Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Timgad—’n Eertydse stad onthul sy geheime

Timgad—’n Eertydse stad onthul sy geheime

DIE dapper ontdekkingsreisiger kon sy oë nie glo nie. Daar, half begrawe onder die sand van die Algeriese woestyn, het ’n Romeinse triomfboog gestaan! Toe die Skotsman James Bruce in 1765 hierdie ontdekking gedoen het, het hy nie besef dat hy eintlik op die ruïnes van die grootste Romeinse nedersetting staan wat nog ooit in Noord-Afrika gebou is nie—die eertydse stad Thamugadi, wat nou Timgad genoem word.

Meer as ’n eeu later, in 1881, het Franse argeoloë die goed bewaarde oorblyfsels van Timgad begin opgrawe. Hulle het tot die slotsom gekom dat die stad se bewoners ’n baie gerieflike en luukse lewenstyl geniet het, ondanks die dorre en onvriendelike omgewing. Maar wat het die Romeine beweeg om ’n welvarende kolonie op so ’n plek te vestig? En watter lesse kan ons by hierdie eertydse stad en sy inwoners leer?

’N VERSKUILDE POLITIEKE DOEL

Toe die Romeine hulle heerskappy in die eerste eeu VHJ oor Noord-Afrika uitgebrei het, het hulle hewige teenstand van party nomadiese stamme teëgekom. Hoe sou die Romeine vrede met die plaaslike mense bewerkstellig? Soldate van die Derde Legioen van Augustus het eers ’n klomp versterkte kampe en wagposte gebou in die ontsaglike bergstreek van wat vandag Noord-Algerië is. Later het hulle die stad Timgad gebou, maar met ’n heeltemal ander doel.

Die Romeine het Timgad amptelik vir afgetrede veterane gestig, maar in werklikheid het hulle die stad gebou om die weerstand van die plaaslike stamme af te breek. Hulle plan was suksesvol. Die gerieflike lewenswyse in Timgad het gou vir die plaaslike mense wat hulle handelsware in die stad kom verkoop het, aanloklik geword. In die hoop om in Timgad aanvaar te word, waar slegs Romeinse burgers toegelaat is om te woon, het baie van die plaaslike mense gewillig vir ’n termyn van 25 jaar by die Romeinse Legioen aangesluit om vir hulle en hulle seuns Romeinse burgerskap te verkry.

Party Afrikane was nie tevrede met blote Romeinse burgerskap nie en het uiteindelik vername posisies in Timgad of ander koloniale stede verkry. Die Romeine se subtiele plan om die plaaslike mense te assimileer, was so suksesvol dat Timgad net ’n halfeeu ná sy stigting hoofsaaklik deur Noord-Afrikane bewoon is.

HOE ROME HARTE VERLEI HET

Markplein met elegante kolonnades

Hoe het die Romeine dit reggekry om die harte van die inheemse mense so vinnig te verlei? Om maar een ding te noem, hulle het gelykheid onder burgers bevorder—’n beginsel wat deur die Romeinse staatsman Cicero voorgestaan is. Die land is gelykop verdeel onder Romeinse veterane en burgers van Afrika-afkoms. Die stad is sorgvuldig uitgelê, met woonblokke van 20 meter by 20 meter wat deur smal strate geskei is. Hierdie gelyke en ordelike reëling was ongetwyfeld baie aanloklik vir die inwoners.

Soos in baie Romeinse stede, kon inwoners op besige markdae op die openbare plein bymekaarkom om die jongste nuus te hoor of speletjies te speel. Bewoners van die nabygeleë dor bergstreek kon hulle ongetwyfeld voorstel hoe hulle op ’n warm en droë dag in die skadu van kolonnades stap of in een van die talle gratis openbare baddens ontspan, met die rustige klank van water in die agtergrond. Hulle kon waarskynlik in hulle verbeelding sien hoe hulle rondom verfrissende waterfonteine met vriende sit en gesels. Dit alles moes vir hulle soos ’n droom gelyk het.

