Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

“Grys” misdadigers

“Brittanje het sy eerste spesiaal ingerigte gevangenisvleuel vir bejaardes geopen om voorsiening te maak vir die skerp toename in die aantal pensioenarisse wat hulle tot misdaad wend”, berig The Sunday Times van Londen. Die eenheid, wat deel is van ’n gevangenis in Portsmouth, het hysstoele, aangepaste oefentoerusting en opgeleide verpleegpersoneel. Navorsing toon dat meer as 100 000 pensioenarisse “hulle tot misdaad gewend het—of dit oorweeg het”—sodat hulle hulle staatsvoordele en pensioene kon aanvul. Party het begin om met dwelms handel te dryf, winkels te beroof, sigarette en alkohol in Brittanje in te smokkel en selfs banke te beroof. In 1990 is 355 pensioenarisse opgesluit, maar die syfer vir 2000 was 1 138. Baie van hulle het geen vorige oortredings gehad nie maar “is onder geweldige druk om hulle lewenstandaard te handhaaf”, sê die kriminoloog Bill Tupman. “Hierdie mense is nie die heel armste pensioenarisse nie, maar kom uit die middelklas en was hulle hele lewe lank hardwerkende, wetsgehoorsame lede van die gemeenskap.”

Hoe ma-robbe en hulle kleintjies mekaar vind

Wanneer ma-robbe terugkeer huis toe nadat hulle weke lank in die see kos gesoek het, moet die ma’s en hulle pasgebore kleintjies mekaar vind in ’n lawaaierige skare van honderde ander volwasse robbe en kleintjies. Hoe doen hulle dit? Volgens The Vancouver Sun van Kanada “leer kleintjies binne net twee dae ná hulle geboorte om hulle ma se stem uit te ken en ma’s leer vinnig om hulle baba se geroep te identifiseer”. ’n Studie wat op Amsterdam-eiland in die Indiese Oseaan gedoen is, toon dat “die ma en baba mekaar binne net sewe minute weer kan vind wanneer sy vir die eerste keer van die see af terugkeer”, sê die Sun. “’n Ma sal net haar eie kleintjie voer en kan baie aggressief teenoor ander kleintjies wees”, sê dr. Isabelle Charrier, wat die studie gedoen het, “en daarom is dit baie belangrik vir die kleintjie om sy ma te herken.”

Mandaryns en die brein

Die sielkundige dr. Sophie Scott en haar kollegas in Londen en Oxford het onlangs breinaftastings gebruik om vas te stel watter dele van die brein ons help om spraak te verstaan. Die navorsers het ontdek dat Engelssprekendes se linker- temporale lob aktief geword het toe hulle Engels gehoor het. Maar “toe Mandarynssprekendes hulle moedertaal gehoor het, was daar groot aktiwiteit in die regter- sowel as die linker- temporale lob”, berig die koerant The Guardian. Waarom? “Die linker- temporale lob word gewoonlik geassosieer met die proses om woorde uit klanke saam te stel; die regterlob met die verwerking van melodie en stembuiging”, verduidelik die koerant. “Elke stembuiging in Mandaryns gee ’n verskillende betekenis: die lettergreep ‘ma’ kan byvoorbeeld moeder, berispe, perd of hennepvesel beteken”, na gelang van die stemtoon. Dr. Scott sê: “Ons dink dat Mandarynssprekendes stembuiging en melodie in die regter- temporale lob interpreteer om die korrekte betekenis aan woorde te gee.”

