Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se beskouing

Beïnvloed die sterre jou lewe?

Beïnvloed die sterre jou lewe?

Is hy lief vir my?

Moet ek vandag reis?

Sal ek die werk kry?

OM VRAE soos dié hierbo te beantwoord, wend baie mense hulle tot astrologie. * Maar het die sterre werklik ’n invloed op jou lewe? Kan hulle jou help om meer omtrent jou toekoms of jouself te leer? Wat sê die Bybel?

Kan die sterre ons toekoms beïnvloed?

Party mense glo dat ons nie ons lotsbestemming kan vryspring nie. Volgens hulle is die toekoms reeds bepaal en kan die sterre dit openbaar. Maar dit is nie wat die Bybel leer nie. Dit sê vir ons dat God mense ’n keuse gegee het, wat daarop dui dat hulle ’n mate van beheer het oor wat met hulle gebeur. Hy het byvoorbeeld vir die Israeliete gesê: “Ek [het] jou die lewe en die dood voorgehou . . . , die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag.”—Deuteronomium 30:19.

Met hierdie woorde het Jehovah God dit vir sy volk duidelik gemaak dat hulle ’n groot mate van beheer oor hulle toekoms het. As hulle sy gebooie sou gehoorsaam, sou hulle seëninge geniet. As hulle ongehoorsaam sou wees, sou hulle teëspoed oor hulleself bring.

Dink hieraan: As die toekoms van elke Israeliet reeds in die sterre geskryf was, sou God se aansporing om die lewe te kies, dan sin gemaak het? Sou dit regverdig gewees het van God om hulle aanspreeklik te hou vir dade waaroor hulle geen beheer gehad het nie?

Die les uit die Bybel is duidelik: Hoe ons lewe verloop, hang af van die keuses wat ons maak—nie van die sterre nie.—Galasiërs 6:7.

Kan die sterre ons persoonlikheid beïnvloed?

Die meeste astroloë glo nie vas aan voorbestemming nie. “Ons beheer self ons lotsbestemming”, beweer een van hulle; hy voeg egter by: “Maar ons geboortedatum het ’n invloed op die samestelling van ons persoonlikheid.” Baie mense glo iets soortgelyks. Hulle redeneer: ‘Aangesien die sterre en planete ’n natuurlike invloed op ons aarde het, kan dit dan nie ook ’n bonatuurlike uitwerking hê nie?’ Wat toon die Bybel?

Die Bybel is nie ’n wetenskaphandboek wat elke besonderheid van die menseliggaam en die heelal uiteensit nie. Maar dit verduidelik wel met watter doel Jehovah die hemelliggame geskep het. Genesis 1:14, 15 sê: “God het gesê: ‘Ek beveel dat daar ligte aan die hemel verskyn om die dag van die nag te skei en om die tyd vir seisoene aan te dui . . . Ek beveel hulle om op die aarde te skyn.’”—Contemporary English Version.

Dink hieraan: Sou God nie vir ons gesê het as hy die sterre geskep het om ons persoonlikheid te beïnvloed nie?

Watter gevolgtrekking kan ons dus maak? Die sterre is deel van God se skeppingswerke, maar hulle beïnvloed nie ons persoonlikheid nie.

’n Beter benadering

Dit is prysenswaardig as ons meer wil leer oor ons toekoms of as ons onsself wil verstaan. Maar daar is ’n beter plek om te soek as die sterre.

Die Bybel sê dat Jehovah God “van die begin af die uiteinde verkondig” (Jesaja 46:10). Hy het ’n voorneme en hy sal dit verwesenlik (Jesaja 55:10, 11). Ons kan omtrent God se voorneme leer deur die Bybel te lees. Hierdie eeue oue heilige boek verduidelik ook waarom ons ly en hoe God ’n einde sal maak aan die probleme wat die mensdom teister. *2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

As ons meer omtrent onsself wil leer en wil verbeter, is die Bybel die beste bron van leiding. Waarom? Want as ons dit lees, help dit ons om ’n eerlike selfondersoek te doen. Die Bybel sê byvoorbeeld dat Jehovah God ‘barmhartig’ is, “nie gou toornig word nie” en “vergewensgesind” is (Eksodus 34:6; Psalm 86:5). Maar kan dit van ons gesê word? Die Bybel kan ons verkeerde denke blootlê en ons help om te sien waar ons moet verbeter.

Ons hoef dus nie die sterre te raadpleeg om meer omtrent ons toekoms of onsself te leer nie. ’n Beter benadering is om die Bybel te raadpleeg, want dit is “deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel”.—2 Timoteus 3:16, 17.

^ par. 6 Astrologie is die studie van die son, maan, planete en sterre, met die oortuiging dat hierdie hemelliggame ’n invloed op ons het en ons kan help om onsself te verstaan.

^ par. 19 Vir meer inligting oor God se voorneme, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.