Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 56

Josia was lief vir God se Wet

Josia was lief vir God se Wet

Josia het die koning van Juda geword toe hy agt jaar oud was. In daardie dae het die mense toorkuns beoefen en afgode aanbid. Toe Josia 16 jaar oud was, het hy geleer hoe om Jehovah op die regte manier te aanbid. Toe hy 20 jaar oud was, het hy begin om die afgode en altare in die hele land te vernietig. En toe Josia 26 jaar oud was, het hy planne gemaak om Jehovah se tempel te laat regmaak.

In die tempel het die hoëpriester, Hilkia, die boekrol van Jehovah se Wet gevind—miskien was dit die einste boekrol wat Moses geskryf het. Safan, die koning se sekretaris, het die boekrol na Josia toe gebring en die Wet hardop begin lees. Terwyl Josia geluister het, het hy besef dat die volk al jare lank ongehoorsaam aan Jehovah is. Koning Josia het vir Hilkia gesê: ‘Jehovah is baie kwaad vir ons. Bid tot hom, dan sal hy vir ons sê wat ons moet doen.’ Jehovah het hulle deur die profetes Hulda geantwoord: ‘Die volk Juda het my verlaat. Hulle sal gestraf word, maar nie terwyl Josia koning is nie omdat hy homself verneder het.’

Toe koning Josia die boodskap hoor, het hy na die tempel gegaan en die mense van Juda bymekaargeroep. Toe het hy Jehovah se Wet hardop vir die hele nasie gelees. Josia en die volk het belowe om Jehovah met hulle hele hart te gehoorsaam.

Die nasie Juda het baie jare lank nie die Pasga gevier nie. Maar toe Josia in die Wet lees dat die Pasga elke jaar gevier moet word, het hy vir die nasie gesê: ‘Ons sal ’n Pasga vir Jehovah hou.’ Josia het toe reggemaak om baie offerandes te bring en hy het gereël dat ’n koor by die tempel sing. Die nasie het eers die Pasga gehou, en daarna die Fees van die Ongesuurde Koeke, wat sewe dae lank was. Dit was die grootste Pasga sedert Samuel se tyd. Josia was regtig lief vir God se Wet. Geniet jy dit om van Jehovah te leer?

“U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105