Spring na inhoud

Fotogalery 5 van Brittanje (September 2017 tot Februarie 2018)

Fotogalery 5 van Brittanje (September 2017 tot Februarie 2018)

In hierdie fotogalery sal ons sien hoe die konstruksie by die nuwe takkantoor van Jehovah se Getuies in Brittanje tussen September 2017 en Februarie 2018 gevorder het.

Voorstelling van die voltooide takkantoor in Chelmsford, Brittanje.

  1. Noordelike produksiegebou

  2. Suidelike produksiegebou

  3. Kantoorgebou

  4. Woongebou A

  5. Woongebou B

  6. Woongebou C

  7. Woongebou D

  8. Woongebou E

  9. Woongebou F

6 September 2017 – Woongebou C

Lede van ’n span wat buite bou, gebruik gereedskap om bakstene en die sement tussenin gelyk te maak. Hierdie dungesnyde bakstene word aan ’n metaalraamwerk vasgegom om staal muurstutte te bedek.

20 September 2017 – Woongebou D

’n Lid van die argitekspan stel vas waar die buitemure van ’n woongebou gaan wees met behulp van ’n laser-waterpas wat op ’n drievoetstaander rus en ’n span landmeters. Intussen word daar houtwerk gedoen binne Woongebou F, wat in die agtergrond gesien kan word.

27 September 2017 – Woongebou F

’n Pleisteraar spuit ’n bietjie water op ’n gepleisterde muur en gebruik ’n troffel om dit glad te maak. Die Afwerkings-afdeling kry water van ’n ontvogtiger om water te bespaar en gebruik dit dan om teël- en pleistersement te meng.

3 Oktober 2017 – Takkantoorbouterrein

Buite Woongebou E is kontrakteurs besig om verskillende lae teer te lê vir ’n netwerk van toegangspaaie.

10 Oktober 2017 – Woongebou F

’n Messelaar wat 71 jaar oud is, bou die buitemuur van Woongebou F. Vandat hierdie bouprojek begin het, het meer as 100 Getuies bo die ouderdom van 70 hulle vaardighede en ondervinding vir die projek aangebied.

16 November 2017 – Woongeboue

Lugfoto vanuit die westelike kant. Al die woongeboue sal omgewingsvriendelike dakke hê. Sodra die dakke geïsoleer is, waterdig gemaak is en ’n laag vir dreinering geïnstalleer is, word saad van inheemse plantspesies gesaai. Omgewingsvriendelike dakke bevoordeel die natuur, verminder elektrisiteitskostes en help om reënwater wat afloop, te beheer. In die voorgrond kan ’n mens sien dat die voorbereiding vir die fondasie van Woongebou A en vir ’n deel van die kantoorgebou klaar is.

21 November 2017 – Woongebou F

Houtwerkers installeer ’n voorafvervaardigde metaaldeurraam by die ingang van ’n woonstel. Wanneer die voorafvervaardigde rame en deure by die bouterrein afgelaai word, is dit klaar geverf en het dit reeds skarniere en slotte. Dit maak dit vinnig en maklik om dit te installeer.

28 November 2017 – Kantoorgebou

Terwyl dit skemer word, is kontrakteurs besig om versterkte fondasies vir die kantoorgebou te lê. In die middel van die foto sit kontrakteurs staalstawe in gate wat ongeveer 20 meter diep is en wat met beton gevul is. Woongebou B kan in die agtergrond gesien word.

5 Desember 2017 – Woongebou E

Een van die werkers hang geïsoleerde steunrame vir die verwarmingspype teen die plafon van die parkeringsvlak. Die plafon word geïsoleer met spesiale borde om die woonstelle wat bo is, teen koue temperature te beskerm.

8 Desember 2017 – Woongebou F

’n Lid van die afwerkingspan skuur gepleisterde mure om dit voor te berei vir muurbedekking wat van viniel gemaak is. Klein gaatjies in die skyfskuurder sorg dat amper al die stof deur middel van ’n stofsuier weggesuig word.

21 Desember 2017 – Takkantoorbouterrein

Twee lede van die terreinwerkspan berei die oppervlak voor van ’n toegangspad wat na ’n diensstasie gaan. Hulle gebruik ’n industriële gasbrander om die vorm waarin die beton gegooi is, weg te brand en om gapings te skep waarin gras sal groei. Hierdie soort oppervlak verminder die afloop van reënwater.

26 Desember 2017 – Woongebou F

Verwers gebruik ’n masjien om verf te spuit. Hulle sit die laaste laag op die dak en mure van ’n kombuis in ’n woonstel.

28 Desember 2017 – Woongebou F

Stellasie-spanne breek dele stellasies af om voor te berei vir die installasie van die balkonne. Die rooi pype in die middel van die foto voorsien warm lug gedurende die winter om die sementvloere, gepleisterde mure en geverfde oppervlakke te help droog word.

16 Januarie 2018 – Woongebou F

’n Lid van die afwerkingspan gebruik gereedskap om enige lugborrels in die viniel-muurbedekking uit te vryf. Hierdie oppervlak wat gewas kan word, is prakties en duursaam vir gebiede waar daar baie mense deurbeweeg. In die onmiddellike agtergrond is ander lede van die span besig om die muur te verf en die muurbedekking in dele te sny.

27 Januarie 2018 – Woongebou E

Werkers woon ’n spanvergadering by voordat hulle met hulle werk vir die dag begin. Die spanleier maak seker dat veiligheid ’n prioriteit is en identifiseer alle moontlike gevare. Werkers van verskillende afdelings bied vrywillig aan om oortyd te werk om die woonstelle in Woongebou F en die dele daar rondom skoon te maak voordat die eerste inwoners intrek.

1 Februarie 2018 – Woongebou F

Kontrakteurs gebruik ’n hyser om die balkonne van Woongebou F te installeer. Die kleurskema van die balkonne sal mense help om die geboue uit te ken, en dit pas in by die mooi blare van die omgewing gedurende herfs. In die agtergrond word weerbestande materiaal van Woongebou E verwyder voordat die stellasies afgebreek word.

3 Februarie 2018 – Woongeboue

’n Getroude paartjie trek ná werksure met hulle persoonlike besittings na ’n woonstel in Woongebou F nadat die woonstel die vorige dag voltooi is. Omdat konstruksiewerkers tydelik in die nuwe woonstelgeboue bly, verminder dit huur- en reisuitgawes en kan die werkers meer gedoen kry.

12 Februarie 2018 – Woongebou A

Kontrakteurs pomp gedurende die aand beton op ’n blad vir die parkeringsvlak. Woongebou B kan in die agtergrond gesien word.

15 Februarie 2018 – Woongebou E

’n Getroude paartjie wat deel is van die houtwerkspan is besig om ’n kwarts-kombuisblad uit te sny. Hulle gebruik ’n spesiale sirkelsaag met ’n stelsel wat die stof uitsuig. Omdat hulle die kombuisblad in die kombuis sny waar dit gesit gaan word, verminder dit die kanse dat dit sal breek as dit vervoer sou word.