Spring na inhoud

Ek wil doodgaan – Kan die Bybel my help as ek daaraan dink om selfmoord te pleeg?

Ek wil doodgaan – Kan die Bybel my help as ek daaraan dink om selfmoord te pleeg?

Die Bybel se antwoord

 Ja! Die Bybel kom van “God, wat die terneergedruktes vertroos” (2 Korintiërs 7:6). Al is die Bybel nie ’n boek wat handel oor geestesgesondheid nie, het dit baie mense al gehelp om selfmoordgedagtes te oorkom. Die praktiese raad daarin kan jou ook help.

 Watter praktiese raad gee die Bybel?

  • Sê vir ander hoe jy voel.

     Wat die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” – Spreuke 17:17.

     Betekenis: Ons het die ondersteuning van ander nodig wanneer ons ontstellende gedagtes het.

     As jy nie vir ander sê hoe jy voel nie, kan jou negatiewe gevoelens jou oorweldig. Maar as jy vir ander sê hoe jy voel, sal jy dalk beter begin voel en positiewer wees oor jou situasie.

     Probeer die volgende: Praat vandag met iemand, dalk ’n familielid of ’n vriend wat jy vertrou. a Jy kan ook jou gevoelens neerskryf.

  • Kry professionele hulp.

     Wat die Bybel sê: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.” – Matteus 9:12.

     Betekenis: Ons moet mediese hulp kry wanneer ons siek is.

     Selfmoordgedagtes kan dalk ’n simptoom wees van ’n verstandelike of emosionele siekte. Net soos met ’n fisiese siekte hoef jy nie daaroor skaam te wees nie. Verstandelike en emosionele siektes kan behandel word.

     Probeer die volgende: Kry so gou as moontlik die hulp van ’n gekwalifiseerde dokter.

  • Onthou dat God vir jou omgee.

     Wat die Bybel sê: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie ... Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.” – Lukas 12:6, 7.

     Betekenis: Jy is kosbaar in God se oë.

     Jy voel dalk eensaam, maar God sien waardeur jy gaan. Hy gee om vir jou – al voel jy dat jy nie meer wil lewe nie. “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie”, sê Psalm 51:17. God wil hê dat jy moet lewe, want hy is lief vir jou.

     Probeer die volgende: Kyk na bewyse in die Bybel dat God jou liefhet. Byvoorbeeld, sien hoofstuk 24 van die Bybelstudiehulp Kom nader aan Jehovah.

  • Bid tot God.

     Wat die Bybel sê: “[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.” – 1 Petrus 5:7.

     Betekenis: God nooi jou om vir hom te sê hoe jy regtig voel en waaroor jy bekommerd is.

     God kan jou innerlike vrede gee, en die krag om jou situasie te verduur (Filippense 4:6, 7, 13). Op hierdie manier ondersteun hy dié wat hom opreg vir hulp vra. – Psalm 55:22.

     Probeer die volgende: Bid vandag tot God. Gebruik sy naam, Jehovah, en vertel hom hoe jy voel (Psalm 83:18). Vra dat hy jou help om nie moed op te gee nie.

  • Dink na oor die Bybel se hoop vir die toekoms.

     Wat die Bybel sê: “Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel, seker sowel as vas.” – Hebreërs 6:19.

     Betekenis: Jou emosies gaan dalk op en af soos ’n skip in ’n storm, maar die Bybel se hoop kan jou help om kalmer te voel.

     Hierdie hoop is nie net ’n fantasie nie, maar dit is gebaseer op God se belofte dat hy ’n einde gaan maak aan die oorsake van ons pyn. – Openbaring 21:4.

     Probeer die volgende: Leer meer oor die Bybel se hoop deur les 5 van die brosjure Goeie nuus wat van God kom! te lees.

  • Doen iets wat jy geniet.

     Wat die Bybel sê: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel.” – Spreuke 17:22.

     Betekenis: Wanneer ons dinge doen wat ons gelukkig maak, kan dit ons verstandelike en emosionele gesondheid verbeter.

     Probeer die volgende: Doen iets wat jy gewoonlik geniet. Byvoorbeeld, luister na opbouende musiek, lees iets aanmoedigends of kry ’n stokperdjie. Jy sal ook gelukkiger wees as jy iets doen om ander te help, selfs op klein maniere. – Handelinge 20:35.

