Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Het Jesus werklik bestaan?

Het Jesus werklik bestaan?

HY WAS nie ryk of magtig nie. Hy het nie eens sy eie huis gehad nie. En tog het sy leringe miljoene mense geraak. Het Jesus Christus werklik bestaan? Wat sê hedendaagse sowel as eertydse gesaghebbendes?

  • Michael Grant, ’n geskiedskrywer en ’n deskundige op die gebied van die eertydse klassieke beskawing, het gesê: “As ons dieselfde maatstawwe ten opsigte van die Nuwe Testament moet gebruik as wat ons ten opsigte van ander ou geskrifte met geskiedkundige inligting gebruik, soos ons behoort te doen, kan ons Jesus se bestaan net so min verwerp as wat ons die bestaan kan verwerp van ’n menigte heidense persone wie se bestaan as geskiedkundige figure nooit in twyfel getrek word nie.”

  • Rudolf Bultmann, ’n professor in Nuwe-Testamentiese studies, het gesê: “Die twyfel oor Jesus se bestaan is ongegrond, en dit is nie die moeite werd om te probeer bewys dat hy nie bestaan het nie. Niemand met gesonde verstand kan twyfel dat Jesus die stigter van die geskiedkundige beweging is waarvan die eerste duidelike fase verteenwoordig word deur die oudste Palestynse gemeenskap [van Christene] nie.”

  • Will Durant, ’n geskiedskrywer en filosoof, het geskryf: “As ’n paar eenvoudige manne [die Evangelieskrywers] van een geslag so ’n kragtige en aantreklike persoonlikheid, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende visioen van die broederskap van die mens kon skep, sou dit ’n wonderwerk wees wat veel groter is as enige van dié wat in die Evangelies opgeteken is.”

  • Albert Einstein, ’n Duitse Jood en fisikus, het gesê: “Ek is ’n Jood, maar ek word gefassineer deur hierdie uitsonderlike man, die Nasarener.” Toe hy gevra word of hy Jesus as ’n geskiedkundige persoon beskou, het hy gesê: “Ongetwyfeld! Niemand kan die Evangelieverslae lees sonder om aan te voel dat Jesus werklik bestaan het nie. Sy persoonlikheid kom na vore in elke woord. Geen mite is so vol lewe nie.”

    “Niemand kan die Evangelieverslae lees sonder om aan te voel dat Jesus werklik bestaan het nie.”—Albert Einstein

WAT TOON DIE GESKIEDENIS?

Die breedvoerigste verslag van Jesus se lewe en bediening is opgeteken in die Bybelverslae wat bekend staan as die Evangelieverslae—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—wat vernoem is na die manne wat dit geskryf het. En ’n hele paar vroeë nie-Christelike bronne praat van hom.

  • TACITUS

    (ca. 56-120 HJ, of huidige jaartelling) Tacitus word beskou as een van die grootste Romeinse geskiedskrywers van die ou tyd. Sy Annals handel oor die Romeinse Ryk van 14 HJ tot 68 HJ. (Jesus het in 33 HJ gesterf.) Tacitus het geskryf dat ’n groot brand Rome in 64 HJ verwoes het en dat mense gedink het dat keiser Nero daarvoor verantwoordelik was. Maar Tacitus het geskryf dat Nero die Christene beskuldig het in ’n poging “om die gerug stop te sit”. Toe het Tacitus gesê: “Christus, by wie die naam [Christen] sy oorsprong het, het tydens die bewind van Tiberius die doodstraf ondergaan nadat hy deur die stadhouer Pontius Pilatus gevonnis is.”—Annals, XV, 44.

  • SUETONIUS

    (ca. 69–ná 122 HJ) Hierdie Romeinse geskiedskrywer het gebeure in sy Lives of the Caesars opgeteken wat plaasgevind het gedurende die tydperke toe die eerste 11 Romeinse keisers regeer het. Die gedeelte oor Claudius verwys na die onrus onder die Jode in Rome wat waarskynlik veroorsaak is deur geskille oor Jesus (Handelinge 18:2). Suetonius het geskryf: “Aangesien die Jode voortdurend op aanstigting van Chrestus [Christus] oproerigheid veroorsaak het, het hy [Claudius] hulle uit Rome verdryf.” (The Deified Claudius, XXV, 4) Al het Suetonius Jesus verkeerdelik daarvan beskuldig dat hy oproerigheid veroorsaak het, het hy nie aan sy bestaan getwyfel nie.

  • PLINIUS DIE JONGERE

    (ca. 61-113 HJ) Hierdie Romeinse skrywer en administrateur in Bitinië (vandag Turkye) het aan die Romeinse keiser Trajanus geskryf oor hoe hy die Christene in daardie provinsie moet hanteer. Plinius het gesê dat hy Christene probeer dwing het om hulle geloof te versaak en dat enigiemand wat geweier het, tereggestel is. Hy het verduidelik: “Ek het dit goedgedink om diegene vry te laat wat . . . ’n smeekbede tot die [valse] Gode agter my aan gesê het en wat u beeld, met wyn en wierook, vereer het . . . en wat Christus uiteindelik vervloek het.” —Pliny—Letters, Book X, XCVI.

