Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Israel: ’n Broer gebruik ’n tablet om God se Koninkryk te verkondig

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Asië en die Midde-Ooste

Asië en die Midde-Ooste
  • LANDE 49

  • BEVOLKING 4 409 131 383

  • VERKONDIGERS 718 716

  • BYBELSTUDIES 766 364

Honderd uur vir honderd jaar

In ’n Asiatiese land het ’n bekende aktrise en model ’n Bybelstudie aanvaar. Sy het onmiddellik begin toepas wat sy geleer het en van al haar spiritistiese boeke en Boeddhistiese beelde ontslae geraak.

Een van die vrou se vriendinne het by haar gepleit en gesê: “Waarom los jy nie jou studie vir net drie jaar en konsentreer jy nie eerder op jou loopbaan nie? Dan kan jy weer met jou studie voortgaan.”

Die vrou het geantwoord: “Ek het 24 jaar gewag om Jehovah te vind. Waarom sal ek nog drie jaar wag om oor hom te leer?”

Die einste week dat sy by die Teokratiese Bedieningskool sou aansluit, het ’n rolprentmaatskappy haar gekontak. Hulle het haar ’n winsgewende vier jaar lange kontrak aangebied op voorwaarde dat sy enige rol moes aanvaar wat hulle vir haar gee. Sy het die aanbod van die hand gewys. In Mei 2014 het sy ’n ongedoopte verkondiger geword en sy het besluit dat sy in Augustus 100 uur in die bediening sou deurbring. Toe sy gevra word waarom sy dit doen, het sy gesê: “Ek wil die 100 jaar vier wat Jesus al regeer deur ’n uur velddiens te doen vir elke jaar!” Sy het haar doelwit bereik. Sy is in Januarie 2015 gedoop en dien nou as ’n hulppionier.

Ons maak die beste van ’n aand in die tronk

In Sri Lanka het vier susters per bus gereis om te gaan preek in ’n ontoegekende gebied wat hoofsaaklik Boeddhisties was. Op die tweede dag in die gebied het ’n monnik en ’n taxibestuurder die susters skerp aangespreek. Kort voor lank het ’n oproerige skare van omtrent 30 mense hulle omring. Die polisie het daar aangekom, die susters na die polisiestasie geneem en hulle oornag in die tronkselle aangehou, al was daar geen kriminele klag teen hulle gelê nie. Hulle is saam met geharde kriminele opgesluit en is uitgeskel en gevloek, maar tog het hulle teenwoordigheid in die tronk ’n geleentheid geskep om ’n getuienis te lewer. Een van die susters het gesê: “Ek was saam met moordenaars opgesluit, maar ek kon met hulle oor die waarheid praat. Hulle was verbaas dat ek daar was, en hulle het baie vrae oor my geloof gehad. Iemand het my selfs gevra: ‘Waarom is jy so gelukkig?’”

Sri Lanka: Vier susters het per bus gereis om in ’n afgesonderde gebied te gaan preek

Die Hooggeregshof van Sri Lanka het ingestem om ’n grondregtelike saak aan te hoor wat ons teen die polisie ingedien het omdat hulle persone sonder ’n geldige aanklag aangehou het. Die saak is nog hangende.

Hulp vir ’n bedlêende vrou

Mitsjiko, ’n pioniersuster in Japan, het ’n studie in gebaretaal gehou met ’n bejaarde vrou in ’n hospitaal. Die suster het die personeel gevra of daar enige ander pasiënte is met wie sy kon praat. Toe het Mitsjiko vir Kazoemi ontmoet, wat kon hoor maar nie kon praat nie. Kazoemi was bedlêend weens ’n motorongeluk toe sy 23 was en kon nie kos insluk of selfs water drink nie. Sy het baie vrae gehad en het geredelik ’n Bybelstudie aanvaar.

Japan: Kazoemi geniet dit om hartlike, opbouende briewe te skryf

Mitsjiko het die vrae gevra, en Kazoemi het met haar hande na die antwoorde in die paragraaf gewys of dit neergeskryf. Toe Kazoemi ’n selfoon kry, kon Mitsjiko elke oggend die dagteks met haar bespreek. Al het Kazoemi fisies verswak, het sy aangehou om geestelik te groei en het sy gesê dat sy een van Jehovah se Getuies wil word. Kazoemi het 13 jaar lank gestudeer en het op die ouderdom van 61 uiteindelik ’n ongedoopte verkondiger geword.

