Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ons waardeer die klere wat ons dra”

“Ons waardeer die klere wat ons dra”

“Ons waardeer die klere wat ons dra”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

TOE die Spanjaarde in die 16de eeu vir die eerste keer in Mexiko aangekom het, het hulle verskeie kulture daar gevind—die Asteke, die Majas en ander. Is hierdie kulture heeltemal deur die Europeërs uitgeroei? Nee, hulle is nog daar. Omtrent 12 miljoen mense in Mexiko is direkte afstammelinge van pre-Columbiaanse etniese groepe. Baie van hulle praat nog hulle antieke tale. En hulle pragtige uitrustings maak hulle baie opvallend.

Die suidwestelike staat Oaxaca, die gebied met die grootste kulturele verskeidenheid in Mesoamerika, is soos ’n groot modevertoning. Dit is waar ons die Chontal vind, wat van landbou, veeboerdery en jag afhanklik is en ook kos in die berge insamel. Hulle gesinstuine is vol vrugte, groente en blomme. Die Chontal wys hulle liefde vir die natuur deur dierefigure en blomme in rooi en swart op damesbloese te borduur. Ongetroude vroue versier ook hulle hare met kleurvolle linte.

Die Chontal deel die landengte van Tehuantepec met die Huave en die Zapotec, wat baie dieselfde aantrek; en tog kan die plaaslike inwoners ’n vrou se etniese agtergrond op een of ander manier aan haar uitrusting identifiseer. Die Zapotec, wat hulleself mense van die wolke noem, kan selfs vasstel van watter dorpie ’n vrou kom aan die manier waarop sy haar rok dra. Die Chinantec, van die noordelike deel van dieselfde staat, se klere het ingewikkelder ontwerpe. Chinantec-vroue vertel hulle voorvaderlike geskiedenis deur die simbole wat hulle op hulle los, moulose rokke borduur, wat huipils genoem word. Vir formele geleenthede dra hulle pragtig geborduurde uitrustings wat “groot maag” in hulle taal genoem word.

Mixtek-vroue, wat in dele van die state Oaxaca, Guerrero en Puebla woon, hou ook van borduurwerk. In een van die Mixtek-gebiede verfraai vroue hulle moeselienbloese deur ’n tegniek te gebruik wat “maak my as jy kan” genoem word. Net soos ander Mexikaanse volke gebruik die Mixtek wat langs die kus woon, nog steeds dieselfde materiaal as wat hulle voorouers honderde jare gelede gebruik het. Trouens, die weeftegniek wat hulle vandag gebruik, word in museums op voor-Spaanse figure en in tekeninge uitgebeeld.

Die mansklere van die antieke Maja en Asteke was ryklik versier. Vandag dra die mans van die meeste inheemse groepe basies konvensionele klere. Tog kan daar nog steeds ’n tikkie van daardie voor-Spaanse voorkeure gesien word onder party van die inheemse mense, soos die Huichol. Geborduurde Huichol-mansklere, ’n simbool van hulle sosiale stand, het sulke ingewikkelde ontwerpe en bybehore dat dit baie tyd neem om al die detail te bestudeer en te verstaan.

Die bes bewaarde voor-Spaanse kleredrag kan in die Nahuatl-gemeenskappe van Cuetzalan, in die staat Puebla, gevind word waar vroue nog steeds spoggerige hooftooisels van garing dra wat in hulle hare ingevleg is (foto op bladsy 26), asook die quechquemitl, ’n pragtige tjalie. Soortgelyke items word in antieke kodekse uitgebeeld.

In die hooglande van die staat Chiapas is daar ’n mosaïek van etniese groepe, waarvan party van dieselfde voorvaders afstam. Die Tzotzil, Tzeltal en Tojolabal wat in hierdie gebied woon, se alledaagse uitrustings is vir die buitestander nogal iets om te sien.

Baie van hulle maak ook hulle eie materiaal. Sou jy nie ook ’n sterk identiteitsgevoel gehad het as jou ma jou geleer het hoe om jou eie lap te maak nie? Tzotzil-vroue in die koel hooglande van Chiapas doen alles self: hulle skeer die skape, waarna hulle die wol was, kaard, spin en met natuurlike kleurstowwe kleur voordat hulle die materiaal op ’n handweeftoestel weef. Petrona, ’n meisie van Chamula, sê trots: “Dit was moeilik aan die begin, maar ek was baie bly toe ek my eerste wol-nagua [romp] en my eerste geborduurde katoenbloes gemaak het. Ek het ook my lyfserp gemaak.” Nadat ons uitgevind het hoeveel werk dit verg, het ons verstaan waarom sy sê: “Ons waardeer die klere wat ons dra.”

In die konserwatiefste streke van die Yucatán-skiereiland dra die Maja-vroue ’n hipil, ’n los wit rok wat met kleurvolle patrone geborduur is, vir alledaagse gebruik. Hierdie kledingstuk sluit dikwels ’n kantonderrok in. Vir spesiale geleenthede dra die vroue en jong meisies—in beide die platteland en stad—’n terno, ’n mooier weergawe van die hipil.

Vir besoekers kan hierdie tipiese Mexikaanse rokke baie duur wees. Hoewel die meeste inheemse mense maar arm is, kan hulle hierdie luuksheid geniet, omdat hulle groot moeite doen om die rokke self te maak.

Wanneer ’n mens Christelike vergadering saam met een van die 219 gemeentes van Jehovah se Getuies in Mexiko bywoon waar die inheemse tale gepraat word, kan dit ’n ware fees vir die oë wees. Dit is geleenthede vir mense wat dit bywoon om hulle formele uitrustings te dra, ’n erfenis van hulle voorvaders—en hoe pragtig is hierdie klere tog!

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

YUCATÁN

PUEBLA

OAXACA

CHIAPAS

[Prent op bladsy 26]

Die Maya se kantonderrok

[Prent op bladsy 26]

Zapotec-borduurwerk

[Prent op bladsy 26]

Zapotec, Oaxaca

[Prent op bladsy 26]

Die Majas, Yucatán

[Prent op bladsy 26]

Nahuatl, Puebla

[Prent op bladsy 26]

Tzotzil, Chiapas