Spring na inhoud

Hoe beskou Jehovah se Getuies egskeiding?

Hoe beskou Jehovah se Getuies egskeiding?

 Ons bly by wat die Bybel sê oor die huwelik en egskeiding. God het die huwelik ingestel om ’n permanente band tussen ’n man en ’n vrou te wees. Die enigste rede wat die Bybel vir egskeiding gee, is seksuele onsedelikheid.—Matteus 19:5, 6, 9.

Voorsien Getuies hulp aan paartjies met huweliksprobleme?

 Ja, op meer as een manier:

  •   Publikasies. Ons publikasies bevat gereeld artikels wat kan help om huwelike te versterk, selfs wanneer dinge hopeloos lyk. Kyk byvoorbeeld na die volgende artikels: “Bly toegewyd aan jou huwelik”, “Hoe om te vergewe” en “Hoe om weer vertroue op te bou”.

  •   Vergaderinge. Ons bespreek die Bybel se praktiese raad vir die huwelik by ons gemeentelike vergaderinge en byeenkomste.

  •   Ouer manne. Gemeentelike ouer manne gee persoonlike hulp aan getroude paartjies deur vir hulle te wys wat die Bybel sê in tekste soos Efesiërs 5:22-25.

Moet gemeentelike ouer manne die egskeiding van ’n Getuie goedkeur?

 Nee. Selfs al word die ouer manne gevra om ’n paartjie te help as hulle huweliksprobleme het, het hulle nie die reg om vir die paartjie te sê wat om te doen nie (Galasiërs 6:5). Maar as iemand kies om sonder ’n Bybelse rede te skei, is die persoon volgens die Bybel nie vry om weer te trou nie.—1 Timoteus 3:1, 5, 12.

Hoe beskou Getuies dit wanneer ’n paartjie ’n ruk lank uitmekaargaan?

 Die Bybel spoor paartjies aan om bymekaar te bly selfs al gaan dit soms moeilik (1 Korintiërs 7:10-16). Baie probleme kan opgelos word wanneer paartjies opreg bid, Bybelstandaarde toepas en liefde betoon.—1 Korintiërs 13:4-8; Galasiërs 5:22.

 Maar in uiterste gevalle het party Christene besluit om hulle huweliksmaat tydelik te verlaat omdat:

  •   ’n Huweliksmaat weier om die gesin te onderhou.—1 Timoteus 5:8.

  •   Daar uitermatige fisiese mishandeling plaasvind.—Psalm 11:5.

  •   Hulle verhouding met God bedreig word. Byvoorbeeld, ’n huweliksmaat probeer dalk om ’n Getuie te forseer om God se wette op die een of ander manier te verbreek. Die persoon besluit moontlik om sy maat tydelik te verlaat omdat dit die enigste manier is waarop hy “eerder aan God as heerser gehoorsaam [sal] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.