Omdat Kazoemi bedlêend is, het die gemeente gereël dat sy na al die vergaderinge en byeenkomste kan luister. Verskeie susters in die gemeente lees Kazoemi se kommentare by die vergaderinge voor.

Kazoemi skryf hartlike en opbouende persoonlike briewe vir elke Bybelstudent wat die vergaderinge bywoon. Sy getuig vir die hospitaalpersoneel en vir diegene wat haar besoek. Kazoemi sê vir hulle: “As jy die Bybel studeer, sal jy gelukkig wees.”

’n Monnik leer die waarheid

In ’n land in Suidoos-Asië het ’n suster na ’n brilmaker by ’n hospitaal gegaan, waar sy ’n monnik ontmoet het. Sy het hom gevra: “Wil jy graag volmaakte gesondheid hê en vir ewig op ’n pragtige plek lewe?” ’n Vriendelike bespreking het gevolg en sy het hom die Listen to God-brosjure gegee. Die monnik het haar sy telefoonnommer gegee, en sy het dit vir ’n broer in die gemeente gegee. Kort daarna het die broer die monnik gekontak en hom genooi om die spesiale toespraak by te woon. Die monnik het die vergadering terdeë geniet, veral toe hulle die Koninkryksliedere gesing het, en hy was baie beïndruk dat almal hom so hartlik verwelkom het.

Toe die monnik gevra het of die Getuies godsdiensuniversiteite of kweekskole het, het die broer verduidelik dat ons persoonlike Bybelstudiekursusse hou en het hy aangebied om met hom te studeer. Teen die volgende week het die monnik hoofstuk 1 van die boek Wat leer die Bybel werklik? klaargemaak. Hy het sy studie voortgesit, die vergaderinge begin bygewoon en ook antwoorde tydens die Wagtoring-studie gegee.

Toe die monnik ’n kringbyeenkoms bygewoon het, het die takverteenwoordiger hom genooi om Bethel te besoek. Die volgende week het die monnik sowat tien ure na Bethel gereis, waar hy hartlik verwelkom is. Teen die einde van Februarie 2015 het hy alle bande met die monnikskap verbreek en hy geniet dit steeds om die Bybel te studeer en aan Christelike vergaderinge deel te neem.

Verlore, maar weer gevind

Pioniers is onlangs gestuur na die noordooste van Indië, waar die goeie nuus baie jare lank nie verkondig is nie. Die pioniers het baie belangstelling gevind en het na ’n geskikte plek gesoek om vergaderinge te hou. Op pad na ’n Bybelstudie het hulle ’n gebou in aanbou gesien en daaraan gedink om navraag hieroor te doen. Terwyl hulle ’n entjie verder gestap het, het hulle besluit om om te draai. Agter die gebou het hulle ’n bejaarde vrou ontmoet en vir haar gesê dat hulle Jehovah se Getuies is. Haar gesig het verhelder. “Ek is ook een van Jehovah se Getuies”, het sy gesê en sy het hulle hartlik in haar huis verwelkom. Sy het hulle haar versameling lektuur uit die 1970’s en 1980’s gewys. Sy het 30 jaar gelede saam met pioniers gestudeer en het ’n paar vergaderinge bygewoon ten spyte van teenstand van haar man. Sy was oortuig daarvan dat sy die waarheid gevind het, maar het later kontak verloor met die organisasie toe die pioniers die gebied verlaat het. Al haar kinders het by verskillende kerke aangesluit, maar sy het geweier om na enige ander kerk te gaan.

Indië: ’n Belangstellende vrou wys haar lektuur uit die 1970’s en 1980’s

Die vrou se kinders het onlangs begin om druk op haar te plaas om by die Katolieke Kerk aan te sluit sodat sy ’n Katolieke begrafnis kon hê. Haar suster het selfs daarop aangedring om haar na die kerk toe te neem om aan te sluit, maar op pad daarheen was daar ’n verkeersknoop, en hulle moes omdraai. Haar suster het gesê dat hulle die volgende dag sou teruggaan, maar sy het siek geword. Op hierdie einste middag het die pioniers die belangstellende vrou besoek! Sy studeer nou weer die Bybel, woon die vergaderinge by en spoor haar kinders en kleinkinders aan om ook te studeer.