Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie—Deel 6

“Die laaste dae”

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie—Deel 6

In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.

ONS lewe in moeilike tye. Ons ontvang voortdurend nuusberigte uit alle wêrelddele oor rampspoed en burgerlike onrus. Het die huidige wêreldsituasie enige spesiale betekenis?

Sowat 2 000 jaar gelede het die Bybel voorspel dat die wêreld se probleme ’n klimaks sou bereik in “die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 24:3). Dit sal glad nie wees soos “die einde van die wêreld” wat mense hulle voorstel nie. Die Bybel beskryf gebeure en gesindhede, oftewel ’n teken, wat ’n sekere tydperk, “die laaste dae”, sou kenmerk (2 Timoteus 3:1). Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle moet weet dat verligting naby is wanneer hulle “hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Kyk na ’n paar van die profesieë wat ons tye uniek maak.

Profesie 1:

“Nasie sal teen nasie opstaan.”—Matteus 24:7.

Vervulling: In die vroeë jare van die 20ste eeu het baie mense verwag dat vrede sou voortduur. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, was die wêreld geskok en het ’n era van ongekende oorlogvoering begin. Soos die Bybelboek Openbaring voorspel het, is “vrede van die aarde [weggeneem] sodat hulle [die mensdom] mekaar sou doodmaak”.—Openbaring 6:4.

Wat die bewyse toon:

  • “Dit wil nog steeds voorkom of die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 die einde van een era en die begin van ’n nuwe era gekenmerk het.”—The Origins of the First World War, uitgegee in 1992.

  • Hoewel die verskriklike dodetal van die Eerste Wêreldoorlog nie presies vasgestel kan word nie, skat een ensiklopedie dat net die aantal soldate wat gesneuwel het, 8 500 000 beloop het.

  • Die Tweede Wêreldoorlog het baie meer lewens geëis, met sterftesyfers wat wissel tussen sowat 35 miljoen en 60 miljoen soldate en burgerlikes.

  • Vanaf die einde van die Tweede Wêreldoorlog tot 2010 was daar 246 gewapende konflikte in 151 plekke regoor die wêreld.

Profesie 2:

“Daar sal voedseltekorte . . . wees.”—Matteus 24:7.

Vervulling: Hongersnood het in die 20ste eeu meer as 70 miljoen sterftes veroorsaak en is steeds ’n wêreldwye probleem.

Wat die bewyse toon:

  • Volgens die Verenigde Nasies is verhongering die wêreld se grootste gesondheidsrisiko, en 1 uit 7 mense regoor die wêreld het tans nie genoeg om te eet nie.

  • “Vandag se voedseltekorte kan nie toegeskryf word aan eenmalige, weerverwante misoeste nie, maar eerder aan vier kritieke langtermyntendense: vinnige bevolkingsgroei, verlies van bogrond, al hoe meer waterskaarstes en stygende temperature.”—Scientific American.

Profesie 3:

“Daar sal groot aardbewings wees.”—Lukas 21:11.

Vervulling: Aangesien meer mense in aardbewingsones woon, was daar ’n skerp toename in die aantal mense wat gesterf het of wie se lewens ontwrig is weens aardbewings.

Wat die bewyse toon:

  • Die World Disasters Report 2010 sê: “Van al die groot rampe in onlangse jare het aardbewings die meeste lewens geëis.”

  • Vanaf 1970 tot 2001 is daar elke jaar gemiddeld 19 aardbewingsrampe * aangemeld, met ’n gemiddelde dodetal van 19 547. In die tien jaar voor 2012 het die gemiddelde gestyg tot 28 aardbewingsrampe per jaar, met ’n gemiddelde dodetal van 67 954.

Profesie 4:

“Op die een plek na die ander pessiektes.”—Lukas 21:11.

Vervulling: Ten spyte van vooruitgang op mediese gebied, is daar steeds elke jaar miljoene mense wat as gevolg van besmetlike siektes sterf. Die feit dat dit makliker is om internasionaal te reis en dat die wêreld se stedelike bevolking toeneem, het die waarskynlikheid vergroot dat siektes vinnig sal versprei.

Wat die bewyse toon:

  • In die 20ste eeu het pokke na raming 300 miljoen tot 500 miljoen lewens geëis.

  • Oor die afgelope drie dekades het daar volgens die Worldwatch-instituut “meer as dertig siektes wat vroeër onbekend was, soos Ebola, MIV, die Hantavirus en EARS, as nuwe bedreigings verskyn”.

  • Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku teen die toename in kieme wat teen geneesmiddels bestand is en het gesê: “Die wêreld gaan ’n era bereik waarin antibiotika ondoeltreffend sal wees en waarin daar vir talle algemene infeksies nie meer ’n geneesmiddel sal wees nie en [daardie infeksies] weer eens onbeheersd [sal] doodmaak.”

Profesie 5:

Mense sal “mekaar verraai en mekaar haat. . . . Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Matteus 24:10, 12.

Vervulling: Volksmoorde wat deur haat aangeblaas is, het die lewe van miljoene geëis. In baie lande het gewapende konflikte en misdaad ’n kringloop van toenemende vrees en geweld tot gevolg gehad.

Wat die bewyse toon:

  • Die Nazi-regime het die dood van sesmiljoen Jode en miljoene ander veroorsaak. Die skrywer Zygmunt Bauman sê in verband met die reaksie van gewone burgers: “Massavernietiging het nie groot opspraak verwek nie, maar het gepaardgegaan met die doodse stilte van onverskilligheid.”

  • Volgens BBC News word daar geskat dat sowat 800 000 Tutsi’s en gematigde Hutu’s in net ’n paar maande doodgemaak is. Een navorser skat dat sowat 200 000 mense aan die massamoord deelgeneem het.

  • Elke jaar sterf meer as 740 000 mense as gevolg van misdaad en gewapende konflikte.

Profesie 6:

“Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . sonder natuurlike geneentheid.”—2 Timoteus 3:2, 3.

Vervulling: Ons era word gekenmerk deur gierigheid en losbandigheid. Sulke gesindhede het tot talle maatskaplike probleme aanleiding gegee.

Wat die bewyse toon:

  • ’n Verslag oor kinderwelsyn deur UNICEF in die VK sê dat ouers en kinders in die Verenigde Koninkryk “blykbaar vasgevang is in ’n kompulsiewe verbruikerskringloop”. Gesinne koop materiële dinge “in ’n poging om vir probleme in hulle verhoudings en vir maatskaplike onsekerheid te vergoed”.

  • ’n Geraamde 275 miljoen kinders regoor die wêreld word tuis aan gesinsgeweld blootgestel.

  • “In die Verenigde State alleen word daar na bewering elke jaar meer as 500 000 ouer volwassenes mishandel of verwaarloos.”—Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming.

Profesie 7:

“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word.”—Matteus 24:14.

Vervulling: Die Bybel leer dat God se Koninkryk ’n werklike regering is, wat vanuit die hemel regeer met Jesus as Koning. Hierdie hemelse Koninkryk sal alle menseregerings “verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan”.—Daniël 2:44.

God se Koninkryk—wat dit is en wat dit sal doen—is die kernboodskap wat Jehovah se Getuies regoor die wêreld verkondig.

Ter vervulling van Matteus 24:14 verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk

Wat die bewyse toon:

  • Wêreldwyd is daar oor die sewemiljoen Getuies van Jehovah, in meer as 230 lande, wat ander oor God se Koninkryk leer.

  • Jehovah se Getuies het inligting wat op die Bybel gebaseer is, beskikbaar gestel in meer as 500 tale, in gedrukte vorm en op die Internet.

Die teken en jou toekoms

Nadat hulle die bewyse ondersoek het, het miljoene tot die slotsom gekom dat die Bybel se teken van die laaste dae nou vervul word. Soos die eerste ses artikels in hierdie reeks getoon het, bewys die geskiedenis dat die Bybel inderdaad ’n boek van onfeilbare profesie is.

Jy kan ook vertroue hê in wat die Bybel vir die toekoms voorspel. Hierdie profesieë sal jou raak, want God belowe om ’n einde te maak aan hierdie traumatiese laaste dae. Die laaste twee artikels in hierdie reeks sal verduidelik hoe “die laaste dae” tot ’n einde sal kom, asook watter wonderlike toekoms vir die aarde en die mensdom voorlê.

^ par. 22 Die Sentrum vir Navorsing oor die Epidemiologie van Rampe beskryf ’n “aardbewingsramp” as ’n seismiese gebeurtenis wat ten minste een van die volgende tot gevolg het: 10 of meer mense sterf, 100 of meer mense word daardeur geraak, ’n noodtoestand word afgekondig of internasionale hulp word ingeroep.