind in die middel van ’n bloedige en bittere opstand teen die Engelse, wat in 1641 uitgebreek het. Plaaslike Iere het Bedell ’n tyd lank beskerm ondanks sy Engelse herkoms omdat hulle besef het dat hy opreg oor hulle besorg was. Maar uiteindelik het rebellesoldate hom in haglike toestande opgesluit. Dit het ongetwyfeld sy dood in 1642 bespoedig, nog voordat sy werk gepubliseer is.

Die titelblad van Bedell se oorspronklike manuskrip, omstreeks 1640, en die gepubliseerde Bybel, 1685

Bedell se werk het amper verlore gegaan toe sy huis geplunder en vernietig is. Gelukkig het ’n goeie vriend dit reggekry om al sy vertaalde dokumente te red. Ná verloop van tyd het Narcissus Marsh, wat later die aartsbiskop van Armagh en die primaat, of hoof, van die Kerk van Ierland geword het, dit in die hande gekry. Hy het finansiële ondersteuning van die wetenskaplike Robert Boyle ontvang en het die moed gehad om Bedell se Bybel in 1685 te publiseer.

’N KLEIN MAAR BELANGRIKE TREE VORENTOE

Bedell se Bybel is nie wêreldwyd met entoesiasme begroet nie. Nogtans was dit ’n klein maar belangrike tree nader aan ’n beter begrip van die Bybel, veral vir mense wat Iers gepraat het—nie net in Ierland nie, maar ook in Skotland en op baie ander plekke. Nou kon hulle hulle geestelike behoefte bevredig, aangesien hulle God se Woord in hulle moedertaal kon lees.—Matteus 5:3, 6.

“Wanneer ons Bedell se Bybel gelees het, het ons die Bybel se woorde in ons moedertaal gehoor. Dit was ’n kritieke faktor wat dit vir my en my gesin moontlik gemaak het om te leer oor die wonderlike waarhede wat in die Bybel gevind word.”

Bedell se Bybel help liefhebbers van waarheid tot vandag toe om dit te doen. ’n Ierssprekende persoon, wat redelik onlangs uitgevind het wat die Bybel werklik leer, sê: “Wanneer ons Bedell se Bybel gelees het, het ons die Bybel se woorde in ons moedertaal gehoor. Dit was ’n kritieke faktor wat dit vir my en my gesin moontlik gemaak het om te leer oor die wonderlike waarhede wat in die Bybel gevind word.”