Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Surabaya-gemeente, 1954

INDONESIË

Gileadsendelinge kom in Indonesië aan

Gileadsendelinge kom in Indonesië aan

In Julie 1951 het die klein gemeente in Djakarta bymekaargekom om Peter Vanderhaegen te verwelkom, die eerste Gileadopgeleide sendeling wat na Indonesië gekom het. Teen die einde van die jaar het nog 13 sendelinge daar aangekom van Australië, Duitsland en Nederland, wat die aantal verkondigers in die land amper verdubbel het.

“Ek het my voorgestel hoe ek gebare gebruik om met mense te kommunikeer terwyl ek van huis tot huis preek”, vertel Fredrika Renskers, ’n Nederlandse sendeling. “Maar aangesien soveel mense Nederlands gepraat het, het ek aan die begin meestal in Nederlands gepreek.” Ronald Jacka, van Australië, het gesê: “Party van ons het ’n getuieniskaart gebruik waarop daar ’n kort gedrukte aanbieding in Indonesies was. Ek het elke keer na die kaart gekyk voordat ek aan ’n deur geklop het en die woorde uit my kop probeer opsê.”

Danksy die sendelinge se harde werk het die aantal verkondigers in slegs een jaar van 34 tot 91 toegeneem. Op 1 September 1951 is ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in André Elias se huis in Sentraal-Djakarta gestig. Ronald Jacka is as die takkneg aangestel.

Die werk begin in ander gebiede

In November 1951 is Peter Vanderhaegen na Manado, Noord-Sulawesi, gestuur, waar Theo Ratu en sy vrou ’n groep begin het. Die meeste plaaslike mense was verklaarde Christene en het groot respek vir God se Woord getoon. Baie huisbewoners het die Getuies ingenooi en hulle gevra om Bybelleringe te verduidelik. Hulle het dikwels met groepe van tien mense gepraat. Ná ’n kwartier was daar sowat 50 mense. Binne ’n uur moes hulle buite gaan staan omdat tot 200 mense gekom het om na hulle te luister.

Vroeg in 1952 het Albert en Jean Maltby ’n sendinghuis gestig in Surabaya, Oos-Java, Indonesië se tweede grootste stad. Daar het ses sendelingsusters by hulle aangesluit—Gertrud Ott, Fredrika Renskers, Susie en Marian Stoove, Eveline Platte en Mimi Harp. “Die meeste plaaslike mense was gematigde Moslems en was baie vriendelik”, sê Fredrika Renskers. “Dit was asof baie mense vir die waarheid gewag het, en daarom was dit maklik om Bybelstudies te begin. Binne drie jaar het die Surabaya-gemeente 75 verkondigers gehad.”

Sendelinge in Djakarta

Omtrent hierdie tyd het ’n Moslem-man met die naam Azis van Padang, Wes-Soematra, aan die takkantoor geskryf en vir geestelike hulp gevra. Azis het gedurende die 1930’s saam met Australiese pioniers gestudeer, maar het kontak met hulle verloor toe Japan die land binnegeval het. Hy het op ’n boekie afgekom wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Hy het geskryf: “Toe ek die adres in Djakarta op die boekie sien, het ek weer moed geskep!” Die takkantoor het die kringopsiener, Frans van Vliet, na Padang gestuur. Hy het gehoor dat Azis gepraat het met sy buurman, Nazar Ris, ’n staatsamptenaar wat geestelik honger was. Al twee mans en hulle gesinne het die waarheid aangeneem. Broer Azis het ’n getroue ouer man geword. Nazar Ris het ’n spesiale pionier geword, en baie van sy kinders is vandag ywerige Getuies.

Frans van Vliet en sy jonger suster Nel

Kort daarna het Frans van Vliet ’n onbedrywige Nederlandse broer besoek wat besig was om ’n oorlogbeskadigde olieraffinadery in Balikpapan, Oos-Kalimantan, te herbou. Frans het saam met die broer velddiens gedoen en hom aangespoor om met ’n hele paar belangstellendes te studeer. Voordat die broer na Nederland teruggekeer het, het hy ’n klein groep in Balikpapan begin.

Later het ’n pasgedoopte suster, Titi Koetin, na Banjarmasin, Suid-Kalimantan, getrek. Titi het vir haar familielede in die Dayak-gemeenskap gepreek en baie van hulle gehelp om die waarheid te leer. Party van hierdie nuwelinge het na hulle dorpies diep in Kalimantan teruggekeer en groepe begin wat later sterk gemeentes geword het.

Die vervaardiging van Indonesiese lektuur

Aangesien die predikingswerk vinnig gevorder het, het die broers selfs meer lektuur in Indonesies nodig gehad. In 1951 is die boek “Laat God waaragtig wees” in Indonesies vertaal, maar die owerheid het die Indonesiese spelling­stelsel verander, wat beteken het dat die takkantoor die vertaling moes hersien. * Toe die boek uiteindelik vrygestel is, het dit groot belangstelling onder Indonesiese lesers gewek.

In 1953 het die takkantoor 250 eksemplare van Die Wagtoring in Indonesies gedruk—die eerste plaaslike uitgawe in 12 jaar. Die gemimeografeerde tydskrif met 12 bladsye het aanvanklik net studieartikels bevat. Drie jaar later is dit na 16 bladsye verander en het ’n kommersiële maatskappy 10 000 eksemplare per maand gedruk.

Die maandelikse uitgawe van die Ontwaak! in Indonesies het in 1957 verskyn. Kort voor lank is 10 000 eksemplare versprei. Omdat daar landwyd ’n tekort aan drukpapier was, moes die broers vir ’n papierlisensie aansoek doen. Die regeringsamptenaar wat hulle aansoek behartig het, het vir hulle gesê: “Ek beskou die Menara Pengawal (Die Wagtoring) as een van die beste tydskrifte in Indonesië en ek help graag met die papierlisensie vir julle nuwe tydskrif.”

^ par. 1 Sedert 1945 was daar twee groot hersienings van die Indonesiese spellingstelsel, hoofsaaklik om die Nederlandse spellingstelsel wat vroeër gebruik is, te vervang.