  • FLAVIUS JOSEFUS

    (ca. 37-100 HJ) Hierdie Joodse priester en geskiedskrywer sê dat Annas, ’n Joodse hoëpriester wat steeds politieke invloed gehad het, “die regters van die Sanhedrin [die Joodse Hoë Raad] byeengeroep het en ’n man voor hulle gebring het met die naam Jakobus, die broer van Jesus wat die Christus genoem is”.—Jewish Antiquities, XX, 200.

  • DIE TALMOED

    Hierdie versameling Joodse rabbynse geskrifte, wat uit die derde tot die sesde eeu HJ dateer, toon dat selfs Jesus se vyande sy bestaan bevestig het. Een gedeelte sê dat “Yeshu [Jesus] die Nasarener op die Pasga gehang is”, wat geskiedkundig korrek is (Babiloniese Talmoed, Sanhedrin 43a, Munich Codex; sien Johannes 19:14-16). ’n Ander gedeelte sê: “Mag ons nooit ’n seun of ’n student voortbring wat homself in die openbaar so skandelik gedra soos die Nasarener nie”—’n titel wat dikwels na Jesus verwys.—Babiloniese Talmoed, Berakoth 17b, voetnoot, Munich Codex; sien Lukas 18:37.

BEWYSE UIT DIE BYBEL

Die Evangelieverslae bevat ’n breedvoerige verslag van Jesus se lewe en bediening en dit sluit spesifieke besonderhede in oor mense, plekke en tye—die kenmerke van betroubare geskiedenis. ’n Voorbeeld word gevind in Lukas 3:1, 2, wat ons help om die presiese datum vas te stel waarop ’n man met die naam Johannes die Doper, ’n voorloper van Jesus, met sy werk begin het.

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer.”—2 Timoteus 3:16

Lukas het geskryf: “In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius, toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea, maar sy broer Filippus distriksheerser van die land Iturea en Tragonitis, en Lisanias distriksheerser van Abilene, in die dae van hoofpriester Annas en van Kajafas, het God se verklaring in die wildernis tot Johannes, die seun van Sagaria, gekom.” Hierdie gedetailleerde, akkurate lys help ons om vas te stel dat ‘God se verklaring tot Johannes gekom het’ in die jaar 29 HJ.

Die sewe openbare figure wat Lukas noem, is welbekend aan geskiedkundiges. Sekere kritici het egter ’n tyd lank getwyfel of Pontius Pilatus en Lisanias werklik bestaan het. Maar hulle het te gou gepraat. Eertydse inskripsies is ontdek wat die name van daardie twee amptenare bevat, en dit bevestig die akkuraatheid van Lukas. *

WAAROM MAAK DIT SAAK?

Jesus het mense geleer oor die Koninkryk van God, ’n wêreldregering

Die vraag oor Jesus se bestaan maak saak omdat sy leringe saak maak. Byvoorbeeld, Jesus het mense geleer hoe om ’n gelukkige, bevredigende lewe te lei. * Hy het ook belowe dat daar ’n tyd sal wees wanneer die mensdom in ware vrede en veiligheid sal lewe, verenig onder een wêreldregering wat “die koninkryk van God” genoem word.—Lukas 4:43.

Die term “die koninkryk van God” is gepas omdat God sy soewereiniteit deur middel van hierdie wêreldregering oor die aarde sal uitoefen (Openbaring 11:15). Jesus het hierdie feit duidelik gemaak toe hy in sy modelgebed gesê het: “Ons Vader in die hemele, . . . laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied . . . op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Wat sal Koninkryksheerskappy vir die mensdom beteken? Dink aan die volgende:

  • Daar sal nie meer oorlog en burgertwis wees nie.Psalm 46:8-11.

  • Goddeloosheid sowel as gierigheid, korrupsie en goddelose mense sal vir ewig nie meer daar wees nie.Psalm 37:10, 11.

  • Die onderdane van die Koninkryk sal dit geniet om betekenisvolle en produktiewe werk te doen.Jesaja 65:21, 22.

  • Die aarde sal ten volle herstel van sy huidige siek toestand en oorgenoeg voedsel oplewer.Psalm 72:16; Jesaja 11:9.

Party mense dink dalk dat hierdie beloftes wensdenkery is. Maar is dit nie wensdenkery om op mensepogings te vertrou nie? Dink hieraan: Miljoene mense is vandag baie onseker oor die toekoms selfs ten spyte van die wonderlike vooruitgang in opvoeding, die wetenskap en tegnologie. En ons sien elke dag bewyse van ekonomiese, politieke en godsdiensonderdrukking, sowel as gierigheid en korrupsie. Ja, dit is duidelik dat menseheerskappy ’n mislukking is!—Prediker 8:9.

Die vraag oor Jesus se bestaan verdien beslis ons aandag. * Tweede Korintiërs 1:19, 20 sê: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van [Christus] Ja geword.”

^ par. 23 ’n Inskripsie is gevind wat die naam bevat van ’n viervors, of “distriksheerser”, Lisanias (Lukas 3:1). Hy het oor Abilene regeer gedurende die presiese tyd waarvan Lukas gepraat het.

^ par. 25 ’n Goeie voorbeeld van Jesus se leringe kan gevind word in Matteus hoofstuk 5 tot 7, wat dikwels die Bergpredikasie genoem word.

^ par. 32 Vir meer inligting oor Jesus en sy leringe gaan na www.ps8318.com/af en kyk onder BYBELLERINGE > ANTWOORDE OP BYBELVRAE.