Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 21

Die tiende plaag

Die tiende plaag

Moses het Farao belowe dat hy hom nie weer sou kom sien nie. Maar voordat hy daar weg is, het hy vir Farao gesê: ‘Om middernag sal elke eersgebore kind in Egipte sterf, van die seun van Farao tot die seuns van die slawe.’

Jehovah het vir die Israeliete gesê om ’n spesiale ete te maak. Hy het gesê: ‘Maak ’n jaaroud skaapram of bokram dood, en smeer van sy bloed aan die deurkosyn. Braai die vleis en eet dit saam met ongesuurde brood. Trek julle klere en sandale aan en wees gereed om te gaan. Vanaand sal ek julle bevry.’ Kan jy dink hoe opgewonde die Israeliete was?

Om middernag het Jehovah se engel na elke huis in Egipte toe gegaan. In die huise waar die deurkosyne nie met bloed gemerk was nie, het die eersgebore kinders gesterf. Maar die engel het by al die huise wat met bloed gemerk was, verbygegaan. In elke Egiptiese gesin is ’n kind dood, of hulle nou ryk of arm was. Maar nie een van die Israeliete se kinders het doodgegaan nie.

Selfs Farao se seun is dood. Farao kon dit nie meer hanteer nie. Hy het dadelik vir Moses en Aäron gesê: ‘Staan op. Gaan weg. Gaan aanbid julle God. Vat julle diere en gaan!’

Dit was volmaan. Die Israeliete het volgens hulle stamme en families uit Egipte getrek. Daar was 600 000 Israelitiese mans en baie vroue en kinders. Baie ander mense het saam met hulle gegaan omdat hulle ook Jehovah wou aanbid. Die Israeliete was uiteindelik vry!

Die Israeliete moes daardie selfde spesiale ete elke jaar maak sodat hulle kon onthou hoe Jehovah hulle gered het. Hierdie ete was die Pasga genoem.

“Juis om hierdie rede het ek jou laat voortbestaan: om my krag in verband met jou te toon en sodat my naam oor die hele aarde bekendgemaak kan word.”—Romeine 9:17