’n Grafsteen met ’n triade van gode

Die opelugteater het ook ’n sleutelrol daarin gespeel om die harte van die mense te verlei. Dit het sitplek vir meer as 3 500 mense gehad en was dikwels vol luidrugtige skares uit Timgad en naburige dorpe. Op die verhoog het akteurs die gehoor vertroud gemaak met Rome se wellustige vermaak deur middel van toneelstukke wat dikwels onsedelikheid of geweld bevat het.

Rome se godsdiens het ook ’n rol gespeel. Die vloere en mure van badhuise was ryklik versier met kleurvolle mosaïektonele uit heidense mitologie. Aangesien dit ’n belangrike deel van die daaglikse lewe was om te bad, het die inwoners geleidelik vertroud geraak met die Romeinse gode en godsdiens. Die poging om die Afrikane in die Romeinse kultuur te assimileer, was so doeltreffend dat grafstene dikwels met ’n triade van die plaaslike sowel as die Romeinse gode versier is.

DIE PRAGTIGE STAD VERSINK IN DIE VERGETELHEID

Nadat keiser Trajanus die stad in 100 HJ gestig het, het die Romeine die verbouing van graan, olyfolie en wyn deur die hele Noord-Afrika bevorder. Die streek het gou Rome se vernaamste voorsiener van hierdie noodsaaklike produkte geword. Soos ander koloniale stede, het Timgad onder Romeinse heerskappy gefloreer. Mettertyd het die bevolking van Timgad toegeneem, en die stad het tot ver buite sy versterkte mure uitgebrei.

Die stadsbewoners en grondeienaars het ryk geword danksy die handel met Rome, maar die plaaslike boere het min voordeel hieruit getrek. In die derde eeu HJ het maatskaplike onregte en buitensporige belasting aanleiding gegee tot opstande onder kleinboere. Party van hulle, wat die Katolieke geloof aangeneem het, het by die Donatiste aangesluit—’n groep verklaarde Christene wat teen verdorwenheid in die Katolieke Kerk in opstand gekom het.—Sien die venster “ Die Donatiste—Nie ’n ‘suiwer kerk’ nie”.

Ná eeue van godsdienskonflikte, burgeroorloë en invalle van barbare het die Romeinse beskawing sy houvas op Noord-Afrika verloor. Teen die sesde eeu HJ is Timgad heeltemal deur plaaslike Arabiese stamme afgebrand en het dit uiteindelik vir meer as 1 000 jaar in die vergetelheid versink.

“DIS DIE LEWE!”

Latynse inskripsie op die openbare plein, wat sê: “Jag, bad, speel, lag —dis die lewe!”

Argeoloë wat Timgad se oorblyfsels opgegrawe het, was geamuseerd oor ’n Latynse inskripsie wat op die openbare plein gevind is. Dit sê: “Jag, bad, speel, lag—dis die lewe!” ’n Franse geskiedkundige het gesê dat dit “’n filosofie weerspieël wat miskien ’n gebrek aan ambisie openbaar, maar wat party ongetwyfeld as die geheim van wysheid sal beskou”.

Die Romeine het in werklikheid reeds lank so ’n lewenswyse nagejaag. Die eerste-eeuse Christenapostel Paulus het melding gemaak van mense wie se lewensfilosofie was: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.” Hoewel die Romeine godsdienstig was, het hulle vir genot gelewe, sonder om oor die uiteindelike betekenis en doel van die lewe te dink. Paulus het sy mede-Christene gewaarsku om op hulle hoede te wees vir sulke mense toe hy gesê het: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:32, 33.

Hoewel die mense van Timgad sowat 1 500 jaar gelede gelewe het, het mense se lewensbeskouing nie veel verander nie. Baie mense lewe vandag net vir die oomblik. Vir hulle maak die Romeine se lewensbeskouing heeltemal sin, ongeag die gevolge. Die Bybel bevat egter hierdie bondige en realistiese verklaring: “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander.” Dit spoor ons dus aan om ‘die wêreld nie ten volle te gebruik nie’.—1 Korintiërs 7:31.

Die ruïnes van Timgad lewer bewys van die feit dat die geheim tot ’n gelukkige en sinvolle lewe nie lê in die navolging van daardie inskripsie wat lank onder die sand van Noord-Afrika begrawe was nie. Dit lê eerder in die Bybel se wyse woorde: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.