Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 70

Engele maak Jesus se geboorte bekend

Engele maak Jesus se geboorte bekend

Die heerser van die Romeinse Ryk, keiser Augustus, het beveel dat al die Jode moes teruggaan na die dorpe waar hulle gebore is. Hulle moes hulle daar laat registreer. Josef en Maria het toe na Betlehem gegaan, waar Josef se familie vandaan gekom het. Dit was al amper tyd dat Maria se baba gebore moet word.

Toe hulle in Betlehem aankom, kon hulle net blyplek in ’n stal kry. Dit is waar Maria aan Jesus geboorte gegee het. Sy het hom in sagte lappe toegedraai en hom saggies in ’n krip neergelê.

Daardie aand was ’n paar herders buite in die veld naby Betlehem besig om hulle skape op te pas. Skielik het ’n engel voor hulle gestaan, en die lig van Jehovah se heerlikheid was oral om hulle. Die herders was baie bang, maar die engel het gesê: ‘Moenie bang wees nie. Ek het opwindende nuus. Die Messias is vandag in Betlehem gebore.’ Op daardie oomblik het daar baie engele verskyn, en hulle het gesê: ‘Prys God in die hemel, en laat daar vrede op aarde wees.’ Toe het die engele verdwyn. Wat het die herders toe gedoen?

Die herders het vir mekaar gesê: ‘Kom ons gaan sommer nou na Betlehem toe.’ Hulle het vinnig soontoe gegaan en Josef en Maria in die stal gekry saam met hulle pasgebore baba.

Almal was verbaas toe hulle hoor wat die engel vir die herders gesê het. Maria het diep nagedink oor wat die engel gesê het en het sy woorde nooit vergeet nie. Die herders het teruggegaan na hulle skape toe en vir Jehovah dankie gesê vir alles wat hulle gesien en gehoor het.

“Ek het van God af gekom, en ek is hier. Ek het nie uit my eie gekom nie, maar Hy het my gestuur.”—Johannes 8:42