Spring na inhoud

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Paasfees nie?

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Paasfees nie?

Algemene wanopvattings

 Mite: Jehovah se Getuies vier nie Paasfees nie, want hulle is nie Christene nie.

 Feit: Ons glo dat Jesus Christus ons Redder is, en ons doen ons bes om ‘sy voetstappe noukeurig te volg’.—1 Petrus 2:21; Lukas 2:11.

 Mite: Julle glo nie dat Jesus uit die dode opgewek is nie.

 Feit: Ons glo in Jesus se opstanding; ons beskou dit as die grondslag van die Christelike geloof en vestig die aandag daarop in ons predikingswerk.—1 Korintiërs 15:3, 4, 12-15.

 Mite: Julle gee nie om dat julle kinders nie deel in die vreugde van Paasfees nie.

 Feit: Ons is lief vir ons kinders—ons doen ons bes om hulle op te lei en hulle te help om gelukkig te wees.—Titus 2:4.

Waarom vier Jehovah se Getuies nie Paasfees nie?

  •   Die viering van Paasfees is nie op die Bybel gebaseer nie.

  •   Jesus het beveel dat ons sy dood moet herdenk, nie sy opstanding nie. Ons hou hierdie Gedenkmaal elke jaar op die herdenking van sy dood volgens die Bybelse maankalender.—Lukas 22:19, 20.

  •   Ons glo dat die oorsprong van Paasgebruike, wat afkomstig is van eertydse vrugbaarheidsritusse, Paasfees vir God onaanneemlik maak. God vereis “uitsluitlike toegewydheid” van ons, en aanbidding wat gebruike insluit wat hy nie goedkeur nie, grief hom.—Eksodus 20:5; 1 Konings 18:21.

Ons glo dat ons besluit om nie Paasfees te vier nie, stewig gebaseer is op die Bybel, wat ons aanspoor om “praktiese wysheid en denkvermoë” te gebruik eerder as om net mensetradisies te volg (Spreuke 3:21; Matteus 15:3). Hoewel ons met ander oor ons godsdiensoortuigings in verband met Paasfees praat as hulle daaroor uitvra, respekteer ons elkeen se reg om te besluit wat hy of sy wil doen.—1 Petrus 3:15.