Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense vra

Wat kan ek van die huwelik verwag?—Deel 2

Wat kan ek van die huwelik verwag?—Deel 2

IN ONS VORIGE NOMMER het ons van die voordele en uitdagings bespreek wat jy van die huwelik kan verwag.

IN HIERDIE NOMMER sal ons bespreek waarom jy die onverwagte moet verwag.

Kies enige van die volgende opsies:

My toekomstige huweliksmaat moet . . .

  • fisies aantreklik wees

  • my goed oor myself laat voel

  • dieselfde doelwitte as ek hê

  • van dieselfde ontspanning as ek hou

As jy op soek is na ’n huweliksmaat, is daar niks verkeerd met die verwagtinge wat op die vorige bladsy genoem word nie. Dalk sal jy selfs iemand vind wat aan al hierdie verwagtinge voldoen. Maar dit is ’n feit dat mense met verloop van tyd verander—en omstandighede ook.

Die slotsom: Om ’n sukses van die huwelik te maak, moet jy die onverwagte verwag.

Die goeie nuus. Party onverwagte aspekte van die huwelik kan ’n aangename verrassing wees.

“Noudat ons getroud is, het ek ’n dieper waardering vir Maria * se sin vir humor as toe ons uitgegaan het. Omdat ons onsself nie te ernstig opneem nie, lyk die probleme waarvoor ons te staan kom, nie so groot nie.”—Mark.

Die minder goeie nuus. Party onverwagte aspekte van die huwelik kan onaangenaam wees. Kyk na ’n voorbeeld.

Gestel jy en jou toekomstige huweliksmaat wil graag sendingwerk in ’n ander land gaan doen, maar nadat julle getroud is, ontwikkel jou maat ’n ernstige gesondheidsprobleem wat julle doelwit onbereikbaar maak. So iets kan natuurlik gebeur, aangesien die Bybel sê: “Slegte dinge gebeur met almal!” (Prediker 9:11, Holy Bible—Easy-to-Read Version). Jy sal ongetwyfeld bekommerd wees oor jou maat se gesondheidsprobleem—en teleurgesteld omdat julle nie julle doelwit sal kan bereik nie. As so ’n onverwagte situasie egter ontstaan, sal jy die werklikheid eenvoudig moet aanvaar en jou daarby moet aanpas. Jy het immers met ’n persoon getrou, nie met ’n doelwit nie.

Die slotsom: Die Bybel sê tereg dat dié wat trou, ’n mate van “verdrukking” sal ervaar (1 Korintiërs 7:28). Soms is dit onverwagte omstandighede wat tot hierdie verdrukking aanleiding gee.

Hoe kan jy jou op die onverwagte voorberei? As jy trou, sal jy twee dinge nodig hê.

1. ’N REALISTIESE BESKOUING

Ongeag hoe goed jy en jou toekomstige huweliksmaat by mekaar pas, julle moet verwag dat

  • julle nie altyd oor alles sal saamstem nie.

  • julle nie altyd dieselfde prioriteite sal hê nie.

  • julle nie altyd van dieselfde bedrywighede sal hou nie.

  • julle nie altyd smoorverlief sal voel nie.

Situasies soos dié wat hierbo genoem word, is algemeen. Maar dit sal nie julle huwelik verwoes tensy julle dit toelaat nie! Onthou, die Bybel sê dat die liefde ‘alles verduur’ en ‘nooit faal nie’.—1 Korintiërs 13:4, 7, 8.

Lewenswaarheid: Op die ou end is dit nie die probleme waarvoor julle te staan kom nie, maar die manier waarop julle dit hanteer wat sal bepaal of julle huwelik ’n sukses sal wees of nie.—Kolossense 3:13.

2. TOEGEWYDHEID

As jy en jou maat vasbeslote is om by mekaar te bly, ongeag wat gebeur, sal julle beter in staat wees om onverwagte storms te deurstaan.—Matteus 19:6.

Party beweer dat toegewydheid ’n huwelik ’n las maak. Maar in werklikheid doen toegewydheid die teenoorgestelde! Dit verleen stabiliteit aan julle verhouding. Wanneer die onverwagte gebeur, sal jy en jou maat oplossings soek, nie die naaste uitgang nie.

As julle toegewyd wil wees, moet julle ’n realistiese beskouing van die huwelik hê, nie ’n idealistiese beskouing nie. Om die verskil toe te lig, kan jy die volgende oefening doen.

1. Stel jou voor dat jy ’n gratis vliegkaartjie het waarmee jy na enige plek in die wêreld kan reis. Watter bestemming sal jy kies, en waarom?

Bestemming:

Rede:

  • natuurskoon

  • kultuur

  • klimaat

  • ontspanning

  • iets anders

2. Stel jou voor dat dit ’n enkelkaartjie is en dat die bestemming jou permanente blyplek gaan wees.

Watter bestemming—indien enige—sal jy nou kies?

  • Bestemming:

  • of

    ek sal bly waar ek is.

In die oefening hierbo het jy waarskynlik twee verskillende bestemmings gekies. En al het jy dieselfde bestemming gekies, moes jy waarskynlik ander dinge oorweeg toe jy jou tweede keuse moes maak. Eerder as om jou voor te stel dat jy ’n vakansieganger is wat op ’n strand lê of op ’n staptog in die berge is, moes jy jou voorstel dat jy iemand is wat daar woon en wat die voordele sowel as die uitdagings van die daaglikse lewe ondervind.

Dit is hoe jy aan die huwelik moet dink. En onthou, met verloop van tyd kan omstandighede verander. Jy en jou huweliksmaat sal ongetwyfeld ook verander. Julle sukses sal grootliks afhang van julle vermoë om die onverwagte te verwag en sulke situasies die hoof te bied wanneer dit ontstaan.

Iets om oor te dink: Hoe goed hanteer jy onverwagte situasies wat nou, terwyl jy nog ongetroud is, ontstaan?

 

^ par. 15 Van die name in hierdie artikel is verander.

VRA JOU OUERS

Watter onverwagte seëninge het julle geniet en voor watter onverwagte uitdagings het julle te staan gekom toe julle pas getroud was? Hoe kan ek my voorberei op die onverwagte as ek eendag trou?