  • Sien om na jou gesondheid.

     Wat die Bybel sê: “Liggaamlike oefening het ... voordeel”. – 1 Timoteus 4:8.

     Betekenis: Dit hou vir ons voordele in wanneer ons oefen, genoeg slaap kry en gesonde kos eet.

     Probeer die volgende: Gaan stap ’n entjie, selfs al is dit net vir 15 minute.

  • Onthou dat gevoelens en ander dinge in die lewe verander.

     Wat die Bybel sê: “Julle ... weet [nie] wat julle lewe môre sal wees nie.” – Jakobus 4:14.

     Betekenis: ’n Ernstige probleem, selfs een wat lyk asof dit buite jou beheer is, kan dalk tydelik wees.

     Maak nie saak hoe hopeloos jou situasie vandag lyk nie, dit kan môre verander. Daarom sal dit goed wees om na maniere te soek om dit te hanteer (2 Korintiërs 4:8). Jou stresvolle omstandighede is nie permanent nie, dit sal waarskynlik in die toekoms verander. Maar selfmoord is permanent.

     Probeer die volgende: Lees Bybelverslae oor mense wat so mismoedig gevoel het dat hulle wou sterf, en kyk hoe hulle lewe later verbeter het ­­– dikwels op maniere wat hulle nooit verwag het nie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

 Is daar voorbeelde in die Bybel van mense wat wou sterf?

 Ja. Die Bybel vertel ons van party mense wat gesê het dat hulle nie meer wil lewe nie. God het hulle nie bestraf nie, maar het hulle eerder gehelp. Hy kan dieselfde vir jou doen.

Elia

  •  Wie was hy? Elia was ’n dapper profeet. Maar hy het soms ook mismoedig gevoel. “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n,” sê Jakobus 5:17.

  •  Hoekom wou hy sterf? Op een stadium het Elia alleen, bang en waardeloos gevoel. Daarom het hy gesmeek: “Neem nou my siel weg, o Jehovah.” – 1 Konings 19:4.

  •  Wat het hom gehelp? Elia het vir God gesê presies hoe hy voel. Hoe het God hom aangemoedig? God het vir Elia gewys dat Hy vir hom omgee en hom laat sien hoe kragtig Hy is. Hy het Elia ook verseker dat hy waardevol is en vir hom ’n liefdevolle en bekwame assistent gegee.

  •  Lees oor Elia: 1 Konings 19:2-18.

Job

  •  Wie was hy? Job was ’n ryk man met ’n groot gesin, en hy het die ware God getrou aanbid.

  •  Hoekom wou hy sterf? Dinge in Job se lewe het skielik begin skeefloop. Hy het al sy besittings verloor. Al sy kinders het in ’n ramp gesterf. Hy het ’n pynlike siekte gekry. En op die ou end is hy op ’n wrede manier valslik daarvan beskuldig dat hy sy eie probleme veroorsaak het. Job het gesê: “Ek het dit verwerp; tot onbepaalde tyd sal ek nie wil lewe nie.” – Job 7:16.

  •  Wat het hom gehelp? Job het tot God gebid en met ander gepraat (Job 10:1-3). ’n Liefdevolle vriend met die naam Elihu het hom aangemoedig en hom gehelp om sy beskouing van sy situasie te verander. En nog belangriker, Job het graag God se raad en hulp aanvaar.

  •  Lees oor Job: Job 1:1-3, 13-22; 2:7; 3:1-13; 36:1-7; 38:1-3; 42:1, 2, 10-13.

Moses

  •  Wie was hy? Moses was ’n leier van eertydse Israel en ’n getroue profeet.

  •  Hoekom wou hy sterf? Moses het baie verantwoordelikhede gehad, is heeltyd gekritiseer en het uitgeput gevoel. Daarom het hy tot God uitgeroep: “Maak my dan asseblief liewer dood.” – Numeri 11:11, 15.

  •  Wat het hom gehelp? Moses het vir God gesê hoe hy voel. God het Moses gehelp deur sy werklas te verminder sodat hy minder stres sou hê.

  •  Lees oor Moses: Numeri 11:4-6, 10-17.

a As jou selfmoordgedagtes baie erg is en daar niemand is wat jy vertrou met wie jy kan praat nie, kan jy ’n plaaslike krisislyn of noodnommer bel.