Die wêreld se hoogste gebou—die wedloop word hervat

“Stadsbeplanners oor die hele wêreld ding weer eens mee om die wêreld se hoogste gebou op te rig”, sê The Wall Street Journal. In Taipei, Taiwan, word ’n wolkekrabber reeds gebou wat na verwagting 508 meter hoog sal wees—ongeveer 90 meter hoër as die Tweelingtorings wat in New York-stad gestaan het. Intussen gaan Sjanghai, China, voort met die planne om ’n 492 meter hoë World Financial Centre te bou. Amptenare in Sjanghai beweer dat hierdie gebou eintlik hoër as die een in Taiwan sal wees, wat deels van ’n 50 meter lange televisie-antenna afhanklik is vir sy hoogte. Seoel, Suid-Korea, reik selfs hoër en wil ’n internasionale handelsentrum bou wat 540 meter hoog is. En party in New York-stad, wat nie wil agterbly nie, het voorgestel dat die wêreld se hoogste gebou daar opgerig word om die geboue te vervang wat in die terreuraanvalle van 11 September vernietig is. “Min mense sou ná die aanvalle in 2001 kon voorspel het dat die wedloop om die hoogste gebou so gou hervat sou word”, sê die Journal.

Driftige jongmense stel hulle hart in gevaar

“Navorsers het gevind dat die risiko om metaboliese sindroom te ontwikkel—’n gevaarlike voorloper van hartsiekte—drie keer groter is by kinders en tieners wat baie vyandig teenoor ander is as by hulle rustiger portuurs”, berig The Gazette van Montreal. Amerikaanse en Finse navorsers wat die vyandigheidsvlak van 134 tieners en kinders getoets het, het gevind dat die moontlikheid 22 persent groter is dat driftige jongmense risikofaktore vir hartsiekte sal ontwikkel as jongmense met ’n laer vyandigheidsvlak. “Mense word nie sommer net een oggend wanneer hulle 50 is met hartsiekte wakker nie”, sê dr. Kristen Salomon, medesamesteller van die studie. “Hartvatsiekte begin vroeg in ’n mens se lewe.”

Brittanje se oudste voël?

“Brittanje se oudste bekende voël is nog steeds spring-lewendig ná ’n afstand van [agtmiljoen kilometer] en 52 jaar”, berig die Londense koerant The Times. Die voël, ’n klein swart en wit Noordse pylstormvoël, “is in Mei 1957 vir die eerste keer gering, toe dit omtrent ses jaar oud was”. Dit is weer in 1961, 1978 en 2002 gevang, waarna voëlkundiges nie verwag het om dit weer te sien nie. Maar vroeg in 2003 het dit weer langs die kus van Noord-Wallis verskyn. Die Britse Voëlkundetrust reken dat die voël al ten minste 800 000 kilometer op migrasievlugte na en van Suid-Amerika afgelê het. Wanneer sy gewone vlugte van 1 000 kilometer om kos te soek, bygereken word, meen wetenskaplikes dat hy altesaam meer as agtmiljoen kilometer gevlieg het. Graham Appleton van die Bardsey-voëlsentrum in Noord-Wallis sê: “Die ou voël is sy vierde ring gegee; weer eens ietwat van ’n rekord. Die ander het almal verweer.”

Kindertelevisie verdwyn in Spanje

“Middagtelevisieprogramme vir kinders het verdwyn”, berig die Spaanse dagblad El País. Manuel Cereijo, ’n woordvoerder vir die Spaanse Staatstelevisiediens, verduidelik dat “kinders nie sulke getroue kykers is nie, en daarom is dit nie die moeite werd om spesiale programme vir hulle in die middag uit te saai nie”. Maar hierdie situasie bekommer deskundiges soos Lola Abelló, ’n direkteur van Spanje se Ouervereniging. Sy sê: “Kinders kyk na enigiets wat vir hulle opgedis word.” Een uit elke 3 kinders in Spanje het ’n televisiestel in sy kamer, sê die verslag, en gevolglik praat jongmense tussen die ouderdomme van 4 en 12 jaar nie meer oor tekenprentkarakters nie, maar hulle praat eerder oor popsterre en skinderprogramme. “Dit is betreurenswaardig”, sê Abelló, “want hulle word van hulle kinderjare beroof. Van ’n baie jong ouderdom neem hulle inligting in wat vir grootmense bedoel is.”